Wanneer Kom Jesus?

24 August, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wanneer Kom Jesus?

Matteus 23:37-24:14

VIDEO | OUDIO

In Israel is daar al vir baie jare lank ‘n skaakmat-situasie. Die Jode wil bitter graag die tempel herbou. Vir enige Jood is dit sy grootste hartsbegeerte om die tempel op die tempelberg te sien pryk, sodat daar weer aanbid kan word. Daar is egter ’n baie groot haakplek om hierdie droom te bewaarheid, want op die plek waar die oorspronklike tempel gestaan het, staan daar nou ‘n reuse moskee en vir die Moslem is hierdie ‘n hoogheilige gebou. Hy sal eers gesloop moet word voordat die tempel gebou kan word. En as dit gebeur, sal dit ’n oorlog beteken wat alle vorige oorloë soos vulletjies laat lyk. Nou wat het dan van die tempel geword wat daar gestaan het? In die jaar 70nC. is die gebou totaal verwoes deur die Romeine.

Alles het begin by Jesus se profetiese rede. Aan die einde van hoofstuk 23 beskryf Matteus Jesus se woorde: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat.” Kort nadat Hy dit gesê het, gaan Jesus van die tempel af weg.

Die tempel was natuurlik oorspronklik deur Salomo gebou - ‘n indrukwekkende gebou wat mildelik versier was met Sederhout, Sipres, koper en goud. Met die val van Jerusalem tydens die ballingskap het die Babiloniërs die tempel verwoes en totaal afgebrand. Later is dit herbou onder leiding van Serubbábel, maar hierdie gebou was nie naastenby so mooi soos dié van Salomo nie. Baie jare later het Herodus die Grote die tempel stuk-vir-stuk afgebreek en herbou. Hierdie was waarlik een van sy mees manjifieke bouwerke. Dit was ‘n asemrowende gebou.

Terwyl Jesus en die dissipels van die tempel af wegstap, verwonder die manne hulle aan die verruklike bouwerk van die tempel, en dan sê Jesus ‘n ding wat hulle in hulle harte ruk: “Sien julle al hierdie geboue? Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.” Dalk het die manne gedink dat Hy dit “geestelik” bedoel. Dit kon tog nie moontlik wees nie? Die eerste ramp het, uit Joodse oogpunt die tempel getref slegs enkele dae later, toe die voorhangsel in die tempel van bo na onder skeur tydens die kruisiging! Vir Christene was hierdie egter nie 'n ramp nie, maar het dit vrye toegang tot God beteken!

42 Jaar later word Jerusalem aangeval deur die Romeine. Ongeveer 600'000 Jode sterf in die brutale aanval en selfs die tempel word afgebrand. In die hitte van die inferno smelt die goud wat mildelik in die bouwerk gebruik is en dit vloei tussen die krakies van klippe in die mure in. Natuurlik was dit baie kosbaar en die Romeine het letterlik elke klip afgebreek en omgekeer om die kosbare goue metaal in die hande te kry. En so word Jesus se profesie tot op die laaste stoffie waar. Vandag is daar géén teken dat daar ooit 'n tempel gestaan het nie. Van Salomo, Serubbábel en Herodus se asemrowende bouwerke het daar nie 'n enkele klip, geen enkele splintertjie sederhout of greintjie goud oorgebly nie!

Die manne stap na die olyfberg en daar gaan sit Jesus alleen met Sy dissipels. Hulle is verward oor al die uitsprake wat Jesus gemaak het, en die veroordelings. Wanneer gaan dit gebeur? Hoe sal hulle weet dat die einde gekom het? En wanneer gaan Jesus terugkom? Dan begin Jesus vir hulle vertel van die verskrikking van die eindtye: allerhande soorte rampe wat die aarde gaan tref, natuurrampe en verskriklike oorloë. Maar daar is nog meer: daar sal ‘n verskriklike vervolging van Christene wees. Baie gaan afvallig word en by baie gaan hulle liefde afkoel. Daar sal ook valse profete verskyn wat dwaalleringe verkondig. Maar deur dit alles sal die kerk steeds die evangelie verkondig, totdat dit dwarsoor die ganse aarde versprei het en niemand sal kan sê dat hy nie die evangelie gehoor het nie. Eers dán sal die einde aanbreek.

Wat wou Jesus eintlik vir hulle, en uiteraard ook vandag vir my en jou sê? Hulle moenie probeer sommetjies maak oor wanneer die einde gaan kom nie. Al die tekens wat Jesus hier noem het alreeds oor en oor deur die geskiedenis gebeur. Wanneer hierdie dinge egter plaasvind, moet ons weet dat die einde naderkruip. Hierdie dinge moet ons as gelowiges op ons tone hou sodat ons te alle tye gereed kan wees vir Jesus se wederkoms. Al hierdie tekens is vandag hier, nog méér intens as ooit deur die geskiedenis van die wêreld. Vandag het die laaste teken waarvan Jesus praat ook al waar geword, dat die evangelie elke volk en nasie bereik het. Nog nooit in die geskiedenis was ons so naby aan Jesus se wederkoms nie. Natuurlik mag ons nie mislei word of verskrik staan nie. Ons moet waaksaam wees, volhard en vasstaan in die liefde en geregtigheid. Alleen só sal ons gereed wees wanneer die einde kom. En die einde sal baie, báie onverwags aanbreek, wanneer absoluut niemand dit verwag nie.

Gebed:

Here, hou my elke oomblik van die dag op my tone, sodat ek gereed sal wees om U te ontmoet wanneer U onverwags kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026