Wanneer die Leeu Brul

4 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wanneer die Leeu Brul

Amos 1:1,2

Video - Oudio

Die meeste gelowiges het baie traag geword om die goeie nuus van Jesus te versprei. Dalk is dit omdat ons van kleins af geleer was dat daar slegs een persoon is wat sulke “hogere” dinge mag doen, en dit is die leraar. Hy het sewe jaar lank geleer op universiteit om dit te kan doen, en hy is dus die enigste een wat die kennis het om hierdie taak te verrig, dus laat ons alles in sy bekwame hande.

Die Bybel gee ons egter ‘n totaal ander prentjie. Inderdaad was daar wel geleerde manne soos Paulus wat die Woord uitgedra het, maar meestal was dit doodgewone, dikwels eenvoudige mense wat die Woord verkondig het. Petrus en sy maats was gewone vissermanne, Matteus ‘n tollenaar en Amos ‘n plaasboer.

Kan jy jou iemand meer onwaarskynlik voorstel as ‘n plaasboer om te gaan preek? Hy kry selde met mense te doen - is heeldag lank iewers in die veld by sy boerdery, en dikwels moet hy seker onder die sterre slaap. Nogtans sien ons dat die Here hierdie plaasboer gebruik om Sy woord te verkondig.

Amos het in die jare 760vC in die omgewing van Tekoa, 10 km suid van Betlehem met skape geboer. Hy moes ‘n welvarende boer gewees het, want ons kan aflei dat hy ‘n groot trop skape besit het. Maar Amos het ook ‘n tweede plaas besit aan die kus van die Dooie See, waar hy met wilde vye geboer het. Die vye was waarskynlik voer vir sy skape in die droë wintermaande. Alhoewel dit goed gegaan het met Amos, was hy nie ‘n skatryk man nie.

Plaasboere is gewoonlik mense wat naby aan die aarde leef. Hulle ervaar die natuur op ‘n baie intense wyse, omdat hulle so geweldig afhanklik is van alles wat die natuur bied. Reën, sonlig, wind en die suiwer grond is alles dinge waarsonder hulle nie kan bestaan nie. Dikwels kry jy dan ook dat plaasboere gewone dinge beskryf in beelde uit die natuur. Sommer uit die eerste verse van sy boek, sien ons al hoe hierdie dinge deurslaan, en hoedat die natuur in hierdie man se bloed is. Hy praat van weivelde wat verdor en van herders. Later in die boek vertel hy van die leeu se brul, en jy kom agter dat hy weet hoe om ‘n wip te stel.

Het jy al ‘n leeu van baie naby hoor brul? Ek praat van die slag as jy nie veilig in jou motor sit in die wildtuin nie, maar as jy by ‘n vuurtjie sit in die veld, en hy brul so hard dat jou ore seer kry. ‘n Klompie jare gelede het die leeus vrye toegang gehad tot Marloth Park uit die Kruger Wildtuin. Ons het daardie jare ‘n boshuisie daar gehad. Ons sit een aand saam met vriende by die vuurtjie en vleis braai, toe die leeus se brulle al hoe nader kom. Uiteindelik voel dit asof hulle sommer hier agter die bossie staan en brul. Ek voel baie ongemaklik, maar ons sit maar, want ek weet mos hoe ver ‘n leeu se brul kan trek in die nag - hy is seker nog baie ver! Maar elke keer as sy gesagvolle stem die naglug om ons vul, sit ons regop en luister met respek. Hierdie groot stem behoort waarlik aan die koning van die bos!

Die volgende oggend vroeg gaan ons ‘n entjie stap, en skielik rek my oë soos pierings as ek dáárdie spore in die stof sien - die man met die groot stem en die groot katpote het nie verder as vyftig meter nie van ons braaivleisvuurtjie af verbygeloop! Skielik het ek so ‘n lam gevoel in my knieë gekry - daardie vuilbaard het wáárlik net agter die bossie gestaan en brul die vorige aand!

Wanneer Amos van die Here praat, is dit met baie groot ontsag. Hy vergelyk die stem van God met dié van ‘n leeu se brul. Wanneer ’n leeu brul, dan luister jy, want jy het baie groot respek vir hom. Hy noem ook baie pertinent in die eerste verse van ‘n aardbewing. Dit moes ‘n geweldige skudding gewees het, want Amos koppel die tyd aan die aardbewing. Almal moes dit vir ‘n lang tyd onthou het. Sagaria vertel hoedat mense gevlug het daarvoor (Sag 14:5). God praat met groot gesag, soos dié van ‘n kragtige aardskudding, en wanneer Hy praat verdor die weivelde en verdroog die top van Karmelberg (Amos 1:2).

Wat gebeur wanneer ek en jy die Woord van God oopmaak om te lees wat Hy vir ons wil sê? Is die Woord maar net vir ons ‘n geskiedenisboek, of ‘n boek met mooi versies en stories in? Dalk bloot ‘n verwysingsraamwerk of naslaanwerk? Ons moet dit baie goed besef, dat al was die skrywers van die Bybels doodgewone mense - plaasboere, vissermanne, tollenaars, is God steeds die ware Outeur van die Bybel. Wanneer ek daaruit lees, dan lees ek wat God geskryf het deur Sy skrywers. Nog meer: Hy praat deur hierdie geskrifte direk met my. Dit behoort ons met groot ontsag te vul, want as jy sou stilbly en luister na ‘n leeu se stem, hoeveel te meer sal ons nie stilbly en luister wanneer die magtige Stem van God tot my en jou kom deur Sy Woord nie. Nee, ons hoef nie te bewe van angs of wegvlug nie, maar ons moet die nodige respek en ontsag hê vir Hom, die Koning van alle konings!

Gebed:

Here, vergewe my dat ek dikwels so ligtelik met U heilige Woord omgaan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026