Inleiding tot Maleagi
Voel jy soms moedeloos? Dalk bitter teneergedruk? Moontlik het iemand of iets jou teleurgestel. Of is jy ontnugter deur ‘n gerespekteerde volksleier wat óók maar voete van klei het of deur iemand wat jy nog altyd vertrou het? Moontlik voel jy net onvergenoegd oor die brandstofprys, lewenskoste – aag sommer alles! Of is jy miskien skepties oor wat die lewe jou kan bied?
Dan is dit dalk nét die tyd om die boek Maleagi te lees, want Maleagi is spesifiek geskryf vir mense wat ontnugter is oor dinge wat nie vir hulle uitgewerk het soos wat hulle dit graag sou wou hê nie. Dit is spesiaal vir mense wat moedeloos geraak het.
Dit is mos nou maar só dat dinge nie altyd gebeur soos wat jy dit voorsien nie. Jy sit salig in 'n werk waar dinge vir jou mooi loop en jy waarlik werksbevrediging het en dan kom die baas op 'n dag en bars die bom dat die maatskappy besig is om te sink en dat jy jou werk verloor het.
Of dalk vind jy op 'n dag uit dat jou huweliksmaat ontrou aan jou was en skielik tuimel jou hele wêreld rondom jou inmekaar. Of jou kinders, van wie jy sulke hoë verwagtinge gehad het, stel jou teleur wanneer hulle deurmekaar raak met die verkeerde maats en in die kloue van dwelms val of in misdaad betrokke raak.
Wanneer sulke dinge gebeur, is ons eerste vraag gewoonlik: “Hoe kon God dit toegelaat het? Waar is God dan dat Hy dit nie kon gekeer het nie?”
Dan voel jy moontlik asof God jou teleurgestel het! Jy het meer van Hom verwag en nou gebeur dit nie!
Wanneer jy so voel, dan weet jy ook hoe die mense gevoel het in die tyd van Maleagi. Hulle was bitter teleurgesteld in God en hulle het die vraag gevra: “Waar is God dan?”
Toe daar begin word met die herbou van die tempel ná die ballingskap in 515 vC, was daar groot verwagtinge onder die volk. Hulle het geglo dat die Here sou ingryp in die wêreld en dat dit die begin sou wees van groot dinge vir Juda.
Niks hiervan het egter gebeur nie! Al wat hulle gekry het was uitmergelende droogtes wat hulle die een misoes na die ander besorg het. En waar daar wél nog so 'n ietsie van 'n oes was, het die peste en plae dit ook opgevreet!
Die volk was moedeloos. 'n Groot neerslagtigheid het oor hulle neergesak. Baie mense het begin twyfel of die Here hulle óóit nog liefhet. Is Hy óóit nog betrokke by Sy volk?
Wanneer is Maleagi geskryf? Ons is nie baie seker nie, maar dit moes iewers tussen 515vC en 458vC gewees het. Alhoewel dit die laaste boek in die Ou Testament is, was dit geensins die laaste wat geskryf is nie. Boeke soos Daniël is eers lank na Maleagi geskryf. Maleagi skryf hierdie boek in die tydperk toe die wêreld oorheers was deur die Persiese Ryk. Die beroemde (of dalk berugte?) koning Darius en sy opvolger Xerxes, waarvan daar so baie geskryf is, was aan die stuur van sake.
Hoe lyk die sosiale omstandighede van die volk? Juda het 'n bevolking gehad van omtrent 50'000 mense nadat die tempel voltooi is. Ons moet onthou dat die volk nie meer onafhanklikheid gehad het nie en dus ook nie 'n koning nie. Daar was egter 'n goewerneur aangestel om Juda te regeer namens die Perse. In die tyd van Haggai en Sagaria was dit Serubbabel, 'n afstammeling van Dawid. In Maleagi se tyd was Juda egter regeer deur 'n vreemde persoon. En om die kersie op die koek te sit, was die administratiewe setel van Jerusalem af verskuif na Samaria. Dit was inderdaad 'n klap in die gesig van enige rasegte Israeliet!
Juda het nie om dieselfde vuur gesit as die Samaritane nie. Hulle was vyande! En aan hulle suidekant was daar weer die Edomiete, wat ook die Judeërs 'n harde tyd gegee het.
Op sosiale vlak het dit maar beroerd gegaan met die inwoners van Juda. Egskeidings was aan die orde van die dag, en so ook huwelike met vrouens van heidense afkoms. Mense het mekaar uitgebuit net waar hulle kon.
Op die geestelike terrein het dit nog meer beroerd gegaan. Mense het begin skepties staan teenoor God en Sy beloftes. Soos reeds gesê, het die mense groot dinge verwag van God nadat hulle die tempel herbou het. Maar toe daar niks gebeur nie het die mense op geestelike en Godsdienstige vlak baie laks begin raak.
Die vraag wat elkeen van ons vandag moet vra is: wat moet ek doen wanneer dinge nie vir my uitwerk nie? Wat is die normale reaksie wanneer jy jou werk verloor of jou besigheid bankrot gaan? Of as jou huweliksmaat of jou kinders jou teleurstel?
Die eerste reaksie is gewoonlik om jou rug op God en jou medemens te draai. Om vir God en jou vriende wat jou geestelik probeer ondersteun kwaad te word.
Mense soos Paulus en Petrus is voorbeelde van hoe ons sulke dinge moet en kan hanteer. Oor die volgende paar weke wil Maleagi ook vir ons kom wys wat die regte manier is om daardie laagtepunte te benader. Ek het sélf al deur 'n paar sulke laagtepunte gegaan en ek sien persoonlik uit na wat Maleagi ons wil leer.
Gebed:
Here, dankie vir 'n boek soos Maleagi. Heilige Gees, maak asseblief my hart en geestesoë oop om U antwoord op die vrae raak te sien.