Vrae Oor Die Heilige Gees

11 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vrae Oor Die Heilige Gees

Galasiërs 3:1-6

Kyk die Video

Hoe belangrik is ‘n “ervaring met die Heilige Gees”? Met hierdie vraag krap ek dalk vanoggend ‘n byenes oop, want verskillende mense verstaan verskillende dinge onder hierdie term, en sommige mense kan baie warm onder die boordjie raak as jy dit maar net noem. In die NG Kerk was daar vir baie jare ‘n tradisie van, dat jy nie eers hieroor praat nie, want dit is “Charismaties” of dalk selfs “sektaries”.

1 Kor 13 is ‘n baie gewilde Skrifgedeelte, dikwels om die verkeerde redes. Hierdie gedeelte handel oor die uitnemendheid van die liefde, en dan staan daar dat liefde baie belangriker is, selfs as Geesteservarings. Dit wil egter nie sê dat ‘n ervaring met die Heilige Gees onbelangrik of minderwaardig is nie. Ons in die NG Kerk wil egter dikwels ervarings met die Heilige Gees wegwens.

Paulus skryf aan die Galasiërs oor basies dieselfde probleem. In hulle geval is dit egter die Wet van Moses wat vir hulle belangriker geword het as die Heilige Gees. Paulus is skoon ongedurig as hy hieroor skryf, want die wet kan niemand red nie, maar daar het iets met daardie mense gebeur toe hy destyds aan hulle die evangelie verkondig het, wat gemaak het dat hulle geloof brandend was. Wat was dit? Hulle het die Heilige Gees ontvang. Uit wat Paulus skryf kan ‘n mens aflei dat die werk van die Heilige Gees op ‘n baie duidelike manier gesien kon word in hulle lewe nadat hulle tot bekering gekom het. Ons weet nie presies wat daar gebeur het nie, want Paulus noem dit nie, maar ons kan maar net raai. Moontlik is dit die vrug van die Gees wat in so ‘n mate tot uiting gekom het dat hulle letterlik gestraal het, of dit kon dalk die praat van vreemde tale of iets dergeliks gewees het. In vers 4 lees ons die woorde: “Was julle swaarkry dan verniet?” Hierdie versie sou ook vertaal kon word met die woorde: “Was alles wat julle ervaar het dan verniet?”, verwysende na die kragtige werke van die Heilige Gees waarvan Paulus in vers 5 praat.

Wat Paulus eintlik hier wil sê is dat God die Heilige Gees aan elkeen van hierdie mense gegee het nadat hulle die evangelie van Paulus gehoor het. Paulus het dus die evangelie volgens God se wil oorgedra - sy prediking was korrek. Dit is daarom dat hy hulle oor en oor die vraag vra, hoe hulle dan die Heilige Gees gekry het. Eers later het die dwaalleraars gekom en ander dinge in hulle koppe geprop, en sodoende Paulus se boodskap totaal verdraai.

Dit is belangrik om te weet watter geweldige verandering die evangelie destyds tot gevolg gehad het. In ‘n ou gevestigde tradisie van afgodediens moes hierdie mense skielik ‘n totale nuwe siening aanvaar. Hulle moes versoen met ‘n Godsdiens wat dikwels gladnie sin maak nie en wat radikaal anders is as wat hulle aan gewoond is. ‘n Blote menslike redenasie sou hulle nooit tot ander insigte kon bring nie - alleen die kragtige werk van die Heilige Gees. Dit het nie alleen hulle denke verander om nou al hulle gode te laat vaar en slegs in een God te glo wat Sy Seun vir hulle laat offer het nie, maar hulle ganse lewensstyl het verander. Haat, wraak en angs moes plek maak vir liefde.

En vandag? Watter verskil maak die Heilige Gees in die lewe van ons moderne mense? Ek dink ons moet bitter skaam kry as ons maar dink watter ou klein verskilletjie ons dikwels bereid is om voor toe te gee. Ons is nie bereid om die Heilige Gees toe te laat om ‘n ingrypende verandering in ons lewens teweeg te bring nie. God het tog nie verander sedert Paulus se tyd nie! Wat het dan verander?

Dit kan dalk ‘n kombinasie van ‘n hele aantal dinge wees: eerstens is ons in die kerk geleer oor baie jare dat ‘n mens jou Christenskap baie stemmig moet hou. Jy wil tog nie gebrandmerk word as iemand wat “Charismaties” is nie? Tweedens dink ek dat ons moderne lewe met sy uiters wetenskaplike denke en gevorderde tegnologie ook iets daarmee te doen het. Enigiets wat nie wetenskaplik bewys kan word nie, word dikwels afgemaak as ‘n mite. Geloof in Jesus Christus, en die werking van die Heilige Gees is so ‘n “onbewysbare” saak, en dus hou jy dit maar stil anders word jy dalk uitgelag. Iemand sê ‘n ruk gelede byvoorbeeld vir my, dat hy nie in God kan glo nie, want hoe is dit dan moontlik om in Iemand te glo wat alomteenwoordig is? Dit is mos onmoontlik! “Ek kan nie in iets glo wat onmoontlik is nie”, was sy droewige redenasie.

Dit het tyd geword dat ons die Heilige Gees vrye teuels gee in ons lewe. Dankie tog dat baie gemeentes besig is om te ontwaak, en dat ons wonderlike verandering daar kan sien. My bede is dat dit ook deur sal suurdeeg na individue toe, en dat ek en jy sal toelaat dat die Heilige Gees ons lewens ten volle beheer, sodat ons brandend en bruikbaar in God se koninkryk sal word.

Gebed:

Heilige Gees, kom asseblief en bevry my gedagtes sodat ek U vrye teuels in my lewe kan gee om in my en deur my te werk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026