Vergifnis

23 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vergifnis

Genesis 33:1-20

Jakob se ondervinding by die Jabbokspruit moet sékerlik ‘n baie traumatiese ervaring gewees het. Om te besef dat jy met God geworstel het deur die nag, en dit was nie maar net ‘n droom nie, want nou sit hy steeds met hierdie heup wat kloppend seer is. Die ding was dan uit sy potjie geslaan, en die arme Jakob kan skaars loop - ‘n pynlike herinnering van die vorige nag se geveg. Hinke-pink loop Jakob sy gesin van agter in. Die arme man se kierie maak diep duike in die sand.

Maar Jakob se pyn is baie gou vergete, want hy skrik hom spierwit as hy in die verte ‘n stofwolk sien aankom. In sy binneste wéét Jakob: “Dis Ouboet Esau op die oorlogspad!” Soos wat die stofwolk nader kom, groei Jakob se angs: “Vandag is die dag dat my broer my lewendig afslag en my liggaam vir die aasvoëls voer!” Haastig begin Jakob organiseer om darem die impak so ‘n bietjie minder te maak. Die slavinne en hulle kinders word voor in die linie geplaas, dan kom Lea en haar kinders, en heel agter Ragel met haar kindertjies. En dan loop staan Jakob héél voor en wag met ‘n kloppende hart vir sy einde. Vir twintig jaar het Esau se woede teenoor sy broer wat hom so verneuk het opgebou, en hier kom hy nou aangejaag met vierhonderd soldate by hom om vir Jakob met sy “leër” van weerlose vrouens en kindertjies te kom platvee, van die gesig van die aarde af. Vir ‘n vlietende oomblik wonder Jakob of Esau darem die geskenke gekry het wat hy vooruit gestuur het? Soos hy Esau ken sou die man seker die hele lot vrekgemaak het, skape, bokke, kamele én die slawe, uit pure woede vir sy broer. Hy sal nooit daardie dag vergeet toe Esau gesweer het dat hy hom gaan vermorsel nie. Was dit nie vir Pa Isak nie.......

In ‘n stofwolk ruk Esau sy perd tot stilstand en hy spring af. Jakob buig diep. Dalk sal dit sy broer se hart ‘n bietjie sagmaak. Grootoog kyk Jakob toe hoedat sy woeste rooikop broer aangestorm kom. Hy buig weer, baie diep. Sy heup pyn ondraaglik, maar hy byt vas! Net vir die wis en onwis buig hy weer ‘n slag - sommer sewe maal. As Esau by hom kom gryp hy hom .......... en soen hom! Jakob kan sy oë nie glo nie: sy wilde, woeste, wrede broer Esau soen hom dan! Waarom maak hy hom nie dood nie?

Jakob bars in trane uit. Hy omhels sy broer wat hy twintig jaar laas gesien het. Saam huil die twee geharde manne dat die trane spat.

Wanneer hulle tot bedaring kom, wil Esau weet: “En al hierdie mense by jou? Wie is die spul vrouens en kindertjies?” En dan verduidelik Jakob dat hulle almal syne is. Die Here het hulle in Sy groot liefde vir Jakob gegee.

Ek dink dat jy vir Esau met ‘n veertjie kon omslaan. Toe hy laas vir Jakob gesien het, was dié nog ‘n regte mamma-se-seuntjie wat maar één rokspant geken het, sy ma s’n. Die verwyfde mannetjie het g’n nooit in ‘n meisiekind se rigting gekyk nie. En nou? Nou sit hy met ‘n string vrouens en ‘n dosyn klein kindertjies! Ja, hy het nog gedink dat dit Jakob se einde is toe hy die dag daar soos ‘n bang hond weggevlug het met net sy kierie as sy enigste besitting. Wat het met Jakob gebeur dat hy so vooruit geboer het?

En daardie baie geskenke wat jy vir my gestuur het?” wil Esau weet. “Waarom?” Jakob verduidelik dat hy die troppe skape en bokke en kamele gestuur het om vir Esau te laat weet dat hy in vrede kom. “Kyk, ek is sélf ‘n skatryk man,” wil Esau nog teëpraat. “Ek het rêrag nie sulke groot geskenke nodig nie!” Maar Jakob dring daarop aan dat Esau sy geskenk aanvaar. En so is die twee broers dan weer uitmekaar, hierdie slag in liefde en vrede.

Jakob het vir baie jare met skuldgevoelens in sy binneste rondgeloop teenoor sy broer Esau. Esau, aan die ander kant, het nie toegelaat dat wraak sy lewe oorheers nie. Hy het lankal vrede gemaak daarmee dat Jakob hom gekul het. Het Jakob tog maar net geweet! Dit is daarom dat Jakob so verskriklik formeel is by die ontmoeting, maar Esau kom groet hom soos ‘n ware broer behoort te doen.

By Sukkot, nie ver van sy Jabbokspruit-ervaring nie, slaan Jakob kamp op, en daar bou hy vir hom ‘n huis. Later trek hy verder suid tot by Sigem. Hy koop vir hom ‘n stuk grond en bou ‘n altaar, net soos wat Oupa Abraham voor hom gedoen het. Sy rondswerwe het tot ‘n einde gekom. Jakob het uiteindelik in die beloofde land aangekom.

Dit is so hartseer wanneer ‘n mens broers en susters teëkom wat vir jare in vyandskap met mekaar lewe. Ek hoor daagliks daarvan. As jy dalk een van hulle is, wil ek vandag by jou smeek om tóg maar te vergewe en vrede te maak. Die liefde waarvan Jesus praat, is nie net bedoel vir jou medemens nie, maar veral ook vir jou eie bloedfamilie, jou broers en susters. Dalk het hulle jou liederlike leed aangedoen - vergewe asseblief! Esau het alle rede gehad om Jakob nét daar dood te maak. Maar die een van wie ons dit die minste verwag het sy broer vergewe. Kom ons volg die wilde, woeste Esau se voorbeeld na, en gaan maak vrede.

Gebed:

Here, my gebed gaan uit na soveel gelowiges wat vandag in haat lewe met hulle eie broers en susters. Leer asseblief aan elkeen wat so leef om te vergewe en te versoen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026