Verhewe Gawes

24 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verhewe Gawes

1 Korintiërs 12:12-26

VIDEO | LUISTER

Het jy al ‘n slaggie mooi na die natuur gekyk, en gesien waar elkeen inpas? Kyk jy na ‘n suksesvolle ekosisteem soos die Kruger Wildtuin, dan staan jy verstom oor hoe elke ratjie sy presiese plek het. Daar is ‘n uiters fyn balans regdeur die stelsel, en dit ten spyte van sulke goed soos die verskriklike ontwrigtende oorstromings wat onlangs die Wildtuin getref het.

Die ou heel grote, die olifant, sorg dat die bos nie te wild groei nie, en dat daar darem oop kolle is vir gras om te groei. Buffels, in hulle reuse troppe, hou weer die lang gras in toom, sodat die ander grasvreters soos sebras en blouwildebeeste kort gras het om te kan vreet. Leeus hou die getalle van rooibokke, buffels en sebras onder beheer. Bosluise sorg dat ou en swak diere vinnig verder verswak, wat maak dat hulle maklike prooi word vir veral kleiner roofdiere. En so word die trop gesond en paraat gehou sodat slegs die beste gene oorgedra word.

Eintlik is dit baie meer ingewikkeld as hierdie vereenvoudiging. Die natuur is soos ‘n baie delikate horlosie met fyn en uiters ingewikkelde ratwerk. As een enkele ratjie verwyder word, dan is die hele horlosie in die moeilikheid! Dan kan hy nie behoorlik funksioneer nie. En as een rat toegelaat word om te groot te word, dan word die balans ook versteur, soos wat soms gebeur met die ontploffing van olifantgetalle. Die ganse bos word dan bedreig!

Die kerk van Christus is ‘n ewe-delikate klokwerk wat baie fyn gebalanseer is deur ‘n groot verskeidenheid ratjies van verskillende formate en groottes. Hierdie klokwerk kom op baie verskillende terreine voor. Nie alleen bestaan die kerk uit ‘n groot verskeidenheid nasionaliteite, etniese groepe, kleure, tale, volke, ryk en arm nie, maar daar is ook ‘n groot verskeidenheid aanbiddingstyle onder gelowiges.

Gister het ons gesels oor die verskeidenheid van Geestesgawes. In vandag se gedeelte wil Paulus illustreer dat al die verskillende gawes tóg ‘n eenheid vorm.

Iemand was eenmaal baie geskok omdat ek die kerk met diere of die natuur probeer vergelyk het. Paulus het ‘n ewe skokkende stelling gemaak vir die Korintiërs, deur die Geestesgawes te vergelyk met die liggaam. Skokkend, want die Korintiërs het die liggaamlike absoluut verag! Die gemeente in Korinte het egter ‘n ander probleem gehad, naamlik om een van die Geestesgawes bo al die ander te verhef, en hierdeur ‘n wanbalans te veroorsaak. Die gawe wat hulle so hoog geag het, was die gawe van spraak. Met hierdie gawe was jy verhewe bo die res, want dan het jy die klinkklare bewys gehad dat jy die Heilige Gees in jou het en dat jy deur die Gees praat. Die res was op ‘n laer vlak, dus wou almal slegs die gawe van spraak beoefen. Sodoende het daar ‘n wêreldse klasseskeiding in die gemeente ontstaan. Dit het só erg geraak, dat mense met hierdie gawe hulleself eksklusief as Christene beskou het. Dit het ‘n soort modegier geword.

Daarom het Paulus hierdie absurde vergelyking gemaak met die liggaam, om te wys hoe belaglik hulle handeling werklik is. ‘n Liggaam bestaan uit baie ledemate, verduidelik hy, en as die liggaam slegs uit een eksklusiewe ledemaat bestaan het sou dit net eenvoudig nie kon werk nie. As die hele liggaam byvoorbeeld net oog was, sou dit ‘n tragedie wees, want hoe sou jy kon hoor sonder die “minderwaardige” oor? Dit sou ‘n baie vreemde en beslis bizarre situasie afgee.

Op dieselfde wyse is daar ‘n groot verskeidenheid geestelike gawes nodig om die “liggaam” van die kerk behoorlik te kan laat funksioneer. En die een is nie verhewe bo die ander nie. As almal byvoorbeeld net wou profeteer en in tale praat, sou daar ‘n reuse wanbalans in die kerk wees. Verséker is hierdie gawes belangrik, maar ons moet versigtig wees om nie ‘n enkele gawe uit te sonder en dit te verhef bo die ander nie.

Daar is egter ‘n ander gevaar wat die kerk bedreig, wanneer die een gawe bo die ander verhef word, en dit is geestelike hoogmoed. In Korinte het die rykes en vernames op die “onaansienlikes” neergesien. Die rykes was uiteraard die slim en geleerde mense, en vir die armes wat nie opleiding kon bekostig nie, was dit ook nie beskore om die nuwe gier van spraak-gawes te bemeester nie. “Ek het jou nie nodig nie”, sê Paulus, is die reaksie van die rykes teenoor die armes, omdat hulle nie die eksklusiewe gawes het nie.

Paulus raak amper banaal as hy steeds die liggaamsdele met mekaar vergelyk, en dan tot die slotsom kom dat die dele waaroor ons nie eers wil praat nie, nét so ‘n belangrike plek inneem as die hoogverhewe oog.

Ek is al verskeie male aangeval omdat ek sekere Geestesgawes nog nie “bemeester” het nie. Ek is dolgelukkig met dit wat die Here my gegee het, en ek gun elkeen die gawes wat hy gekry het, en is saam met hulle bly daaroor. Moenie dat ons op mekaar jaloers raak of dat ons onsself verhef bo iemand anders nie. Onthou altyd waarvandaan jou gawes kom, en leef in afhanklikheid van God!

Gebed:

Dankie vir die gawes wat U my gegee het, Here. Help my om dit in nederigheid te gebruik!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026