Ware Broederliefde

9 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Broederliefde

1 Tessalonisense 4:9-12

VIDEO | OUDIO

As ons gelowiges maar net bymekaar kan staan en in mekaar glo, sal dit baie beter gaan met die kerk! Ons is immers bloedfamilie, gered deur dieselfde kosbare bloed van Jesus Christus, en kinders van God. Dus is ons broers en susters van mekaar. Paulus bepleit in vers 9 en 10 vir broederliefde. Ja, hy het gesien dat die gelowiges van Tessalonika mekaar wel liefhet, maar hy vra dat daardie liefdesband nog hegter gebind word: “Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen” (v. 10).

Wat beteken so ‘n broederliefde? Dit is die soort liefde wat jou bereid maak om alles op te offer ter wille van jou mede-gelowiges. Dit is ‘n liefde wat absoluut teen die grein van ‘n mens se natuurlike geaardheid ingaan. Hierdie liefde vra byvoorbeeld van jou om medegelowiges te aanvaar net soos hulle is, met gebreke en al. Ek en jy durf nie ‘n mede-gelowige verwerp bloot omdat hy of sy in sonde verval het nie. Dit is juis dán wat hulle ons die nodigste het! Ek durf my nie bo ‘n ander gelowige verhef en sê dat ek so hoogheilig is nie. Onthou: enigeen kan struikel. Die afgelope paar jaar het ons met groot skok verneem van groot, gerespekteerde evangeliste wat hard geval het. Dieselfde kan met jou en my gebeur! Niemand is onfeilbaar nie, en daar is nie ‘n enkele mens sonder sonde nie.

Die feit is dat die Here se genade oor my en jou so onbegryplik groot is dat Hy bereid was om ál ons sondes te vergewe, selfs die sondes wat ons steeds elke dag doen. Die minste wat ons kan doen is om ook ons medegelowiges te vergewe waar hulle gestruikel het en om hulle so onvoorwaardelik lief te hê. Dit is baie beslis nie maklik nie! As ons dit egter regkry, dan verkondig ons lewensvrede en harmonie. Maar hierdie liefde moet eintlik baie verder gaan: dit moet ‘n praktiese, opofferende uitleef wees van dit wat ons verkondig. Dit help nie dat ek maar net vir iemand sê: “Ek is lief vir jou” nie! Liefde is om daadwerklik, fisies en prakties iets te doen vir ‘n ander. Wanneer ons só ons liefde vir mekaar prakties uitleef, dan straal ons in werklikheid God se liefde uit, sodat die wêreld Sy wonderbare liefde in ons weerkaats kan sien. Dan het ons ons doel bereik!

Daar is tóg ‘n verskil tussen die liefdesgebod, om jou naaste lief te hê en hierdie broederliefde waarvan Paulus praat en wat Jesus ook vir Sy dissipels gegee het kort voor Sy kruisiging. Kom ek verduidelik: wanneer ek ‘n vreemdeling in die straat raakloop, sal ek hom dalk vriendelik groet. As dit egter ‘n familielid is, sal ek hom omhels en soen. Daar is ‘n spesiale liefdesband. Omdat gelowiges “bloedfamilie” is, behoort ons dieselfde soort liefde teenoor mekaar uit te leef. Hierdie liefde behoort te strek regoor alle denominasiegrense heen, want ons is almal een in Christus.

In vers 11 en 12 gee Jesus ons, by monde van Paulus opdragte vir ons instelling teenoor ons werk en geldsake. Die Tessalonisense het ‘n wederkoms-beheptheid gehad. Hulle het verstaan dat Jesus se wederkoms enige dag kon kom, en dat hulle daarvoor moes sit en wag. ‘n Wederkoms-verwagting moet vir jou ‘n adrenalien-inspuiting wees sodat jy jou moue oprol en harder werk. Hulle siening was egter: “Jesus kom binnekort om al ons probleme op te los. Waarom moet ek dan nou myself vermoei?” Hierdie mense was nog baie jonk in die geloof, en Paulus praat saggies en baie diplomaties met hulle as hy hulle aanpor om skouer aan die wiel te sit. Die Tessalonisense het verwag die wederkoms gaan enige dag plaasvind en het alles gelos en na die hemele gesit en kyk. Opgehou werk en dus nie verdien nie en kon nie vir hulle gesinne voorsien nie - ander mense moes hulle versorg. Paulus se vermaning het blykbaar nie veel gehelp nie. In sy volgende brief praat hy egter hard as hy sê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie!” (2 Tess 3). Dus: Tot die Here kom, gaan rustig aan met jou lewe en moenie jou plig (werk/familie) versaak nie.

Die oproep om rustig te lewe, is nie maar sommer so in die algemeen nie, maar dit geld vir die werksituasie. Dit beteken dat hulle nie heethoofde moet wees nie, maar dit ‘n saak van erns en eer moet maak om rustig te wees in jou werk. En natuurlik geld presies dieselfde vandag vir my en jou ook.

Die tweede oproep sluit aan by die eerste, en beteken letterlik dat jy nie ‘n wysneus moet wees wat vir ander wil voorskryf wat hulle moet doen nie, en dit terwyl jy moontlik sélf in ‘n leunstoel sit! Doen jy jóú werk, daar waar God jou geplaas het.

Die derde oproep is om finansieel onafhanklik te wees. Moenie ‘n leeglêer wees nie! Moenie op iemand anders steun vir lewensonderhoud nie. Dit beteken ook dat jy jou geldsake slim moet hanteer en nie dom dinge aanvang nie.

Die feit is, dat as jy hierdie drie opdragte uitvoer, dan dwing jou eerbare lewenswyse ander se agting af en jy word ‘n spieël waarin die wêreld God kan sien.

Gebed:

Here, kweek asseblief by my ‘n ware broederliefde vir my medegelowiges, ‘n liefde wat onvoorwaardelik vergewe en waarlik omgee!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026