Vlug Voor Absalom

2 February, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vlug Voor Absalom

2 Samuel 16:1-14

VIDEO | OUDIO

Dawid is platgeslaan. Kaalvoet, huilend vlug hy die woestyn in. Hy is bitter kwesbaar!

Dan sien hy iemand agter hom aankom met twee opgesaalde donkies wat kreun onder hulle vrag. Dadelik herken hy Mefiboset se dienaar, Siba en die twee donkies is gelaai met brode en rosyntjies, vye en wyn. “En wat het jy hier?” wil Dawid nuuskierig weet.

“Dis vir u, Majesteit.” lag Siba. En dan vertel hy van die komplot wat besig is om gesmee te word in Jerusalem. Mefiboset is besig om homself as koning te verklaar en hy beweer dat dit sy reg is! Dawid is dadelik briesend oor hierdie jong man se arrogansie! Nét daar gee hy ál Mefiboset se besittings vir Siba.

Jy sal seker onthou dat Mefiboset die enigste oorlewende seun van Jonatan was. As jong seun het hy geval toe hulle op vlug geslaan het tydens die laaste groot slag tussen Saul en die Filistyne, en van toe af was hy kreupel. Later het Dawid hom oor Mefiboset ontferm, en hom versorg. Hy was baie goed vir Mefiboset. Is hierdie nou hoe Mefiboset Dawid se goedheid terugbetaal?

“Mooi!” wil ons vir Dawid sê as hy Mefiboset onteien, “Hy kry nou net wat hom toekom!”

Maar voordat jy te gou bly word, moet jy eers die sakie baie mooi bekyk. Sou die kreupel Mefiboset werklik in staat wees om die koningskap oor te neem? Het Siba nie dalk sy kans waargeneem om homself te verryk toe Dawid op sy kwesbaarste was nie? Later sal ons sien dat dit wél ‘n skelmstreek van Siba was ten koste van sy meester. Hy het Mefiboset ‘n verskriklike onreg aangedoen.

Dit lyk asof daar géén einde is aan Dawid se ellende nie. Wanneer hulle by Bagurim verbygaan, storm een van die inwoners uit en begin die allerverskriklikste beledigings na Dawid slinger. Dawid herken hom as Semeï, een van Saul se familielede. Die man kryt Dawid uit vir ‘n moordenaar en ‘n skurk, en dat hy Saul se familie uitgemoor het. Nou weet ons dat Dawid nog altyd maar net goed was vir Saul se familie en dat hy hulle gerespekteer het. En hier kom die man en vloek Dawid uit. Hy gooi die geselskap met klippe en hy beledig die soldate so ver as hulle gaan.

Seruja vervies hom vir die arrogante kêrel en wil nét daar sy kop afkap, maar Dawid keer hom. “Los hom, hy doen dit omdat die Here hom beveel het om dit te doen.” Só aanvaar Dawid gelate hierdie teistering. Hy voel dat hy dit dalk verdien om so uitgevloek te word.

Wanneer dit die dag werklik sleg gaan met jou, wonder jy of jy nie dalk iets verkeerd gedoen het nie. Straf die Here jou nie dalk oor jou sonde nie? Dawid het werklik nie hierdie verwyte verdien nie! Hy het nog nooit teen Saul se familie gesondig nie. Hy som die situasie totaal verkeerd op. Net so som ons ook dikwels die situasie verkeerd op, en dan gaan sit ons in sak en as om die verkeerde redes. Vir één ding moet ons egter vir Dawid krediet gee - dat hy eerder die skuld op homself pak as om iemand anders te blameer! Ja, so dikwels wil ons verwyte na ander slinger wanneer ons in die ellende gedompel is. Dit is óók verkeerd.

Die ent van Jerusalem af tot onder by die Jordaanvallei, is ‘n bitter moeilike pad deur onherbergsame berge en klowe. Kaalvoet oor die klipperige paadjie, strompel Dawid voort in die versengende hitte, onder die geklank van die vloekende Semeï. Uiteindelik bereik hulle doodmoeg die Jordaanrivier, en dan gaan rus hulle daar vir ‘n ruk. Dit is waarlik ‘n pikdonker, swart wolk van depressie wat oor hierdie patetiese groep mense hang. Het die einde van die pad vir hulle aangebreek?

Ek het self deur so ‘n donker tyd in my lewe gegaan en die gevaar was groot dat ek dit as God se straf sou sien op my sonde. Die feit is egter dat Hy alreeds ál my sondes vergewe het! Waarom sal Hy my dan nog straf as my sondes reeds vergewe is? As dit dan God se straf is, moet ons sekerlik die vraag vra waarom Paulus dan so verskriklik gestraf is? Het hy dan so baie gesondig? Nee, baie beslis nie!

Ek het tot die besef gekom dat daar ‘n baie groter doel is agter die beproewinge waardeur ek gaan. Soos wat ‘n pottebakker klei brei, hardhandig op die wiel gooi en vervorm, so maak die Here dikwels ook met ons. Uiteindelik word daardie rou stuk klei ‘n bruikbare pot soos wat die pottebakker beplan. Nét so kos dit dikwels van my seerkry sodat die Here hierdie pot van my lewe kan vorm. Daar is ook ‘n ander rede, en dit is dat die Here swaarkry en pyn in my lewe toelaat sodat ek die ondervinding daarvan eerstehands kan ervaar om sodoende ander te kan help wat nie weet hoe om dit te hanteer nie. Dit is dus ‘n skolingsproses. Wanneer swaarkry en pyn jou dus tref, wees dankbaar daarvoor en neem dit aan met vreugde, want dit beteken dat die Here jou waardig ag om deur hierdie dinge vir Hom te gaan.

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag kan weet dat U my brei en vorm en oplei vir U koninkrykswerk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026