Ware Blydskap

12 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Blydskap

Die Boek Filippense

Video - Oudio

Wat maak jou waarlik gelukkig, jou hart bokspring van blydskap? Daardie eerste welkome reëndruppels op die dorre aarde na 'n uitmergelende droogte? Dan is dit nie net die boer wat dans in die reën nie, almal is uitbundig, die bokkies, die kallers wat uitbundig rondhuppel. Dit is kompleet asof die veld handeklap! 'n Meisie wat so pas verloof geraak het aan die man van haar drome, raak skoon laf van blydskap, en al haar vriendinne giggel en skerts en spring op en af.

Geluk beteken vir verskillende mense verskillende dinge. Is dit ‘n braaivleisaand saam met jou pêlle waar jy uitbundig kuier tot dagbreek toe? Of eerder 'n nag in die bos langs 'n kampvuurtjie, terwyl jy opgewonde luister na die leeu wat sommer baie naby brul? Só 'n ondervinding maak my sielsgelukkig! Vir iemand anders weer is dit die opwinding van ‘n nuwe motor, veral as dit boonop ‘n brullende vier-by-vier is met al die nuutste meghêftertjies aan wat jou van die Kaap tot in Kaïro kan vat sonder om ‘n enkele ompad te ry.

Ons het 'n jaar beleef wat vir min mense werklik vreugde gebring het met Kovid 19 wat ons getref het. Die vrees om die virus op te doen en al die inperkings, sommige totaal onnodig. En die maskers wat ons versmoor! Dit beroof ons van ons lewensvreugde.

Geluk hang af van die dinge om jou en van jou omstandighede. Wanneer daar egter die dag ‘n krisis kom, sit jy in sak en as. As jou span in beseringstyd die wedstryd verloor, gaan jy druipstert huistoe en blameer die skeidsregter! As die bank jou vier-by-vier terugvat omdat jy hom nie meer kan betaal nie, dan voel dit soos die einde van die wêreld. As jou vriende jou “drop” met jou spesiale braaivleis, waar jy sovéél moeite gedoen het, sit jy op moedverloor se vlakte.

Daar is 'n baie groot verskil tussen geluk en blydskap. Geluk is ’n oppervlakkige ding wat deur omstandighede bepaal word, maar ware blydskap het diepte. Dit het wortels wat strek tot by Timbaktoe. As Paulus in Filippense 4:4 sê: “Wees altyd bly in die Here,” beteken dit dat daardie stralende blydskap waarvan hy hier praat, gladnie afhanklik is van enige omstandighede nie.

Die groot verskil is dat blydskap nie gebaseer is op verganklike, wankelende wêreldse dinge nie, maar op God se onveranderlike, onverganklike liefde. Die fondamente van blydskap is gelê op die wete dat God selfs deur die grootste krisisse in jou lewe daar is. Dis dié soort blydskap waarvan Habakuk skryf wanneer hy dit uitbasuin, dat al loop álles vir hom verkeerd, hy nogtans in die Here sal jubel!

As daar darem nou één man in die lewe was wat oorgenoeg rede gehad het om NIE gelukkig te voel nie, dan was dit sékerlik Paulus. Elke soort terugslag waarvan jy kan droom, het hom getref! Na sy bekering het al sy ou vriende hom verwerp. Selfs die gelowiges wou ook niks met hom te doen hê nie, want hulle onthou toe nog baie goed hoe hy hulle vervolg het. Op sy sendingreise is hy talle male uit die sinagoge gesmyt. Soos ‘n misdadiger is hy dikwels uit stede gejaag, en een klomp het hom selfs met klippe “doodgegooi”. Sy skip het ‘n paar keer onder hom gesink, en hy het baie jare in die tronk deurgebring. Terwyl Paulus hierdie brief geskryf het, was hy juis in die tronk in Rome.

Ten spyte van al hierdie dinge borrel Paulus letterlik oor van blydskap. Selfs toe hy en Silas stukkend geslaan en vasgeketting in die stinkende tronk lê in hierdie einste stad Filippi, sing hulle vrolike lofliedere eerder as om te kerm oor hulle haglike omstandighede.

Van Paulus kan ons uit hierdie borrelende brief leer dat jy ongeag jou omstandighede, jou steeds kan verbly in die Here. Jy kan leer dat geluk in jou lewe plek kan maak vir ware blydskap, want dit is onverganklik.

Paulus se verhouding met die gemeente in Filippi het begin toe hy in ‘n droom gesien het hoe iemand hom smeek om hulle te kom help in Masedonië. Hy het hom na Filippi gehaas, en daar het Lidia onder sy prediking tot bekering gekom, en die gemeente het rondom haar ontstaan. Dit was in dieselfde dorp waar hy en Silas toe in die tronk beland. Lees gerus daardie opwindende verhaal in Handelinge 16, van die aardbewing en hoe die tronkbewaarder tot bekering gekom het!

Vandag kan ek en jy uit hierdie wonderlike brief van Paulus leer dat ons vrede en blydskap en volle gemoedsrus kan ervaar, wát ookal met ons gebeur. Dit is egter slegs moontlik as jy in ‘n persoonlike verhouding met Jesus staan, en jy dus nie staatmaak op jou eie krag nie, maar die krag wat die Heilige Gees jou gee. Ons leer dat ware blydskap nie omstandigheidsgebonde is nie, maar gegenereer word deur die onfeilbare liefde van Jesus.

Gebed:

Here, ek loof en dank U vanoggend dat U die blydskap in my lewe is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026