Vervoerings en Dorings

3 October, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vervoerings en Dorings

2 Korintiërs 12:1-10

Ek het eenmaal ‘n “vervoering” beleef. Dit was 26 Desember 2003. Ons was baie vroeg die oggend op pad van Ballito na die Laeveld deur Zoeloeland. Daar beleef ek ‘n gevoel, ‘n wegvoering - noem dit wat jy wil - wat ek nooit sal vergeet nie, en die wonderlike beloftes wat God my daardie oggend gegee het, gee my ‘n gloed in my hart. Lees dit gerus by bit.ly/dsGenade

Ek het al ook die voorreg gehad om met ‘n persoon te gesels wat ‘n naby-doodse ervaring gehad het, waar hy ‘n kykie in die hemel gekry het. Hy het die hemelpoorte oop gesien, en hy het die heerlikheid van die hemel ervaar. Sy tyd was egter nog nie daar nie, en hy is teruggebring. ‘n Mens wil die vraag vra of hy (sy gees) fisies daar in die hemel was, en of dit net ‘n visioen was wat die Here vir hom gegee het? Ons sal nie weet nie, maar vir hom was dit ‘n werklikheid.

Paulus vertel ook van sulke ervarings wat “’n man” gehad het. Hy verwys eintlik na homself, en ook hý kan nie met sekerheid sê of hy fisies weggevoer was na die “derde hemel” en of dit net ‘n gesig of visioen was nie. Dit maak in elkgeval nie eers saak nie. Volgens Joodse opvattings was daar sewe hemele, onder meer die wolkehemel, sterrehemel en die derde hemel, wat die woonplek van God en die verlostes is. Die derde hemel sou dus dui op die teenwoordigheid van God. Sou sulke verhewe ervarings van Paulus ‘n verhewe Christen maak? Hy het immers ‘n geesteservaring beleef wat min mense beskore is! Paulus beklemtoon dit egter dat hy dalk wél daarop sou kon roem, maar dit maak hom niks beter as enige ander mens nie. En net om hom daaraan te herinner dat hy nie kan spog met sy ervarings nie, het hy ‘n “doring in die vlees” gekry. Hy sê dat dit is soos “’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.” (vers 7)

Daar is al baie bespiegel oor watter soort doring hierdie kon wees. Dit was heel waarskynlik die een of ander gesondheidsprobleem, moontlik iets te doene met sy oë. Telkens sien ons dat hy sy briewe slegs onderteken, en dan “in groot letters”, omdat hy baie sleg sien. Iemand het deurgaans ál sy briewe vir hom geskryf terwyl hy dikteer. Dit was moontlik nog die nagevolge van sy Damaskuservaring, toe hy vir ‘n paar dae blind was. Dit kon dalk ook iets anders wees, soos malaria of ‘n spraakgebrek of epileptiese aanvalle. Dit kon selfs die nagevolge wees van ‘n besering, moontlik tydens een van die vele kere wat hy gegésel is. Alles is egter slegs bespiegelings. Wat ons wél weet is dat hierdie doring in die vlees ’n voortdurende lyding was wat hom weerhou het van enige selfverheffing.

Drie maal het Paulus al gebid dat die Here die doring van hom moet wegneem. Die Here het nie sy doring weggeneem nie, maar aan hom die krag gegee om daarmee saam te leef. Hy herinner Paulus daaraan dat Sy genade vir hom genoeg is. Die seëninge wat God ons skenk in Jesus Christus is voldoende in voor- en teëspoed. God se krag word juis sigbaar wanneer ons geheel en al afhanklik en swak is. Hoe minder ek op my eie vermoëns en krag steun, hoe meer word die krag van God sigbaar! Die krag van Christus is deel van Paulus se lewe. Sy swakheid is juis die rede waarom hy die krag van Christus so kennelik ondervind.

Daarom besef Paulus dat hy nie in verset moet kom teen sy swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede nie. Dit alles ondervind hy juis ter wille van Christus. As hy self op sy swakste is, kom die krag van Christus op sy sterkste na vore. Eers toe hy geleer het om nie op eie krag staat te maak nie, het Paulus die krag van Christus wat deur hom werk, ontdek.

Dalk sit jy vanoggend met so ‘n “doring in die vlees”, en jy wonder waarom jy dan so “gestraf” moet word. Vra die Here biddend vir ‘n antwoord. Paulus het dit gedoen, en die Here se antwoord was duidelik dat dit hom plat op die aarde moes hou sodat hy nie dalk hoogmoedig sou raak nie. Jou antwoord kan dalk iets heeltemal anders wees. Kyk maar hoe gebruik die Here dikwels erg gestremde mense om ander te inspireer. Die afgelope paar jaar het ons etlike gestremde atlete gesien wat heel bo uitstyg, en selfs meeding teen atlete wat normaal is. Die borrelende lewensvreugde van ‘n meisie met spierdistrofie, vasgevang in haar rolstoel, is ‘n inspirasie vir die hele wêreld. En wat van die jong man wat Kilimanjaro uitgeworstel het in sy rolstoel? In sy “patetiese” toestand het hy gevorder tot waar ek en jy dit nie eers sal waag nie. Hy dra die boodskap uit dat ons verby ons probleme moet kyk en die uitdagings wat die lewe ons bied vierkant in die oë moet kyk. ‘n Swemkampioen met net een been; ‘n langafstand atleet wat die Comrades hardloop op krukke. En dan is daar ons geliefde sanger, Mathys Roets! Alles dorings wat mense laat blom.

Paulus se doring moes hom nederig hou. Die doring in my en jou lewe het dalk ‘n gans ander doel. Aanvaar die dorings met vreugde!

Gebed:

Here, daar is ook dorings in my lewe - my gebed vandag is dat U my aanvaarding sal gee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026