Inleiding tot Filippense
Wat maak jou waarlik gelukkig? Wat maak dat jy wil bokspring, lag en huil van blydskap? Wanneer daardie eerste welkome reëndruppels neerplons op die dorre aarde na 'n uitmergelende droogte, dan is dit nie net die boer wat dans in die reën nie. Alles is uitbundig, die bokkies, die kallers wat uitbundig rondhuppel. Dit is kompleet asof die veld handeklap! 'n Meisie wat so pas verloof geraak het aan die man van haar drome, raak skoon laf van blydskap en al haar vriendinne giggel en skerts en spring op en af.......
Geluk beteken vir verskillende mense verskillende dinge. Is dit ‘n braaivleisaand saam met jou pêlle waar jy uitbundig kuier tot dagbreek toe? Of eerder 'n nag in die bos langs 'n kampvuurtjie, terwyl jy opgewonde luister na die leeu wat sommer baie naby brul? Só 'n ondervinding maak my sielsgelukkig! Vir iemand anders weer is dit die opwinding van ‘n nuwe motor, veral as dit boonop ‘n brullende vier-by-vier is met al die nuutste meghêftertjies aan wat jou van die Kaap tot in Kaïro kan vat sonder om ‘n enkele ompad te ry!
Geluk hang af van die dinge om jou en van jou omstandighede. Wanneer daar egter die dag ‘n krisis kom, sit jy in sak en as. As jou span in die doodsnikke van die spel die wedstryd verloor, gaan jy druipstert huistoe en blameer die skeidsregter! As die bank jou vier-by-vier terugvat omdat jy hom nie meer kan betaal nie, dan voel dit soos die einde van die wêreld. As jou vriende jou “drop” met jou spesiale geleentheid terwyl jy sovéél moeite gedoen het, dan sit jy op moedverloor se vlakte.
Daar is 'n baie groot verskil tussen geluk en blydskap. Geluk is ’n oppervlakkige emosie wat deur omstandighede bepaal word. Ware blydskap het egter diepte met wortels wat strek tot by Timbaktoe. As Paulus in Filippense 4:4 sê: “Wees altyd bly in die Here,” beteken dit dat daardie stralende blydskap waarvan hy hier praat, gladnie afhanklik is van enige omstandighede nie.
Die groot verskil is dat blydskap nie gebaseer is op verganklike, wankelende wêreldse dinge nie maar op God se onveranderlike, onverganklike liefde. Die fondamente van blydskap is gelê op die wete dat God daar is vir ons, selfs deur die grootste krisisse in jou lewe. Dis dié soort blydskap waarvan Habakuk skryf wanneer hy dit uitbasuin dat, al loop álles in die lewe vir hom verkeerd, hy nogtans in die Here sal jubel!
Paulus het hierdie brief van blydskap geskryf aan ‘n gemeente in die stad Filippi in Masedonië. Hulle het ‘n besonderse plekkie gehad in Paulus se hart. In Filippense 4:1 sê hy vir die gemeente: “Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.”
As daar darem nou één man in die lewe was wat oorgenoeg rede gehad het om NIE gelukkig te voel nie, dan was dit sékerlik Paulus. Elke soort terugslag waarvan jy kan droom, het hom getref! Dit het begin toe hy die dag tot bekering gekom het en al sy ou vriende hom verwerp het. Boonop wou die gelowiges óók niks met hom te doen hê nie want hulle onthou toe nog baie goed hoe hy hulle vervolg het! Op sy sendingreise was hy talle male uit die sinagoge gesmyt. Soos ‘n misdadiger is hy dikwels uit stede gejaag en een klomp het hom selfs met klippe “doodgegooi”. Sy skip het ‘n paar keer onder hom gesink en hy het baie jare in die tronk deurgebring. Terwyl Paulus hierdie brief geskryf het, was hy juis in die tronk in Rome.
Ten spyte van al hierdie dinge borrel Paulus letterlik oor van blydskap. Selfs toe hy en Silas stukkend geslaan en vasgeketting in die stinkende tronk gelê het in hierdie einste stad Filippi, het hulle vrolike lofliedere gesing eerder as om te kerm oor hulle haglike omstandighede!
Van Paulus kan ons uit hierdie borrelende brief leer dat jy ongeag jou omstandighede, jou steeds kan verbly in die Here. Jy kan leer dat geluk in jou lewe plek kan maak vir ware blydskap, want dit is onverganklik.
Paulus se verhouding met die gemeente in Filippi het begin toe hy in ‘n droom gesien het hoe iemand hom smeek om hulle te kom help in Masedonië. Hy het hom na Filippi gehaas en daar het Lidia onder sy prediking tot bekering gekom en die gemeente het rondom haar ontstaan. Dit was in dieselfde dorp waar hy en Silas toe in die tronk beland het. Lees gerus daardie opwindende verhaal van Handelinge 16 HIER, van die aardbewing en hoe die tronkbewaarder tot bekering gekom het!
Vandag kan ek en jy uit hierdie wonderlike brief van Paulus leer dat ons vrede en blydskap en volle gemoedsrus kan ervaar, wát ookal met ons gebeur. Dit is egter slegs moontlik as jy in ‘n persoonlike verhouding met Jesus staan en jy dus nie staatmaak op jou eie krag nie maar die krag wat die Heilige Gees jou gee. Ons leer dat ware blydskap nie omstandigheidsgebonde is nie, maar gegenereer word deur die onfeilbare liefde van Jesus.
Gebed:
Here, ek loof en dank U vanoggend dat U die blydskap in my lewe is!