Verheerlik op die Berg

8 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verheerlik op die Berg

Lukas 9:28-36

VIDEO OUDIO

Weereens tref ons Jesus aan waar Hy besig is om te bid - dit gebeur elke keer wanneer daar ‘n groot ding gaan gebeur of wanneer Jesus groot besluite moet neem.

Die toneel vind plaasn week nadat Jesus die aankondiging gemaak het dat Hy vervolg sou word en sterf. Hy neem die binnekring van sy dissipels, Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom die berg op waar Hy wou gaan bid. Die drie manne was seker uitgeput want skaars het hulle gesit om vir Jesus te wag om klaar te bid, of hulle was vas aan die slaap! ‘n Rukkie later skrik hulle wakker. Die manne kyk vraend na mekaar – hulle hoor stemme wat praat. Hulle verstaan dit nie want hulle was dan alleen hier op die berg saam met Jesus! Dan sien hulle iets wat hulle totaal onkant gevang het. Jesus se hele voorkoms het totaal verander en sy klere was skitterend blink. En saam met Hom was daar twee baie vreemde manne wat maar net beskryf kon word as hemelse wesens. Ook húlle voorkoms het geskitter.

Geleidelik het die besef tot Petrus-hulle deurgedring dat die twee hemelse manne niemand anders was nie as Moses en Elia. Verslae staan die drie en luister na die gesprek tussen Jesus en die twee profete wat gegaan het oor Jesus seuittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring” (v. 31). Wat presies dit beteken het, het hulle nog gladnie verstaan nie. Om die waarheid te sê, het die drie dissipels nie eers die vaagste idee gehad waaroor hierdie hele toneel gegaan het wat voor hulle afgespeel het nie. Oorbluf het hulle daar alles staan en aangaap!

Soos gewoonlik was dit alweer Petrus wat gepraat het voordat hy gedink het. Hy wou voorstel dat daar drie hutte gebou moes word vir Jesus, Moses en Elia. Hy wou hulle nét so vir altyd daar hou! Dit was hemel op aarde!

Die volgende oomblik hetn wolk hulle uit die niet oordek en die stem van God het uit die wolk weerklink: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom!” Die volgende oomblik was Elia en Moses weg, soos mis voor die son en alles was weer normaal.

Die drie kry die opdrag om nie ‘n woord te rep oor wat hulle beleef het nie. Wie sou hulle in elkgeval ooit glo? Eers heelwat later het die drie die moed gehad om te praat oor daardie dag op die berg.

Hoe moet ons hierdie gebeurtenis verstaan?

Moses en Elia het in werklikheid die wet en die profete verteenwoordig. Hier vervul hulle die rol van Ou-Testamentiese getuies van wie Jesus werklik is. Die feit dat hulle in so ‘n hemelse glans verskyn het, plaas die stempel op hulle hemelse status, en laat die drie verstaan dat hulle ‘n bonatuurlike en baie belangrike oomblik beleef het. Die heiligheid van die oomblik het om hulle gestraal. Die feit dat Jesus se voorkoms en klere geskitter het, bevestig Sy Goddelikheid. Hulle moes dééglik besef dat Hy beslis nie netn gewone mens was nie, maar tegelyk ook God.

Jesus se gesprek met die twee oues van dae het gegaan oor ‘n baie belangrike en gewigtige saak: Sy “uittog in Jerusalem”, ‘n groot taak wat vir Jesus voorgelê het. Ons moet die woord “uittog” hier sien binne die raamwerk van Goddelike oorwinning. Dit verwys dus nie alleen na Jesus se lyding en dood nie, maar ook na Sy opstanding, hemelvaart en verhoging tot die hoogste Gesag.

Die verhaal bereik ‘n hoogtepunt waar God uit die wolk praat en net soos by Jesus se doop weer bevestig dat Jesus in werklikheid die Seun van God is. Telkemale word Jesus se Seunskap op bonatuurlike wyse aan mense bekend gemaak. Hulle moet behóórlik hiervan kennis neem. Meer nog: hulle moes na Hom luister, Hom gehoorsaam, doen wat Hy vir hulle sê, Sy opdragte uitvoer!

Na die glansverskyning was Jesus skielik weer alleen saam met die drie dissipels. Moses en Elia se blitsbesoek was verby en hulle is terug na hulle hemelse tuiste. Jesus moes verder Sy taak alleen uitvoer. Hoe verskriklik alleen sou dit nie later word nie, toe selfs die drie binnekring manne Hom uiteindelik sou verlaat!

Waar laat hierdie verhaal ons vandag? Soos die drie dissipels, wil ons ook soms “hutte bou”, en vir Jesus daar op ‘n berg plaas sodat ons Hom van ‘n afstand af kan aanbid. Solank Hy daar bo in glorie op ons neerkyk, en ons kan weet dat Hy maar altyd daar is, is ons gelukkig. Ons moet egter, nés Petrus-hulle teruggeruk word na die werklikheid en besef dat Jesus deel is van ons alledaagse lewe. Nie alleen is Hy God daar bo nie, maar Hy is ook God hier met ons. ‘n Persoonlike verhouding met Hom beteken dat ons Hom nie op ‘n afstand aanbid nie, maar dat ons Hom deel maak van alles wat ons doen Ons moet Hom ken in absoluut alles in die lewe. O, verséker moet ons in verwondering staan as ons Sy heerlikheid aanskou. Verséker moet ons elke oomblik van die dag besef dat ons hier met die Almagtige God te doene het en nie sommer ‘n “Maatjie” nie. Terselfdertyd moet ek dit egter baie deeglik besef dat Hy elke oomblik van die dag hier by my is en dat ek met ál my bekommernisse, droefheid, vreugde en blydskap na Hom kan gaan!

Gebed:

Here, hou my gedurig onder die besef van U groot heerlikheid, maar dankie dat U altyd daar is vir my.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026