Romeine 5:1-11
Eendag kry ‘n predikant ‘n beroep na ‘n nuwe gemeente. ‘n Paar weke na sy aankoms, besluit hy om ‘n bietjie die stad te gaan verken. Hy haal die plaaslike bus, betaal vir sy kaartjie, en gaan sit om die rit te geniet. Maar toe kom hy agter dat die busbestuurder hom per ongeluk te veel kleingeld gegee het.
Vir ‘n rukkie sit hy en wonder wat om te doen. Moet hy die geld teruggee? Natúúrlik sal dit die regte ding wees om te doen! Om die kleingeld te hou is mos verkeerd. Aan die ander kant is dit só ‘n ou klein bedraggie, die busmaatskappy sal dit nóóit mis nie! In elk geval vra hulle gans te veel vir hulle diens! “Aag, ek sal dit maar beskou as ‘n geskenk van God en stilbly daaroor,” besluit hy uiteindelik, en hy sak behaaglik terug in die sitplek en geniet die rit. Predikante sukkel maar finansieel, en elke ou meevallertjie help om die swaarkry ‘n bietjie sagter te maak.
Dan bereik die bus sy bestemming, en die predikant klim af. Op die onderste trappie draai hy op die ingewing van die oomblik om: “Jy het vir my te veel kleingeld gegee.” Daarmee hou hy die geld uit na die busbestuurder.
Die man lag: “Jy is mos die nuwe predikant, nie waar nie? Weet jy Dominee, ek wou al lankal by ‘n kerk aansluit, maar ek kon nie besluit waarheen om te gaan nie. Ek wou maar net sien wat jou reaksie sou wees as ek jou te veel kleingeld gee. Sien jou Sondag Dominee!”
Toe die bus vertrek, hou die predikant aan ‘n lamppaal vas. Hy voel siek! “Here,” prewel hy, “so byna-byna het ek U Seun vir ‘n paar sente verkoop!”
Gelowiges word met valkoë dopgehou deur die wêreld! Kyk maar net byvoorbeeld watter ophef gemaak word deur die media as ‘n leraar sou struikel. Was dit ‘n wêreldling dan sou niemand eers ‘n oog geknip het nie. Christengelowiges se lewens is dikwels die enigste Bybel wat baie mense ooit te lese kry. Dit plaas ‘n geweldige verantwoordelikheid op ons skouers, en ons moet elke oomblik van die dag op wag wees oor ons lewens. Dit gaan egter veel dieper as net om nie sonde te doen nie, dit gaan veral ook oor lewensvreugde.
Paulus begin met ‘n nuwe afdeling in sy brief aan die Romeine, wat handel oor veral genade, en hoe gelowiges God se genade behoort uit te leef? Dikwels is swaarkry deel van ons lewens, en selfs dáár moet ons ook God se genade raaksien, want swaarkry bring ons gewoonlik nader aan God! Ons kan swaarkry vergelyk met ‘n silwersmit se gasvlam wat al die onsuiwerhede uitbrand totdat slegs die héél suiwerste silwer oorbly. Daardie dominee moes uitvind dat daar nog baie onsuiwerhede in sy lewe was. Hy was selfs bereid om te steel!
In die eerste perikoop maak ons kennis met vryspraak en wat dit behels. Baie gelowiges worstel met die probleem dat hulle nie geloofsekerheid het nie. Soms is dit ‘n kanker wat vir jare aan hulle vreet, en hulle het net eenvoudig nie vreugde in hulle geloofslewe nie, want hulle is onseker of hulle ooit gered is. Paulus stel dit onomwonde dat as jy geloof het, hét jy God se vryspraak! Dan is daar vrede tussen jou en God op grond van Jesus se offer aan die kruis. Boonop is daar 'n bonus: vrye toegang tot God se genade! Én jy kry ‘n aandeel in die heerlikheid van God!
Wat ‘n wonderlike gedagte! As jy eers die volle omvang hiervan begryp, sal selfs ‘n bietjie swaarkry nie jou lewensvreugde beroof nie. Kyk nou maar hoe het Paulus sélf deur die grootste swaarkry en marteling gejubel en geborrel van lewensvreugde.
Jy vra dalk waarom vryspraak jou so opgewonde kan maak. Daar sit ‘n klomp dinge agter hierdie op-die-oog-af eenvoudige begrip. Eerstens moet ons onthou dat Jesus die losprys betaal het. Hy het nie vir Sy vriende die verskriklike kruisdood gesterf nie, maar vir verlore sondaars, mense wat Sy vyande was. Selfs die rower aan die kruis langsaan en die soldaat wat Hom gekruisig het!
Hy het ook vir my en jou betaal toe ons nog onverskillig die afgode van die wêreld aanbid het. Hierdie offer van Jesus het ons versoen met God, en dit alleen is genoeg rede om ons borrellend van vreugde te maak. Maar dis nie al nie - Hy het ons ook die Heilige Gees gegee as ‘n onuitputlike Bron van inspirasie, krag, wysheid en vreugde.
Maar daar is nog meer: Jesus het nie alleen vir jou die offer betaal nie, maar Hy is in Sy almag en alomteenwoordigheid ook by jou om jou hand vas te hou en te dra, selfs deur die donkerste uur van nood. Dít is wat gemaak het dat Paulus en Silas vrolike lofliedere kon sing terwyl hulle stukkend geslaan in kettings in die stinkende tronk was!
Hierdie wonderlike lewensvreugde is ook vir my en jou beskikbaar. Gryp dit aan en beoefen dit! Nie alleen sal dit jouself op ‘n wolk plaas nie, maar ook die mense wat met jou in aanraking kom aansteek.
Gebed:
Here, vanoggend wil ek dit uitjubel: Dit borrel in my, want ek is so bly! Laat asseblief my lewensvreugde oorborrel, want U het my vrygespreek!