Vervolging Tref die Kerk

8 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vervolging Tref die Kerk

Handelinge 5:17-42

VIDEO | OUDIO

Bo alle verwagting, groei die kerk met rasse skrede. Die klein groepie van 120 volgelinge groei binne 'n baie kort tydjie aan tot 'n reuse skare van Jesus-aanhangers. Boonop bring talle wonderwerke die volk in vervoering. Die Hoëpriester en sy trawante is gevul met vrees, afguns en jaloesie! “Hierdie mense moet gestop word voor dit dalk hééltemal te laat is!” Die manne is bitter bekommerd en die tempelwagte word opdrag gegee dat die Apostels in hegtenis geneem word. “Sluit hulle toe, môreoggend sal ons met hulle galle werk!”

Intussen word die volle Joodse Raad bymekaar geroep vir die oggend se belangrike vergadering. Al die leiers van Israel is daar. “Gaan haal hulle,” kry die wagte die bevel van die Hoëpriester. ‘n Rukkie later kom die wagte uitasem terug by die vergadering. Wit in die gesig geskrik stamel hulle: “Hulle is weg!”

Wat bedoel julle met ‘Weg’?”

Die tronk is gesluit; die wagte is op hulle pos, maar daar is g’n teken van die Apostels nie! Ons verstaan dit nie! Ons het hulle sélf persoonlik daar toegesluit!”

Wat hulle nie geweet het nie, is dat God ingegryp het. In die nag het Hy ‘n engel gestuur om die Apostels te bevry. Drie keer lees ons in Handelinge van engele wat op so ‘n dramatiese wyse ingryp en tronkdeure vir mense oopmaak. Dit is egter baie belangrik om te weet dat hierdie engele nooit die Evangelie verkondig nie. Dit is die taak van mense, van die Apostels en ander gelowiges.

Nog een van die wagte kom, buite weste geskrik, hygend ingehardloop: “Daardie manne wat ons gisteraand toegesluit het staan in die tempel en preek!”

Gaan haal hulle!” Die Hoëpriester is woedend.

Die wagte is egter nie baie gewillig nie en hulle protesteer heftig: “Die mense gaan ons doodmaak as ons hulle weer arresteer!” Dit is ‘n bedremmelde groepie wagte wat uiteindelik mor-mor en baie halfhartig instem om die manne te gaan haal. By die tempel aangekom word die Apostels nie weer gearresteer nie, maar mooi gevra of hulle nie asseblief maar wil saamkom nie, “want die Hoëpriester wil met julle praat,” verduidelik die bevelvoerder.

By die vergadering word die Apostels behóórlik oor die kole gehaal omdat hulle alle opdragte van die Raad verontagsaam het. Hulle is immers by die vorige geleentheid ten sterkste belet om óóit weer oor Jesus te praat, en wat gaan staan en doen hulle? Hulle steur hulle nie eers aan die hoogste gesag in Israel nie! Die ganse Jerusalem lê vol van die “snert” wat hulle verkondig! Boonop wil hulle ook nog voorgee asof die Joodse Raad die vark in die verhaal is. Volgens Petrus is dit húlle wat verantwoordelik was vir Jesus se dood! Hierdie onding moet onmiddellik staak!

Petrus is weereens die een wat na vore tree. Sonder vrees en vol vertroue wat die Heilige Gees hom gee verklaar hy: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense!” Hy gaan verder en steek sommer ‘n preek af vir die geleerde manne wat daar sit en hom aangluur. Die Joodse Raad is woedend! As hulle kon, het hulle hierdie Apostels nét daar en dan laat doodmaak!

Dan staan Gamaliël op, ‘n man wat darem ‘n bietjie insig het. Hy stuur die Apostels uit sodat hy privaat met die Raad kan praat. “Kollegas, ons moet baie versigtig wees dat ons nie dalk vir God teëgaan nie! Ons sal wél gou sien of hierdie dinge van God kom of nie. As dit mensewerk is, sal dit bloot oorwaai. Kom dit egter van God af, dan kan ons absoluut niks daaraan doen nie!”

Die apostels word ingeroep en weereens word hulle dééglik geroskam en belet om verder te praat. Boonop word hulle geslaan voordat hulle vrygelaat word. Hierdie ou insidentjie het hulle egter géénsins van stryk gebring nie en spoor hulle juis nét aan om die Evangelie met nog groter vuur te verkondig. In sak en as gaan sit? Nog nooit nie! Vir hulle was dit ‘n reuse voorreg om te kon ly vir hulle Meester, Jesus!

Die Jehovah’s Getuies verkondig ‘n dwaalleer, maar één ding kan ons by hulle leer en dit is om jou nie te laat afsit as iemand jou uit die huis jaag nie. As hulle uitgeskel word, stap hulle net eenvoudig na die volgende huis om hulle boodskap te bring. As gelowiges moet verwerping en vervolging eintlik as aansporing dien om die Woord met nog groter ywer uit te dra. Ek is sélf al ’n slag of wat uitgevloek omdat ek die Evangelie ongevraagd aan iemand gestuur het. Om te sit en tob en wroeg daaroor is sinneloos! Dit is nie mý boodskap wat hy verwerp nie maar God s’n! Laat dit aan Hom oor!

Die Evangelie word nie deur teenstand en swaarkry ondergekry nie. Die ware lig kan nooit deur die donkerste nag van vervolging of teenstand uitgedoof word nie, daarvoor sorg God sélf! Hy gee my en jou, Sy kinders die krag en wysheid sodat ons met vrymoedigheid oor Hom kan bly getuig. Soms bewe ons knieë, maar dan verseker die Gees ons dat ons op die Rots staan wat nooit sal bewe of wankel nie.

Gebed:

Here, hou asseblief my oë altyd gevestig op Jesus, my Rots, selfs deur die donkerste tye van vervolging en vernedering sodat ek met vrymoedigheid van U kan getuig. Gee asseblief vir my die regte woorde sodat ek U heilige Naam altyd hoog kan hou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026