Vroue saam met Jesus

4 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vroue saam met Jesus

Lukas 8:1-3

Video

Audio

Om die Evangelie te verkondig is nie kinderspeletjies nie, veral as jy dag-vir-dag, van vroegoggend tot laataand omring en verdruk word deur ‘n skare wat dikwels baie duisende beloop, en elkeen soek jou persoonlike aandag. Dan begin dit baie harde werk word. Jesus was nie die enigste wat hierdie druk gevoel het nie, die twaalf wat Hy uitgekies het, het dit sélf ook maar nie juis maklik gehad nie. Hulle het nie maar die hele tyd net van Jesus geleer en geluister wat Hy gesê het nie. Nee, hulle was prakties in die veld saam met Hom. Hulle moes die skare versorg en in bedwang hou, en hulle was verantwoordelik daarvoor om toe te sien dat Jesus nie vertrap word nie.

Ek dink nie ons besef aldag waardeur hierdie span gegaan het nie. Dit was uitputtende werk wat dikwels tot diep in die nag aangegaan het. Vir kosmaak en die algemene versorging was daar net eenvoudig nie tyd nie. En hier het ‘n paar vroue wat alreeds Jesus se wonderlike genesing ervaar het, die nood gesien en besluit om te kom help.

Dit was nie rêrag ongewoon vir vroue om ‘n rabbi van geld en kos te voorsien nie, maar hier het dit ‘n stappie of twee verder gegaan, want hierdie vroue het alles gelos om saam met Jesus en sy geselskap rond te trek deur die land. Dit was absoluut ongehoord, en dit sou eintlik as ‘n skande beskou gewees het in hulle samelewing, veral vir die getroude vroue. G’n wonder dat baie mense bitter ongemaklik gevoel het oor Jesus nie, want Hy het veroorsaak dat mense dinge doen wat jy nie normaalweg veronderstel is om te doen nie. Die sosiale strukture en tradisionele gebruike is tot in hulle fondamente geskud toe Jesus die dag begin preek!

Die name wat Lukas hier noem, hoor ons later in die verhaal weer, en aan die einde van Lukas se verhaal sien ons hoedat hulle saam met die apostels getuies word van Jesus se opstanding. Ons weet nie hoeveel vroue betrokke was nie, maar Lukas noem enkeles: Maria wat van die vissersdorp Magdala afkomstig was, het die bynaam Magdalena gehad. Johanna was getroud met Gusa, ‘n hoë amptenaar van Herodus Antipas. Hy was die bestuurder van Herodus se huishouding. Sy was dus ‘n vooraanstaande vrou in die samelewing wat haar reputasie op die spel geplaas het om Jesus en Sy twaalf manne te versorg. Johannes vertel ook van Maria, vrou van Klopas, wat waarskynlik getroud was met Josef se broer Klopas. Sy was saam met haar skoonsuster Maria, die ma van Jesus, en ander vroue by die kruis. Moontlik was sy en haar man van die eerste sendelingpare. Ons lees, terloops van sewe vroue in die Nuwe Testament met die naam Maria.

Kosmaak, klere was, water aandra, slaapplek voorberei, ander mense se kindertjies troos, dit was hulle dagtaak. Ek neem aan dat hulle dikwels dalk in die veld moes slaap op die harde grond saam met die res. Hierdie vroue was die ruggraat van die hele bediening. Ons sien hulle hier as die “ondersteuningspan”.

Ons sien dus dat hierdie vroue uit alle vlakke van die samelewing gekom het. Sonder hulle ondersteuning sou die hele operasie platgeval het, want die manne sou net eenvoudig uitgebrand het.

Ons is so geneig om op die geringer takies in koninkrykswerk neer te sien as onbelangrik. Dikwels is dit juis daardie “geringer takies” wat die ratte geolie hou en die wiele aan die rol hou. Ek onthou as kind, hoe ek dikwels met minagting staan en kyk het na ‘n kêrel wat op Waterval Boven langs die treinspoor staan met ‘n klein langsteel hamertjie. Met elke trein wat verbykom klop hy teen die wiele met sy hamertjie, dag-in, dag-uit, tot vervelens toe. Dis al wat hy heeldag doen! Ons het spottenderwys na hom verwys as die “Tappiologist”. Almal het neergesien op hierdie arme kêrel. Tóg het hy ‘n uiters verantwoordelike werk gehad, want hy het fyn geluister na die geluid wat elke hamerslag maak, en as een dalk anders klink as die res, is die trein summier gestop, want dan het dit beteken dat daar fout is met die wiel, en dat dit dalk ‘n tragiese ontsporing kon veroorsaak wat selfs menselewens kon kos.

Uiteindelik is die vroue die enigstes wat kopgehou het toe alles besig was om uitmekaar te val. Toe die twaalf uitgesoekte apostels moedeloos uitmekaar gespat het en selfs begin sê het dat hulle Jesus gladnie eers ken nie, was dit hierdie vroue wat tot op die bittere einde by Jesus gestaan het. Selfs toe Hy aan die kruis hang, was hulle daar om Hom te probeer ondersteun in Sy laaste oomblikke. En dit was hulle wat Sy lyk versorg het en Hom begrawe het. En daardie Sondagoggend was dit weereens húlle wat eerste by die graf was om die laaste reëlings te kom tref. Dit was ook hulle wat die goeie nuus aan die ander dissipels uitgebabbel het oor Jesus se opstanding!

Het jy dalk ook een van daardie “geringe” takies in die Koninkryk? Voel jy dalk minderwaardig omdat jy nie eerder op die kansel kan staan nie? Wees verseker dat die ganse koninkryksmasjien tot stilstand sal kom sonder hierdie klein, onbenullige ratjies. Wees trots op jou takie, en doen dit met vreugde en oorgawe!

Gebed:

Here, dankie vir die taak wat U my gegee het om te doen. Help my om dit voluit te verrig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026