Vroue uit die Bybel

29 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vroue uit die Bybel

Genesis 2 en 3

Video

Audio

Mans is belangrik! Hulle is die mense wat al die besluite moet neem, en vrouens moet maar daarby inval. Dit is die boodskap wat ons telkemaal tussen die lyne lees in die Bybel. Selfs vandag is dit nog steeds so, en dikwels moet die vrouegeslag ‘n opdraande stryd voer om iewers in die lewe te kom.

As ons egter mooi gaan kyk, sal ons opmerk hoe ‘n belangrike rol die vrou werklik in die Bybel gespeel het. Die Bybel is propvol van aangrypende verhale wat rondom vrouens wentel. Neem byvoorbeeld vir Rut, Ester, Maria, Debora en Ragab. Soms was dit júís vrouens was die loop van die geskiedenis verander het, en nie die magtige manne nie.

Daar was ook nie altyd net mooi dinge geskryf oor die vroue nie. Daar was beslis ook die negatiewe, soos die goddelose Isebel en die bose Herodias, die een wat Johannes die Doper laat onthoof het en sy bloedige kop op ‘n skinkbord aan haar gaste vertoon het. Afgryslik! Maar dan moet ons darem baie gou byvoeg, dat daar baie manne was wat nog meer afgryslike dinge gedoen het!

Maar oor die algemeen speel die vrou in die Bybel ‘n baie positiewe rol, en soms was dit selfs ‘n vrou wat verantwoordelik was om die hele volk van God te red van totale ondergang, soos in Ester se geval.

In hierdie reeks oor Bybelvroue wil ons probeer kyk watter rol die vrou werklik in die Bybel gespeel het, en terselfdertyd ook kyk na die rol van die vrou vandag. Selfs vandag nog word mans baie belangriker geag as vrouens, maar Jesus het ons kom leer dat daar géén onderskeid getref mag word nie. Alle mense is ewe belangrik, of jy nou ‘n slaaf of ‘n koning is, en of jy ‘n man of ‘n vrou is.

Die héél eerste vrou waarvan ons lees is natuurlik Eva. God skep nie ‘n splinternuwe mens uit stof, soos Hy vir Adam geskep het om vir Adam ‘n maat te wees nie. Hy besluit eerder dat hierdie nuwe skepsel die gelyke van Adam sal wees. Die enigste manier om dit te bewerkstellig, is dat sy deel van hom sal wees. God neem dus ‘n ribbebeen uit Adam se eie lyf en vorm die vrou daaruit. Nou kan daar géén twyfel wees oor die status van die vrou nie.

Die skepping van die vrou is uniek. Hier sien ons God as die Pottebakker wat kunstig die vrou vorm uit roumateriaal wat Hy uit Adam se lyf gehaal het. Hy behandel Adam baie sag dwarsdeur hierdie hele proses. Ons weet mos hoe kleinserig manne kan wees! Eers word hy onder narkose geplaas (‘n diep slaap) sodat dit nie pynlik sal wees nie. En nadat Hy die ribbebeen verwyder het, word die wond kunstig opgevul en toegemaak sodat daar nie eers ‘n merkie wys nie.

Dit bevestig alles vir ons ‘n paar baie belangrike dinge. Eerstens is die vrou nie ‘n andersoortige wese nie, alhoewel baie mans wél so dink! Sy is uit presies dieselfde stof as die man gemaak, eintlik deel van hom self. Boonop is sy nie minderwaardig nie, hulle twee is gelyk. Sy is inderdaad ‘n afbeelding van die man. In vandag se terme kan jy amper sê dat sy ‘n kloon is van Adam.

Wanneer God klaar is met haar, bring Hy haar na die man toe. Adam is in ekstase as hy haar sien. Sóveel so dat hy vir haar ‘n lied sing, ‘n huwelikslied. “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.

Dan voeg die skrywer van die Genesis boek ‘n voetnota by: “Daarom sal die man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Hier is dus absoluut géén twyfel oor die oorspronklike verhouding tussen man en vrou nie. Dit is ‘n verhouding met gelyke status, alhoewel hulle tóg verskillende rolle het binne hierdie verhouding.

Ongelukkig het hierdie verhaal nie so ‘n goeie einde nie. Daar was ‘n boom en ‘n vrug en ‘n slinkse slang. En daar was Eva se begeerte!

Wat presies het daar gebeur? Die slang is baie slinks as hy vir Eva vra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Hy saai twyfel in Eva se gemoed. Wanneer sy aanvanklik baie positief antwoord, is sy steeds van plan om haar verhouding met God te eerbiedig. Dan lieg die slang blatant wanneer hy haar verseker dat God slegs wil keer dat hulle nie soos Hy word nie, en dat hulle beslis nie sou sterf as hulle oortree nie.

En dan word die begeerte van mag in haar gebore. Sy wil ook daardie mag hê wat God het. Sy wil ook God se soort kennis hê. Wanneer jy iets werklik begeer, kry jy ‘n baie goeie rede wat jou gewete sal gerusstel. 

Eva se daad, om die verbode vrug te eet, was maar net die simptoom van die ware oortreding. Haar groot sonde was eintlik om in opstand te kom teen God. Dit was ‘n lang proses wat sy deurgegaan het en nie iets wat sommer skielik een dag gebeur het nie.

Wanneer sy egter by Adam kom, is dit ‘n ander saak. Toe sy vir hom van die vrug gee, eet hy daarvan sonder om eers navraag te doen. Adam het baie duidelik God se opdrag gehoor. Wanneer Eva egter by hom kom, stel hy haar woord bokant dié van God.

En so het die heel eerste vrou ‘n bepalende rol gehad om die geskiedenis te verander!

Gebed:

Here, ek dank U vir die vrou wat U my gegee het in my lewe, en vir die wonderlike positiewe rol wat sy in my lewe speel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026