Voltyds in die Sendingveld

5 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Voltyds in die Sendingveld

Handelinge 16:1-10

Tradisioneel praat ons van drie sendingreise wat Paulus onderneem het. As jy egter Paulus se bewegings mooi gaan bekyk, kom jy agter dat daar eintlik streng gesproke net één sendingreis was, en dat Paulus na hierdie eerste reis saam met Barnabas en Johannes Markus nou ‘n voltydse, selfstandige sendeling en kerkplanter geword het. Hy het met behulp van ‘n uitgebreide netwerk van helpers, gemeentes besoek en nuwes gestig. Verder het hy deur middel van briefwisseling met die verskillende gemeentes kontak gehou en so sy sendingwerk gedoen. Sy besoeke aan gemeentes was gewoonlik dan ook nie maar blitsbesoeke nie, maar hy het dikwels lang tydperke in gemeentes vertoef. In Korinte het hy byvoorbeeld vir ‘n jaar en ‘n half gebly en in Efese vir ‘n volle drie jaar. Antiogië was beslis ook nie meer vir hom ‘n tuisbasis vanwaar hy sy reise begin en eindig het nie. Hy het slegs in Antiogië vertoef op pad na Jerusalem.

Ontmoet dus vir Paulus, die sendeling by uitnemendheid, wat nou onafgebroke die Evangelie verkondig van plek na plek tot by sy uiteindelike aankoms in Rome. Hier sou hy in die tronk opgesluit word, maar selfs die tralies kon nie vir Paulus keer om die blye boodskap die wêreld in te stuur nie.

Paulus begin sy bediening deur saam met Silas na Klein-Asië te vertrek, en daar die gemeentes te besoek wat hy en Barnabas gestig het. In Listra loop hy ‘n jong man raak wat vir hom nog baie sou beteken, Timoteus. Sy pa was ‘n Griek en sy ma Joods. Alhoewel so ‘n huwelik volgens Joodse onwettig was, het hulle tóg geoordeel dat as die ma Joods was, dan was die seun ook ‘n Jood. Dan moes hy natuurlik ook besny word, maar met hom het dit nie gebeur nie. Waarom Timoteus nooit besny is nie, is onbekend.

Paulus het sommer dadelik van Timoteus gehou. Al die gelowiges kon net met groot lof praat van hierdie jong man. Timoteus kon op die pad vorentoe baie vir die uitbreiding van die Evangelie beteken, dus besluit Paulus om hom saam te neem op sy reis verder. Daar was egter ‘n klein probleempie: die feit dat Timoteus as Jood nooit besny is nie, kon dalk vir hom ‘n groot struikelblok vorentoe wees wanneer dit by die evangelieverkondiging onder Jode kom. Hulle sou hom net eenvoudig nie aanvaar het nie! Dus ruim Paulus hierdie ou probleempie uit die weg. Op 'n mooi(?) dag voer hy ’n baie ongemaklike operasietjie op Timoteus uit en hy besny hom. Natuurlik gee Paulus nie hier sy beginsels omtrent die besnydenis prys nie. Inteendeel, hy neem slegs ander mense se sienings in ag. Paulus skryf immers in sy eerste brief aan die gemeente in Korinte (1 Kor. 9:20-23) dat hy vir die Jode soos ‘n Jood word om mense te wen, alhoewel hy lankal vry is van die Joodse tradisies. Hy doen met ander woorde alles in sy vermoë om die Evangelie by mense tuis te bring, al vra dit ook groot opofferings by elke geleentheid.

Ons sien presies dieselfde gesindheid wanneer Jesus Sy reputasie as “goeie Jood” prysgee en met ‘n Samaritaanse vrou ‘n gesprek voer, en selfs saam met onrein tollenaars en sondaars gaan eet.

By Paulus kan ek en jy baie beslis leer om sensitief te wees vir ander mense se gevoelens en standpunte, en om nie altyd op ons eie regte te wil staan wanneer dit oor minder wesenlike sake gaan nie.

Van Listra af vertrek Paulus met sy twee helpers, Timoteus en Silas. Hulle doen aan by al die kerke in Suid-Galasië. Paulus het sy bewegings baie fyn beplan, maar hy was terselfdertyd baie sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. Ons sien dit byvoorbeeld duidelik, toe Paulus na Asië wou gaan om te preek, maar die Heilige Gees hom laat verstaan het dat dit ‘n verkeerde besluit sou wees. Hy moes maar mooitjies sy reisplan verander en eerder na Frigië en Galasië gaan, soos die Gees hom gelei het. Vandaar moes hy dus ‘n wye draai noordwaarts maak oor Misië om by Betinië uit te kom, waarskynlik om die Bosporus met sy groot stede te bereik. Maar weereens het die Heilige Gees ingegryp en vir Paulus ander leiding gegee. Uiteindelik is Paulus se reisplanne totaal omver gewerp, en kom hy in Troas aan. Een nag in hierdie Griekse hawestad, sien Paulus ‘n gesig van ‘n Masedoniër wat hom smeek om hulle te kom help. Onmiddellik herken Paulus dit as ‘n hemelse roepstem, en hulle maak klaar om na Masedonië te vertrek om die Evangelie dáár te gaan verkondig.

Selfs ‘n streng-gedissiplineerde man soos Paulus, wat sy beplanning en huiswerk waarskynlik baie deeglik gedoen het, het nie vir ‘n oomblik geaarsel om sy eie planne te laat vaar toe die Heilige Gees met hom praat nie. Dit is noodsaaklik dat ons luister na die Stem van die Heilige Gees. Dit kan op baie verskillende maniere na ons toe kom. Dikwels is dit ‘n enkele sinnetjie wat vir jou uitstaan terwyl jy met die Woord omgaan, en wat net eenvoudig vir jou die antwoord gee, baiemaal ‘n antwoord wat jy nie graag wil hoor nie!

Gebed:

Here, maak my asseblief baie sensitief vir die Stem van die Heilige Gees, en maak my asseblief gewillig om gehoor te gee wanneer U so met my praat.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026