Vroue saam met Jesus

25 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vroue saam met Jesus

                Lukas 8:1-3

Dit was sékerlik nie ‘n maklike taak vir Jesus om die evangelie te verkondig nie. Dag-vir-dag, van vroegoggend tot laataand was Hy omring en verdruk deur ‘n skare wat dikwels baie duisende beloop het. Boonop het elkeen Sy persoonlike aandag gesoek. Jesus was egter nie die enigste wat hierdie druk gevoel het nie. Die twaalf wat Hy uitgekies het, het dit sékerlik hotagter gehad om die skare in bedwang te hou en te sorg dat alles vlot verloop. Hulle moes keer dat Jesus nie totaal platgetrap word nie!

Ek dink nie ons besef aldag waardeur hierdie span gegaan het nie. Dit was uitputtende werk wat dikwels tot diep in die nag aangegaan het. Vir kosmaak en die algemene versorging was daar net eenvoudig nie tyd nie. Hier het ‘n paar vroue wat alreeds Jesus se wonderlike genesing ervaar het, die nood raakgesien en besluit om te kom help.

Dit was nie rêrag ongewoon vir vroue om ‘n rabbi met geld en kos te voorsien nie, maar hier het dit ‘n stappie verder gegaan. Hierdie vrouens het alles gelos om saam met Jesus en sy geselskap rond te trek deur die land. Dit was absoluut ongehoord en eintlik was dit as ‘n skande beskou in hulle samelewing. G’n wonder dat baie mense ongemaklik gevoel het oor Jesus nie want Hy het veroorsaak dat mense dinge doen wat jy nie normaalweg veronderstel was om te doen nie. Die sosiale strukture en tradisionele gebruike was tot in hulle fondamente geskud toe Jesus die dag begin preek!

Die name wat Lukas hier noem, hoor ons later in die verhaal weer, en aan die einde van Lukas se verhaal sien ons hoedat hulle saam met die apostels getuies word van Jesus se opstanding. Ons weet nie hoeveel vroue betrokke was nie, maar Lukas noem enkeles. Daar was Maria wat van die vissersdorp Magdala afkomstig was. Sy het die bynaam Magdalena gehad. Johanna was getroud met Gusa, die bestuurder van Herodus Antipas se huishouding. Hy was dus ‘n hoë amptenaar! Ons sien dus dat daar vroue was uit alle vlakke van die samelewing. Sonder hierdie vroue se ondersteuning sou die hele operasie platgeval het, want die manne sou net eenvoudig uitgebrand het!

Ons is so geneig om op die geringer takies in koninkrykswerk neer te sien as onbelangrik. Dikwels is dit juis daardie “geringer takies” wat die ratte geolie hou en die wiele aan die rol hou. Ek onthou as kind, hoe ek dikwels met minagting staan en kyk het na ‘n kêrel wat op Waterval Boven langs die treinspoor gestaan het met ‘n klein langsteel hamertjie. Met elke trein wat verbykom klop hy teen die wiele met sy hamertjie, dag-in, dag-uit, tot vervelens toe! Dis al wat hy heeldag gedoen het! Ons het spottenderwys na hom verwys as die “Tappiologist”. Almal het neergesien op hierdie arme kêrel. Tóg het hy ‘n uiters verantwoordelike werk gehad, want hy het fyn geluister na die geluid wat elke hamerslag maak, en as een dalk anders geklink het as die res, was die trein summier gestop, want dan het dit beteken dat daar fout was met die wiel. Dit kon dalk ‘n tragiese ontsporing veroorsaak het wat selfs mense hulle lewe kon kos. Nét so het almal neergesien op die stokers op die stoomtreine, ‘n nederige bloedsweet werk. Maar sonder hulle uitmergelende taak om heeldag grawe vol steenkool in die lokomotief se gloeiende, honger keelgat af te gooi, sou die trein nie ‘n enkele treetjie kon ry nie!

Johanna was ‘n vooraanstaande vrou in die samelewing, maar sy het haar reputasie op die spel geplaas om Jesus en Sy twaalf manne te versorg. Kosmaak, klere was, water aandra, slaapplek voorberei, kindertjies troos...... Ek neem aan dat sy dikwels dalk in die veld moes slaap op die harde grond saam met die res. Hierdie vroue was die ruggraat van die hele bediening. Ons sien hulle hier as dieondersteuningspan”. Later in die verhaal sien ons dat hulle die enigste was wat kopgehou het toe alles besig was om uitmekaar te val. Toe die twaalf uitgesoekte apostels moedeloos uitmekaargespat het en selfs begin sê het dat hulle Jesus gladnie eers ken nie, was dit hierdie vroue wat tot op die bittere einde by Jesus gestaan het. Selfs toe Hy aan die kruis gehang het, was hulle daar om Hom te probeer ondersteun in Sy laaste oomblikke. En dit was hulle wat Sy lyk versorg en Hom begrawe het. Daardie Sondagoggend was dit weereens húlle wat eerste by die graf was om die laaste reëlings te kom tref. Dit was ook hulle wat die goeie nuus aan die ander dissipels uitgeborrel het oor Jesus se opstanding.

Het jy dalk ook een van daardie “geringe” takies in die Koninkryk? Voel jy dalk minderwaardig omdat jy nie eerder op die kansel kan staan nie? Wees verseker dat die ganse koninkryksmasjien tot stilstand sal kom sonder hierdie klein, onbenullige ratjies. Wees trots op jou takie, en doen dit met vreugde en oorgawe!

Gebed:

Here, dankie vir die taak wat U my gegee het om te doen. Help my om dit voluit te verrig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026