Vissers van Mense

6 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vissers van Mense

Matteus 4:18-22

Het jy die Man gesien wat daar oorkant op die strand aangeloop kom?” Die negentienjarige Johannes se skerp ogies sien sommer dadelik die Vreemdeling raak.

Ek herken hom nie. Ek wonder wie dit kan wees?” Jakobus bepaal hom weer by die net waarmee hy besig is. Die ding het nogal erg beskadig met laasnag se visvangsessie, en hy moet regkom voordat hulle vanaand uitvaar.

Dis nie dalk die Een waarvan my Rabbi, Johannes die Doper gepraat het nie?”

Johannes het ál sy spaartyd by die Doper gespandeer. Hy het letterlik gehang aan die lippe van hierdie rowwe profeet. Johannes het homself eintlik gesien as ‘n dissipel van die Doper en hy het gewens dat hy ook eendag so sou kon preek vir die mense.

Nuuskierig soek sy oë daardie vreemdeling. Hy het nou gaan staan, en dit lyk asof Hy Hom verlustig in alles wat op die strand aan die gang is. Simon se skuit lê uitgesleep op die strand, en hy en sy broer Andreas staan halflyf in die water met werpnette. Arme Simon het seker laasnag niks gevang nie, dié dat hulle nou hier op die strand moet probeer om ietsie in die hande te kry. Maar dit lyk ook maar na ‘n hopelose poging. Hulle is nou al vir ure lank besig om die nette te gooi, in te trek, gooi, intrek, tot vervelens toe. En net so af en toe is daar ‘n ou vissie.

Johannes!” bulder Pa Sebedeus. “Watse gedroom is dit hierdie? Toe, toe, die nette moet klaarkom! Hou op ginnegaap!”

Johannes skrik hom yskoud. Pa Sebedeus is ‘n befoeterde ou man! Dis seker van hom wat hy en boetie Jakobus hulle humeur geërf het. Oorhaastig begin hy weer werk aan die stukkende net. Maar sy gedagtes bly by daardie Vreemdeling. As hy dit waag om skelm op te kyk, sien hy hoe die man afstap na Simon en Andreas toe. Hy beduie vir hulle iets, en dan trek die twee hulle nette in en gaan gooi dit in die skuit.

Johannes vrek van nuuskierigheid, maar hy moet konsentreer om die net reg te knoop, anders kry hy met Pa se tong te doene. As hy weer opkyk, is hy net betyds om te sien dat Simon en Andreas reguit na hulle skuit toe aangestap kom, vergesel van die Vreemdeling.

Die Man wink vir hom en Jakobus om af te klim. Hulle spring van die skuit af, en dan tref die Man se sagte woorde hom: “Volg my!” Johannes wil nog beduie na Pa Sebedeus wat hulle staan en aangluur. Maar dan sê die Man iets wat hom totaal onkant vang: “Kom saam met My, Ek sal julle vissers van mense maak!”

Dan herken Johannes Hom: Hy ís die Een van Wie Johannes die Doper gepraat het! Op daardie oomblik wéét Johannes dat hy hierdie Man se vriendelike uitnodiging net eenvoudig nie kan, nie mág weier nie. Hy praat met sovéél gesag, sovéél oortuiging dat Johannes en Jakobus albei onmiddellik instem. ‘n Briesende Pa Sebedeus word oorhaastig gegroet, en dan stap die vier manne saam met die Vreemdeling.

Johannes hou sommer dadelik van hierdie Man. Hy is vriendelik en met ‘n innemende geaardheid. Sy naam is Jesus en hy kom van Nasaret af. Daar het Hy gewerk as ‘n ambagsman. Maar Sy eie mense wou Hom nie meer daar hê nie. Hulle het Hom uit die dorp gejaag omdat Hy hulle die waarheid vertel het. Hulle het selfs probeer om Hom dood te maak, by ‘n krans probeer afgooi! “Maar Ek is nie kwaad vir hulle nie. Ek het hulle vergewe!” lag Hy. Toe het Hy besluit om Hom hier in Kapernaum te kom vestig. Simon wou weet of Hy nou hier Sy ambag kom voortsit? Sy antwoord was dat Hy eintlik as ‘n soort-van ‘n Rabbi hier kom werk. Maar Hy was baie vaag oor presies wat Hy werklik kom doen.

Baie gou leer die vier manne dat Hy ‘n besonderse groot kennis van die Woord het. Soos wat hulle aanstap, vertel Hy hulle allerhande dinge van die Woord wat hulle nog nooit regtig begryp het nie. Nou is dit asof daar ‘n splinternuwe lig vir hulle opgaan.

Dit was ook nie lank nie, of ‘n paar nuuskierige mense kom stap saam met hulle om te luister na al die wonderlike wyshede wat hierdie Jesus vertel. Johannes kry groot respek vir Hom. Hy is inderdáád ‘n volwaardige Rabbi! Hy praat met al die gesag wat die Rabbi’s praat, en nog baie meer! Hy onthou nog die tyd toe hy as jong seun aan die voete van die Rabbi moes sit. Daardie man was baie slim en hy het groot respek vir hom gehad. Maar die wysheid van hierdie Rabbi Jesus oortref daardie slim Rabbi by verre!

Kom ons, ek en jy, raak ook so opgewonde oor Jesus en hang aan Sy dierbare lippe om alles van Hom te leer. En kom ons vergewe ook maar die ouens wat ons probeer kwaad aandoen!

Gebed:

Here, leer my asseblief ook om mense wat my kwaad aangedoen het ten volle te vergewe, net soos U ook vergewe het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026