Verlei!

1 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verlei!

Genesis 39:6-23

Mooi man was hy - Josef! Die langbeen tiener wat Potifar op die plein as jong slaaf gekoop het, het uitgedy tot ‘n frisgeboude man, en baie aantreklik. Aard na sy mooi ma en ouma en oumagrootjie wat almal sulke mooi mense was. Mooi het ongelukkig ook sy nadele. Kyk maar net hoe het die manne met leepogies gekyk na Sara - sy het hulle knieë lamgemaak. Rebekka het dieselfde invloed op die manne gehad, en die arme Isak moes nes sy pa Abraham allerhande plannetjies maak om uit die moeilikheid te bly met sy beeldskone vrou. Ragel het vir Pa Jakob skoon uitgeboul die eerste keer wat hy sy oë op haar lê, en hy was selfs bereid om veertien jaar lank te werk vir haar!

Maar dis nie net die mooi vroue wat soveel moeilikheid met hulle saamdra nie. Josef se aantreklikheid het hom ook nou in die sop, want meneer Potifar se vrou stel hoeka hééltemal te veel belang in hierdie jong blaartjie. Toe hy nog maar net ‘n doodgewone slaaf was, het sy nou nie juis notisie geneem van hom nie, maar nou dat hy so ‘n groot bevordering gekry het, begin hy al hoe meer begeerlik lyk. Sy sit heeldag ledig by die huis en sien haar baie belangrike man maar net so af en toe. Dit maak dat die mooi Hebreër nog meer aanloklik begin lyk.

Josef begin al hoe meer ongemaklik voel in haar teenwoordigheid. Hy kan eintlik voel hoedat sy hom uittrek met haar oë. Op ‘n dag wink sy hom nader: “Josef, kom lê ‘n bietjie hier by my." Josef skrik hom yskoud. Wat moet hy doen? Sy is in haar slaapkamer! Hier kom gróót moeilikheid!

n Man voel gevlei as ‘n mooi vrou sulke uitnodigings aan jou rig, veral nog as sy boonop een van die invloedrykste vroue in die land is. Nie alleen is al haar aandag baie vleiend nie, maar boonop kan sy ook baie vir ‘n man se loopbaan beteken. Dink maar net hoeveel voordele so ‘n verhouding vir jou kan inhou, nie eers gepraat van hoe dit ‘n man se ego streel nie!

Maar die realiteit van die saak tref vir Josef. ‘n Mens doen net eenvoudig nie sulke dinge nie! So is hy geleer. Kyk maar net hoeveel droefheid boetie Ruben veroorsaak het toe hy en pa Jakob se slavin-vrou ‘n verhouding aangeknoop het. Is hierdie nie maar presies dieselfde ding nie? Pa Jakob het hom geleer dat sulke dinge verkeerd is in die oë van die Here. “Jammer, nee”, stotter Josef voor die aanloklike vrou, “Meneer vertrou my! Hy het my die hoogste moontlike pos gegee wat ‘n slaaf kan beklee. Ek is aangestel oor sy hele huishouding, en u is mos sy vrou. Dit sal verkeerd wees! Boonop gaan ek sondig teen my God”.

Daarmee draai Josef om en stap uit. Mevrou Potifar is verslae! Hoe kan hy so onnosel wees om so ‘n aanbod te weier? Die ander manne van Egipte sal oor mekaar val om ‘n nag by haar in die kooi deur te bring. “Vir Josef wil ek hê, kom wat wil! Ek sal hom nog bed toe sleep, al is dit die laaste ding wat ek doen!”

Potifar is vir ‘n lang ruk uithuisig, en mevrou Potifar se begeerte na hierdie mooi jong kêrel raak al hoe groter en dringender. Sy probeer elke truuk in die boek om hom te probeer uitlok, maar elke keer ontglip hy haar. “Miskien is hy bang dat iemand ons saam sien. Dalk moet ek sorg dat ek en Josef alleen in die huis is.” Mevrou Potifar kry haar plannetjies baie mooi agtermekaar. Al die slawe kry die dag af sonder Josef se medewete. As hy daardie oggend in die huis instap, kom hy agter dat hier iets broei. En dan is Mevrou Potifar hier langs hom, en hy sien sommer dat sy nie hier is vir speletjies nie. “Kom Josef, kom lê by my asseblief, ons is alleen....”

Josef skrik hom yskoud. “Nou moet jy vlug ou maat”, skiet dit deur sy brein, en hy maak presies nét so. Hy maak hom uit die voete, maar die desperate vrou gryp hom aan sy klere. Josef ruk hom los, maar in die proses skeur sy die klere van sy lyf af. Josef hardloop uit die huis uit, net té bly dat hy uit haar kloue kon ontsnap.

Mevrou Potifar is woedend! Die spreekwoord lui: “Hell hath no fury like a woman scorned.” Wanneer die ander slawe terugkom, gil sy blou moord: “Daardie man wou my probeer verkrag! Kyk, in sy haas om weg te kom het hy nog van sy klere hier vergeet!”

Wanneer Potifar uiteindelik weer tuis is, hoor hy van die verskriklike ding wat sy vrou oorgekom het, en Josef beland in die tronk. Eintlik moes Josef net daar tereggestel word, maar ek dink Potifar het dalk sy vrou se storie met ‘n knippie sout geneem, en dwarsdeur haar treurmare gesien.

Hoe onregverdig,” wil ons sê. “Kon God nie iets daaromtrent gedoen het nie? Josef het dan juis gehandel volgens God se wil?” Maar die Here het ‘n baie groter taak vir Josef gehad as om maar net vir Potifar te werk. En daarvoor moes Josef uit Potifar se huis verwyder word, en dan boonop ook eers ‘n tyd in die tronk deurbring. Vir Josef was die tronk ‘n klein opoffering vir die groot dinge wat nog op hom gewag het. Hy moes maar net geduldig wees. God se plan met my en jou lyk dikwels baie raaiselagtig. Maar as ons geduldig wag, sien ons hoe Hy Meesterlik beplan.

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld wat Josef vir ons gestel het. Help my om ook so voor al die aanloklike versoekings steeds staande te bly.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026