Vredemakers

7 February, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vredemakers

2 Samuel 19:9-20:25

VIDEO | OUDIO

Die burgeroorlog is verby. Die opgewondenheid oor Absalom is iets van die verlede. Nou kan die mense weer ‘n slag asemhaal en nugter dink oor alles wat gebeur het. Die oorlog het ‘n verskriklike tragedie tot gevolg gehad en duisende mense het onnodig omgekom. Verskriklike dinge is gesê en blatante leuens is versprei. ‘n Koning is selfs uit sy eie land en stad uitgedryf en inderdaad is Dawid steeds in selfopgelegde ballingskap in die land van die Ammoniete.

Maar dan begin die manne in Israel onder mekaar praat. Dawid is op almal se lippe. Is hy nie die een wat hulle telkemale gered het uit die hand van die vyand nie? Is hy dan nie die een wat hulle bevry het uit die greep van die Filistyne nie? En nou is Absalom, die man wat hulle as koning gesalf het in elkgeval dood - “Waarom wag ons dan nog? Waarom laat kom ons nie vir Dawid terug nie?”

Intussen het die twee priesters, Sadok en Abjater ernstig met die leiers van Juda gepraat. “Waarom moet julle nou die laaste wees om Dawid terug te neem as koning? Julle is immers sy bloedfamilie!” Soos een man stem hulle saam en dan laat weet hulle vir Dawid: “Kom terug asseblief!”

Wanneer Dawid en sy gevolg by die Jordaanrivier kom, kry hy trane in die oë want oorkant die rivier, by Gilgal staan daar ‘n reuse skare van die mense van Juda wat hom met ope arms terugverwelkom in die land en om hom oor die Jordaanrivier te help!

Maar dan rek Dawid se oë groot - hy kan nie glo wat hy sien nie! Dieselfde Simeï wat hom so loop en uitvloek het terwyl hy moes vlug vir sy lewe, kom hier aan met ‘n afdeling soldate uit die stam van Benjamin. Simeï val voor Dawid neer en smeek om vergifnis vir die verskriklike onreg wat hy die koning aangedoen het. Dawid se generaal, Abisai wil sommer nét daar sy swaard uitpluk om hierdie simpele vent dood te maak, want iemand wat die koning vervloek durf nie bly leef nie! Maar Dawid keer hom - waarom sal hy hom dan nie vergewe nie?

Maar daar wag nóg ‘n verrassing op Dawid. ‘n Verwaarloosde man kom hom tegemoet. Dawid moet baie mooi kyk om vir Mefiboset te herken want sy baard is maande laas geskeer en hy is vuil en onversorg. “Maar ek dog dan dat Mefiboset homself tot koning verhef het?” gaan dit deur sy gedagtes, “En kyk hoe lyk die arme man dan nou!”

Dan verduidelik Mefiboset dat sy oppasser hom in die steek gelaat het. Hy wou nog saam met Dawid gaan, maar die oppasser het hom beskinder by Dawid en hom onversorg alleen agtergelaat. “Majesteit, u is soos ‘n engel van God!” huil Mefiboset. En Dawid ontferm hom oor die arme man, die enigste nasaat van Saul.

Is dit nie tragies hoe mense hulle van Dawid gedistansiëer het terwyl hy in die moeilikheid was nie? En nou dat hy op pad terug is na Jerusalem om weer die koningskap op te neem, kom soek almal weer witvoetjie! Was hierdie mense werklik opreg toe hulle om vergifnis kom vra het? Was Israel werklik opreg toe hulle Dawid gesmeek het om terug te kom?

Dawid is nog skaars deur die Jordaanrivier, toe kry die stamme van Israel en Juda stry, want Israel beskuldig Dawid dat hy Juda voorgetrek het. So erg word die stryery dat Israel, onder aanhitsing van ’n opruier met die naam Seba, soos een man uitroep: “Dawid is nie deel van ons nie!” Woedend dreunsing hulle: “Ons het niks aan Isai se seun nie!” En so trek die ganse Israel weg agter Seba aan en los Dawid om saam met die stam Juda terug te gaan na Jerusalem.

Dawid besef dat daar baie vinnig opgetree moet word teen Seba, voordat daar nog meer skade aangerig word. Sy magte onder aanvoering van Joab beleër die stad waar Seba wegkruip. ‘n Baie wyse vrou in die stad sien waarheen hierdie ding gaan. Sy sien dat die stad uitgewis gaan word en dit oor een enkele man. Sy onderhandel met Joab, en dan bring die inwoners van die stad vir Seba om die lewe en red die situasie. Sy word dan die instrument om weer vrede en bestendigheid in die land te bring!

In hierdie kort beskrywing lees ons telkemale van mense wat moeilikheidmakers is. Met vals gerugte bring hulle bittere leed in ander se lewens. Met opruiende taal bring hulle selfs ‘n hele volk in opstand. Dan is daar weer diegene wat met ‘n wyse woord ‘n hele plofbare situasie kan ontlont en sodoende vrede bring. Watter een is jy? Is jy een wat met ‘n “onskuldige” skinderstorietjie pyn en opstand in mense se lewens bring? Of is jy een van die vredemakers? “Geseënd is die vredemakers”, het Jesus in Sy bergpreek gesê (Mat. 5:9). Kom ons word almal vredemakers en maak van ons wêreld ‘n beter plek terwyl ons terselfdertyd die Koninkryk van God help uitbrei.

Gebed:

Here, ek wil ‘n vredemaker wees. Plaas asseblief ‘n wag voor my mond as ek iets lelik van ‘n ander wil sê!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026