Johannes 16:25-33
Gedurende die afgelope 63 oordenkinge wat ons alreeds oor die Evangelie van Johannes gedoen het, het ons telkemale gesien hoedat Jesus beeldspraak gebruik om waarhede by die skares en ook by Sy 12 uitgesoekte manne tuis te bring. Dit was baie nodig, want hulle kon net eenvoudig nie die hoë teologiese begrippe verstaan nie. Hulle verstandjies was hééltemal te klein om die dinge van God te begryp.
Ja, so gaan dit maar dikwels ook met ons - ek moet bieg dat ‘n dominee my al dikwels totaal verloor het tydens ‘n preek. As die hoë teologie eers rondgeslinger word, dwaal my gedagtes en aan die einde stap ek uit en wonder waaroor die predikant dan nou eintlik gepreek het. As hy egter ‘n storietjie vertel om ‘n waarheid te illustreer, onthou ek dikwels vir baie jare daarna nie alleen die storie nie, maar ook die boodskap agter die storie.
Die stories wat Jesus vertel het, het sóveel impak gehad en die waarheid só duidelik tuisgebring, dat hulle nou, tweeduisend jaar later, steeds deur mense onthou word en steeds dieselfde uitwerking het!
Vir die elf manne by Jesus het die tyd egter nou te kort geraak vir beeldspraak en nou moes Jesus reguit met hulle praat. Hy vertel hulle van die Vader. Tot dusver was die beeld wat die mensdom van die Vader gehad het, een van ‘n onbereikbare God wat verhewe is bo alle wesens. Slegs baie spesiale persone soos die hoëpriester het toegang tot Hom. En selfs hierdie toegang geskied nie direk nie, maar deur die Middelaar, Jesus. Ons het in ’n vorige hoofstuk gewys hoedat Moses met God gepraat het deur Jesus, die Seun van God. Deur die eeue het Jesus telkens as Middelaar opgetree.
Jesus het nou egter die prentjie totaal kom verander. Hy wys hulle daarop dat die Vader nie daardie God is voor Wie jy in vrees en bewing hoef te leef nie! Hy is nie die Een wat slegs veroordeel en verdelg nie, maar Hy is die God van liefde. “Die Vader self het julle lief”, sê Jesus vir hulle. Hy laat hulle verstaan dat hulle dan ook maar direk met die Vader kan gesels.
Ja, net die volgende dag gebeur dit dan ook so dat daardie swaar gordyn wat God van die gewone wêreldling geskei het, die voorhangsel in die tempel van bo na onder middeldeur geskeur word deur die hand van God. Van daardie oomblik af is God toeganklik vir elke mens op aarde. Die werk van die hoëpriester, om slegs eenkeer per jaar in vrees en bewing agter die gordyn in God se teenwoordigheid te moet staan, het tot ‘n einde gekom.
Van nou af is Jesus nie meer die Boodskapper tussen God en die mens nie, maar ons kan maar net Jesus se Naam noem wanneer ons met die Vader wil praat. Ek wil dit probeer verduidelik. Jare gelede kom staan ‘n wildvreemde paartjie voor ons deur. “Oom Jannie van Melkrivier het gesê dat ons na julle toe kan kom vir hulp.” Op grond van Oom Jannie (Pa se broer) se goeie naam, het die tweetjies vir ‘n week by ons kon bly, want ons het geweet dat Oom Jannie se oordeel reg was.
Eintlik is die Vader NIE toeganklik vir alle mense nie. ‘n Bhoedis en ‘n Hindoe het byvoorbeeld GEEN togang tot Hom nie en hulle kan maar bid tot hulle blou word in die gesig, maar Hy sal hulle gebed nie aanhoor nie. Die sleutel is Jesus! As jy vir Jesus ken, dan het jy direkte toegang tot die Vader, net soos daardie jongman wat vir Oom Jannie geken het, toegang gehad het tot ons. Hierdie is egter nie maar net ‘n oppervlakkige kennis van Jesus nie. Nee, dit behels ‘n verbintenis - ‘n persoonlike verhouding met Hom.
Dit is asof daar uiteindelik ‘n liggie opgaan vir die dissipels, as hulle vir Jesus sê dat hulle nou verstaan. Na al hulle vrae en gebrek aan insig, kan ons nou amper hande klap en juig: “Hoera!” Maar dalk is dit ‘n bietjie te gou, want Jesus vermaan hulle om nie so haastig te wees met hulle belydenis nie. In die volgende paar ure sou hulle nog erg ontnugter word en hulle gaan selfs uitmekaar gejaag word. Hulle sou selfs die ondenkbare doen en hulle geliefde Meester, Jesus alleen los om Sy eie geveg te veg, terwyl hulle angsbevange wegkruip. Maar dan kom die troos as Hy vir hulle verduidelik dat Hy nooit alleen sou wees nie, want die Vader sou by Hom wees regdeur die verskrikking. Hulle dink wél dat hulle nou reeds alles verstaan, maar eers nadat al hierdie dinge gebeur het, sou die waarheid tot hulle deurdring. Jesus sê dat hulle net nie moedeloos moet raak nie. Dalk gaan alles vir hulle totaal verlore lyk, “maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin,” troos Jesus.
Dit het ‘n kruis gekos om die manne waarlik te laat verstaan. Toe sou die ongelowige Thomas kom staan voor die opgestane Jesus en gevul met geloof verklaar: “My Here en my God!”
Jesus se oorwinning het ook vir my en jou die swaar, ontoeganklike deure wawyd oopgegooi, sodat ons vrye toegang het tot die Vader. Vrye toegang beteken egter dat ons daarvan gebruik moet maak. Kom ons gebruik dit soveel as wat ons kan!
Gebed:
Heilige Vader, dankie vir U liefde vir ons, en dankie dat ons nou deur Jesus se heilige Naam toegang het tot U.