Naomi sit met ‘n groot dilemma. Sy besef maar ál te goed dat haar twee skoondogters lojaal is aan haar, en dat hulle haar graag wil versorg. Maar sy kan dit nie aan hulle doen, om hulle saam met haar te sleep na wat vir hulle ‘n vreemde land is, met ‘n baie vreemde kultuur en ‘n vreemde God nie.
Naomi probeer met allerhande soorte argumente om Rut en Orpa van hulle plan te laat afsien om saam met haar te trek. Sy verduidelik vir hulle dat hulle albei nog goeie mans kan losslaan vir hulleself hier in Moab. Maar hoe harder sy probeer, hoe droewiger huil hulle. Dis naderhand ‘n tranedal soos hulle kerm: “Ma, ons wil saamgaan na Ma se volk toe!”
“Maar wat gaan dit help,” probeer sy weer. “Al trou ek weer, ek is te oud om weer seuns in die wêreld te bring, as julle dalk gedink het julle kan weer met my seuns trou! En boonop, julle sou nooit as te nimmer kon wag totdat hulle groot genoeg is dat julle hulle as mans kon vat nie! Toe, gaan nou terug!” Eintlik was dit ‘n lagwekkende prentjie wat Naomi vir hulle probeer skilder het, maar dit het net mooi niks gehelp nie. Hoe harder sy probeer het, hoe meer halsstarrig het hulle bly vasklou aan die gedagte om saam te gaan.
Naomi was moedeloos! Sy kon die hopeloosheid van die situasie sien, maar hulle wou géén rede verstaan nie!
Dan speel Naomi haar troefkaart. Sy begin om haarself aan hulle te beskryf as ‘n ongeluksvoël, as iemand wat maar altyd aan die kortste end trek. “Die Here het teen my gedraai.....” verklaar sy.
En dan maak Orpa uiteindelik ‘n logiese keuse: sy sal omdraai. Vir haar sou dit net moeilikheid beteken as sy saam met Naomi gaan. As Moabitiese meisie sou sy nooit aanvaar word deur die Israeliete nie. In Juda sou daar vir haar niks wees nie. Dit is ‘n groot tranedal as hulle groet, en dan draai Orpa (haar naam beteken “weerstrewige”) vir goed haar rug op Naomi en die moontlikheid om dalk deel te kon word van die Volk van God. Sy gaan terug na haar mense ….. en haar gode!
Maar Rut (haar naam beteken “vriendin”) hou voet by stuk: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”
Mooi woorde! Maar hierdie is nie maar hol beloftes nie. Rut bedoel elke woord wat sy sê. Sy het genoeg tyd gehad om die saak deeglik te deurdink. En selfs wanneer Orpa koue voete kry en terugdraai, dan huiwer Rut nie vir ‘n enkele oomblik nie.
Rut besef baie deeglik wat die moontlike gevolge van haar aksie kan wees. Sy weet dat sy verwerping in die gesig staar, verwerping van die dikwels genadelose Israeliete wat nie buitelanders kan verdra nie. Israeliete wat haar beslis gaan uitsluit uit hulle hegte vriendekring. Sy besef baie duidelik dat daar vir haar baie groot swaarkry voorlê, want alhoewel die oeste in Juda goed is, is daar géén waarborg dat sy as Moabietiese meisie óóit daarby sal kan baatvind nie. Sy besef dat sy haarself sal moet gaan bewys om deel te kan word van hierdie nuwe volk. En boonop besef sy dat sy haar godsdiens waarmee sy grootgeword het, sal moet prysgee. Sy moet ‘n totale nuwe Godsdiens, wat vir haar totaal vreemd is aanneem.
Sy verklaar haarself bereid tot al hierdie dinge, en om te bewys hoe ernstig sy daaroor voel, bevestig sy dit met ‘n eed. Daarmee is die saak afgehandel, en die twee desperate vroue val in die lang pad na Betlehem in Juda.
En so begin die merkwaardige verhaal van Rut. Tot dusver was dit Naomi se verhaal, maar van hier af verder skuif sy op die agtergrond. Rut se verklaring: “Waar u gaan, sal ek gaan…..” eggo deur die eeue as sekerlik die bekendste uitspraak óóit deur enige vrou!
Terloops, dit is ook merkwaardig dat in ‘n tyd waar slegs manne gehoor is en saakgemaak het, hier ‘n verhaal afspeel wat uitsluitlik oor ‘n paar vroue gaan. Eenvoudige vroue, weduwees met géén status, wat besluite gemaak het wat die ganse loop van die geskiedenis beïnvloed het. Rut was ‘n heiden, ‘n Moabietiese meisie, maar haar besluit het gelei tot die geboorte van die grootste koning óóit in die geskiedenis van Israel, Dawid. Maar nog meer, sy was ‘n baie belangrike skakel in die geslagsregister van Jesus.
Beskou jy jouself dalk as ‘n “niemand”? Soos Rut? Wees verseker dat jy baie, baie belangrik is vir God. Hy het jou met ‘n baie spesiale doel op aarde geplaas, en Hy wil elkeen van ons graag gebruik. Maar net soos die geval van Rut, moet jy jouself bereid stel om vir die Here te doen wat Hy wil. Wees gewillig om in Sy diens te staan, en Hy sal jou gebruik op Sy manier. Rut het géén idee gehad waar die Here haar sou gebruik nie, maar sy was gewillig. Stel jouself tot Sy beskikking!
Gebed:
Here, ek is bereid om te gaan waar U my stuur. Ek is bereid om te doen wat U wil. Gebruik my asseblief, Here!