Voor die Regterstoel

31 August, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Voor die Regterstoel

Matteus 25:31-46

VIDEO | OUDIO

Die wederkoms van Jesus breek aan, en nou weet elkeen op aarde dat hierdie Jesus-stories nie maar net stories was nie maar dat dit die waarheid was. Al die mense van die aarde staan daar bymekaargetrek, maar hulle is in twee groepe verdeel, met ’n duidelike skeidslyn tussen die twee. Nêrens is daar ’n grys area nie. Jy het óf die wil van God gedoen, of jy hét nie! Dit is die enigste kriterium! Op grond hiervan is almal geskei. Miljoene gelowiges dans en sing opgewonde van pure uitgelatenheid, want uiteindelik het dít gebeur waarna ons al so lank en so smagtend na uitsien. Hulle staan almal in die veel kleiner groepie. Oor die ander groep hang daar ‘n donker wolk van verdoemenis.

Tóg is daar by almal, selfs ook die gelowiges, ‘n onsekerheid want verhewe bo almal staan die Regterstoel. Op die stoel sit die Regter-Koning in glorie en majesteit, waar elkeen Hom kan sien. Die spanning raak ondraaglik, want Jesus gaan nou oordeel oor elke mens.

“Diegene aan My regterhand, kom en neem julle erfenis in besit! Dit is die erfenis wat God vir julle voorberei het.” En dan gaan daar ‘n vraag op uit die groep: “Dankie Here, maar ek het dit rêrag nie verdien om in hierdie groep te wees nie! Waarom het U nou juis vir my hier geplaas? Wat het ek gedoen om dit te verdien?”

En dan antwoord Jesus met ‘n glimlag: “Ek was dors, en jy het My iets gegee om te drink. En die dag toe ek ‘n vreemdeling was, het jy My ingenooi en kos en ‘n slaapplek gegee.”

“Maar Here, ek onthou dan nie daarvan nie! Ek kan nie onthou dat ek enigiets vir U persoonlik gedoen het nie?”

Jesus glimlag op die Regterstoel: “Onthou jy daardie verflenterde ou man wat jy eendag gehelp het? Die een wat kom vra het vir ‘n bietjie water? En toe gee jy hom ‘n bord kos en koffie en nuwe klere uit jou klerekas? Toe jy aan hom liefde en barmhartigheid gegee het, het jy dit eintlik vir My gedoen.”

“Here, en wat van my?” vra ‘n ander stem. “Onthou jy die dag toe Ek so siek was? Jy het My met liefde kom versorg sonder om iets terug te verwag.”

“Nee Here, met permissie gesê, U maak seker ‘n fout! Dit was nie ek nie.....”

“Die dag toe jy die siek boemelaar op die parkbankie opgetel en dokter toe geneem het - jy het hom nog daardie volgende paar nagte in jou huis laat slaap. Dit was Ek gewees wat jy versorg het, want as jy soveel liefde aan iemand anders gee, gee jy dit eintlik aan My!”

Nou gaan daar ‘n gemor op vanuit die ander groep. Teen hierdie tyd het dit al duidelik geword dat hulle nie by daardie pragtige hemelpoorte gaan instap nie. “Here, ek het ook al ‘n boemelaar versorg! Wat dan van my? Tel dit dan nie?”

“Ja Here, ek het persoonlik ook al vir ‘n vreemdeling kos gegee én klere! Hy het nog gesê dat hy my sou terugbetaal maar daar het absoluut niks van gekom nie. En nou word die sout nog in my wonde gevryf, want nou is ek in die verkeerde groep. Dis nie regverdig nie!”

“Ek stem saam!” gaan dit nou in ‘n koor van stemme op, “Ons het ons afgesloof om goed te doen. Ons het die renoster, wat U persoonlik nog geskep het, van uitwissing gered! Tel dit dan nie?”

“En wat van al die ure wat ons gespandeer het om die gemeenskap op te rig?”

“Eintlik het julle niks vir My gedoen nie! Julle het dit alles suiwer vir julleself gedoen!” kom die verdoemende antwoord van die Regter. “Julle het nooit werklik liefde bewys sonder om iets terug te verwag nie. Boonop het julle My nooit erken as Verlosser nie, en nog nooit met My ‘n verhouding gehad nie. Die ewige verdoemenis is julle voorland.”

Stadig begin die werklikheid deursyfer. Dit gaan daaroor dat hulle nie goed gedoen het aan ander nie, selfs nie aan die geringstes nie – diegene wat dit regtig nodig gehad het! Mense se dade van liefde al dan nie, is ‘n aanduiding of hulle geglo het in God en sy liefde uitgeleef het – teenoor wie ook al.

Aan die ander kant was daar mense wat dikwels nie eers besef het dat hulle besig was met liefdeswerk nie, want dit het diep uit die hart gekom. Waarom? Daar was een groot dryfveer: die liefde van Jesus. Hulle het nie hulle liefdeswerk gedoen om iets daarmee te probeer verdien nie. Hulle het nie aansien of ‘n guns van God of wat ookal gesoek nie, maar dit suiwer uit dankbaarheid gedoen omdat Jesus hulle verlos het. Wanneer Jesus waarlik in jou lewe gestalte gekry het - wanneer jy in ‘n verhouding met Hom leef, sal die dinge wat jy doen, wys dat jy Sy kind is. Dan sal jy jou dankbaarheid uitleef sonder enige bymotiewe.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware omgee-liefde in my hart. Maak asseblief my oë oop vir die nood in ander se lewens, en maak my gewillig om te help waar daar nood is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026