Lukas 11:5-13
Jesus verduidelik vir die dissipels die waarde van gebed deur middel van ‘n storie, 'n gelykenis. Hy gebruik beelde wat hulle baie goed verstaan. In hulle tyd was gasvryheid ‘n baie belangrike ding. Sommige geleerdes reken dat die groot sonde van Sodom juis was dat hulle nie gasvry was teenoor die vreemdelinge, die engele wat na Lot gekom het nie. Selfs al kom iemand in die middel van die nag by jou aan, sal jy steeds uit jou pad gaan om aan hom gasvryheid te verleen. Dit was ‘n integrale deel van die lewe, en as jy nie hiermee saamgegaan het nie, was dit ‘n skande. Vandag leef ons anders: ons sal gerieflikheidshalwe maak asof ons nie die deurklokkie gehoor het nie, en almal sal saamstem dat jy reg optree. En misdaad kry die skuld!
Jesus se storie gaan oor ‘n man wie se vriend hom in die middernagtelike ure wakker klop en vra vir drie brode om te leen, hy het onverwags ‘n besoeker gekry. Jesus sê dat, ter wille van hulle vriendskap, hy mos sy vriend sal help. En al sou dit dan ook maar net wees dat die man nie in die skande kom nie, sal hy steeds die vriend help!
Maar wat het dit dan nou met gebed te doen? Jesus verduidelik, en hiermee wil Hy elke gelowige aanmoedig om te volhard in gebed.
Jesus het prakties die voorbeeld kom stel van die waarde van gebed. Hy het sélf dikwels gebid. In Sy gelykenisse moedig hy mense aan om te bid, soos byvoorbeeld in Luk 18:1-8. Hier staan God se gewilligheid om te gee vir dié wat vra sentraal in die boodskap. Jesus wil hiermee sê dat Hy selfs die mees ontydige en skaamtelose versoek sal aanhoor.
Jesus moedig die luisteraars aan met: “Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Hy wil hierdie gedagte inhamer in die luisteraars se gedagtes, dus herhaal Hy dit in ander woorde. En dan verduidelik Jesus dat God soos ‘n liefdevolle Pa vir Sy kinders sorg. Gister het ons gesien dat Jesus God voorstel as ons Vader, en dat ons daarom in vrymoedigheid na Hom kan gaan sonder enige vrees. Nou wil Hy dit verder beklemtoon dat Hy ook die sorgsame Vader is wat nie alleen in ons daaglikse brood voorsien nie, maar ook gee as ons vra.
Jesus verduidelik dat ‘n aardse pa tog nie onsimpatiek teenoor sy kinders sal optree nie. ‘n Pa sal voorsien in sy kinders se behoeftes, en wanneer hulle hom iets vra sal hy nie antwoord deur hulle iets totaal nutteloos te gee nie. Ons besef dat ons almal maar sondige mense is, en dat selfs die heiligste persoon nie sonder sonde is nie. As so ‘n sondige pa dan vir sy kinders goed kan wees, hoeveel te meer nie die Heilige Vader in die hemel nie?
Dit bring ons egter by ‘n ander kwelvraag wat baie mense pla: As Jesus dan hier beloof het dat God alles sal gee wat ons vra, waarom is dit dan dat ek al jare lank bid vir iets, en die Here gee dit nie vir my nie?
Ons moet besef dat ek en jy nietige, feilbare, sondige mensies is wat gewoonlik nie eers ‘n aks verstaan van waaroor die lewe gaan nie. Dikwels is ons wenslysies vir die Here soos die lagwekkende briefies wat kinders vir Kersvader skryf - “Ek wil ‘n fiets hê en ‘n radiobeheerde reisieskarretjie en ‘n rekenaar met baie games op en.......” Ons kan maar net lag oor die versoeke van ons kinders, en dan wil ons baie vinnig sê: “Maar mý versoeke aan die Here is mos darem nie so belaglik nie! Ek vra vir dinge wat edel is en waarde het!”
As ons in perspektief daarna kyk, dan sien ons dat die kinders baie eerlik is met hulle versoeke. Hulle sien die goed wat hulle versoek beslis nie as belaglik nie. Vir hulle is dit waardevol en noodsaaklik! Tóg sal ons dikwels iets totaal anders gee, want ons besef ál te goed dat dít wat hulle vra, nie goed sal wees vir hulle welsyn nie.
Op dieselfde wyse besef ons dikwels nie wat die Here vir ons beplan nie, en dan wonder ons waarom Hy dan nie die dikwels baie edel dinge wat ons vra, vir ons gee nie. Gewoonlik sien ons jare later eers wat Sy doel was. Dan besef ons dat dít wat Hy vir ons gegee het in die plek van ons versoek, waarlik sin maak en baie meer betekenis het as ons versoek. Ek het dit persoonlik al by verskeie geleenthede beleef!
Ons moet verder onthou dat wanneer ons aardse dinge vra, ons dinge begeer wat maar bitter tydelik is. Ons aardse lewetjie gaan in 'n oogwink verby, en dan wag die hemelse wat 'n ewigheid duur.
Jesus sluit af deur te sê dat die Vader die héél grootste vir ons gee wanneer ons vra, naamlik die Heilige Gees. Kan ons ooit vir enigiets meer vra? Oor hierdie onderwerp kan ons boeke vol skryf, maar hierby wil ek volstaan.
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike gawe van gebed, en dat ons hiermee na U kan gaan.