Verkleurmannetjie

26 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verkleurmannetjie

Handelinge 21:17-26

VIDEO | OUDIO

'n Verkleurmannetjie is 'n wonderlike ding om sy kleure so te kan verander om weg te kruip vir sy prooi en vyande. Maar hy is maar vaal en verlep as jy hom vergelyk met ‘n seekat. Díé slim slak kan binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde sy kleur en selfs ook sy hele veltekstuur verander om perfek aan te pas by sy omstandighede. Een oomblik is hy ‘n gladde, soepel ligbruin slak en die volgende 'n growwe, stekelrige, veelkleurige, algbegroeide rots. Hy wissel willekeurig van feitlik spierwit na pikswart en ‘n reënboog van kleure tussenin, nog voordat jy jou oë kan knip!

Paulus was ook so ‘n “verkleurmannetjie”, maar om totaal ander redes. Op sy sendingreise het hy saam met die heidene op die stadsplein gesit en redeneer en waarskynlik dikwels by hulle oorgeslaap. Dit was natuurlik iets wat enige ware Jood beslis die horries sou gee! Nogtans was hy steeds ‘n Jood in murg en been, selfs ‘n Fariseër in sy jongdae! Hy was dus baie bekend met elke moontlike en onmoontlike Joodse gebruik. Paulus het steeds die belange van die Joodse volk op die hart gedra en veral baie empatie gehad met die Joodse gelowiges in Jerusalem wat só noustrop getrek het. Daarom het hy geld ingesamel by al die “heidense” gemeentes om te help in Jerusalem se nood.

Die Joodse gelowiges het Paulus egter gewantrou en daar was selfs van die gemeentelede wat geweier het om die geld te aanvaar om die blote rede dat dit uit die nie-Joodse geledere kom. Hulle kon hulleself net eenvoudig nie versoen met die gedagte dat álle gelowiges, ook heidene een in Christus kon wees nie!

Paulus was egter bereid om alles in sy vermoë te doen om die vrede en versoening te bewerkstellig. Met sy aankoms in Jerusalem gaan gesels hy dadelik met Jakobus en die ander leiers van die gemeente. Hy vertel opgewonde vir hulle van die wonderlike dinge wat daar in die sendingveld gebeur het. Hulle was egter meer bekommerd oor die huidige situasie en oor die gerugte van Paulus se “liberale” bediening wat die rondte gedoen het. Volgens hierdie gerugte sou Paulus die Jode geleer het om van die wet van Moses te vergeet en om nie hulle kinders te besny of Joodse gebruike na te kom nie.

Paulus was verstom. Hierdie was 'n totale verdraaiing van die ware feite. Hy het nooit aan enige Jode voorgeskryf wat om te doen nie. Vir die heidene wat gelowig geword het, het hy gesê dat daar 'n paar Joodse voorskrifte was wat hulle moes respekteer, soos wat daar destyds op die groot kerkvergadering besluit was. Wat Paulus egter baie duidelik gestel het, is dat die onderhouding van die wet niemand ooit in die regte verhouding met die Here kon bring nie. In sy brief aan die Galasiërs het Paulus hierdie hele probleem in diepte bespreek in hoofstukke 3 en 4.

Die manne het verstaan. Maar hulle was steeds baie bekommerd want hierdie gerugte oor Paulus het die hele stad volgelê. Wat sou hulle moes doen om dit te besweer?

Dan kom een kêrel vorendag met 'n blink gedagte: “Al wat ons moet doen is om Paulus iets te laat doen wat ál die aandag op hom sal vestig, iets wat sy lojaliteit sal bewys. Ons móét sy goeie naam herstel!”

Jakobus het die antwoord: “Hier is vier jong manne in die gemeente wat 'n Nasareërgelofte afgelê het. Die tyd het nou aangebreek dat hulle 'n offer moet gaan bring in die tempel om die gelofte te beëindig. Maar ek weet dat hulle dit nie breed het nie. Paulus, as jy bereid is om hulle te neem vir hulle reiniging en die koste sal dra, dan sal almal mos kan sien dat jy steeds lojaal is.”

Daar was egter 'n probleempie: omdat Paulus uit 'n heidense gebied kom, was hy volgens Joodse voorskrifte onrein en hy moes dus sélf eers 'n reinigingsritueel deurgaan voordat hy in die tempel sou kon ingaan. Dit het behels dat hy by 'n priester moes aanmeld. Drie dae later word hy met water besprinkel asook weer op die sewende dag. Eers daarna kon hy “rein” verklaar word.

Paulus doen soos voorgeskryf en op die sewende dag neem hy die vier manne en laat hulle hare afskeer volgens voorskrif. Hulle hare word in die offervuur gegooi as teken dat hulle gelofte afgehandel is.

Maar dan kom daar 'n gróót probleem! Maar hieroor praat ons volgende keer.

Hier sien ons nou ‘n totaal ander Paulus as die een waaraan ons gewoond geraak het. Op die sendingveld het hy alle Joodse tradisies oorboord gegooi om die vertroue van die heidene te wen. Maar toe hy in Jerusalem kom, was hy weer die tipiese Jood wat deelgeneem het aan al die Joodse gebruike en rituele, bloot omdat hy niemand wou aanstoot gee nie!

Dis beslis nie maklik om uit jou gemaksone te beweeg nie. Om binne jou vriendekring of geloofsgemeenskap oor die Evangelie te gesels, is baie maklik. Wanneer jy egter in totaal ander omstandighede nog steeds vrymoedig dieselfde gesprek wil voer, raak jy ongemaklik, veral as dit ‘n gemeenskap is met ‘n ander kultuur as waaraan jy gewoond is. Om in so ‘n situasie in te pas en die mense se vertroue te wen, moet jy jouself met hulle kultuur vereenselwig. Beweeg jy uit ‘n gegoede lewensstyl na ‘n behoeftige gemeenskap, sal jy absoluut niks uitrig as jy uit die hoogte met hulle praat nie. Jy moet op dieselfde vlak as hulle wees. Jy moet dus as’t ware een van hulle wees om waarlik hulle vertroue te kan wen. Paulus het hier vir ons ‘n baie goeie voorbeeld gestel oor hoe die ding gedoen moet word. Die resultate wat Paulus behaal het was absoluut verstommend. Die rede was dat hy bereid was om homself prys te gee vir die een enkele saak: Jesus Christus. Is ek en jy bereid om dit te doen?

Gebed:

Here, ek bely vanoggend my hoogmoed en ek vra dat U my daarvan sal bevry sodat ek bruikbaar kan wees in U Koninkryk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026