Vergifnis

11 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vergifnis

2 Timoteus 4:14-22

Video

Audio

Dikwels voel ons baie bitter oor dinge wat mense ons aangedoen het. Soms is dit die geval dat hulle die saak van die Here skade berokken het. Partymaal is dit mede-gelowiges wat die pad byster geraak het, en in die proses mense seergemaak het. Hoe tree jy op teenoor sulke mense? Ek het al soveel hartseer briewe gekry van persone wat baie seergemaak is, verwerp is deur ‘n eie ma, mishandel is deur ‘n eggenoot. Hoe hanteer jy sulke liefdeloosheid?

Paulus praat oor ‘n paar sulke hartseer sake waar hy baie seergemaak is deur mense. Hoe tree jy op teenoor so ‘n persoon? Paulus noem twee verskillende soorte optredes teenoor mense wat hom kwaad aangedoen het, en veral in die proses die bediening benadeel het. Oor sommige bid hy dat die Here hulle sal vergeld vir hulle dade, en oor die ander bid hy dat die Here hulle dade nie sal toereken nie.

Wanneer bid jy dat die Here iemand sal straf en wanneer bid jy vir vergifnis? Is dit reg van my om te mág bid dat die Here iemand sal vergeld vir sy dade? Ongelukkig gee Paulus nie veel detail wanneer hy oor Aleksander die kopersmit praat nie, maar ons kan aflei dat hy nie noodwendig vir Paulus persoonlik leed aangedoen het nie, maar dat hy die prediking baie skade berokken het. “Hy het ons prediking heftig teengewerk,” skryf Paulus baie beswaard in vers 15. Sulke dinge durf nie geduld word nie, en as die saak van God skade lei, veral wanneer iemand dit willens en wetens aktief doen, dan mag ons nie stilbly nie! Sulke dinge verg ‘n optrede aan ons kant. Hy waarsku dan ook vir Timoteus om baie versigtig te wees vir hierdie gevaarlike man, en sy gebed is dat die Here hom sal vergeld vir dit wat hy gedoen het.

Aan die ander kant het ons mense wat vir Paulus persoonlik baie seergemaak het. Hierdie is mense op wie hy sy vertroue geplaas het om hom by te staan tydens sy uitmergelende hofsaak. Hy het gedink dat hulle sy vriende is, maar hulle het net eenvoudig verdwyn toe sy nood op sy grootste was. Hoe pynlik seergemaak moes Paulus nie gevoel het nie! Maar hoe tree Paulus op teenoor hulle? Hy bid dat die Here hulle sal vergewe!

Dikwels word ons baie seergemaak deur mense. “Ek sal nie weer met hom praat nie!” Ja, so het ek al dikwels ‘n gelowige hoor sê. As dit is hoe jy voel, dan vra ek dat jy dalk net vir ‘n rukkie gaan sit en bepeins oor al die kere wat jy die Here bitterlik seergemaak het deur jou eie sonde. Hoeveel keer het jy Hom nie al verloën nie? Hoeveel keer in jou lewe het jy nie al geluister hoedat iemand ‘n bespotting maak van die heilige Naam van God, en dan maak jy asof jy dit nie hoor nie? Soveel kere in my lewe het ek die Here al bitterlik teleurgestel. Uit Sy groot, groot genade het Hy nog elke keer gekom en my vergewe. In Jesaja 1:18 belowe die Here: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu”. Hy vergewe volkome en Hy dink nie weer aan die sondes nie. Ons bid: “Vergewe ons ons sondes, soos ons ook diegene vergewe wat teen ons sondig.” Jesus het ons immers so leer bid. Maar doen ons dit? Is ek en jy bereid om iemand te vergewe wat my te na gekom het? As ons ernstig is oor ons geloof, sal ons nooit, óóit met ‘n wrok in die hart rondstap nie, en sal ons bereid wees om sélf volkome te vergewe.

Jesus het ons immers geleer om ons naaste lief te hê. Meer nog, Hy het ons geleer dat ons ook ons vyande moet liefhê, met ander woorde, daardie mense wat ons kwaad aandoen of selfs openlik vervolg! Vergifnis, volkóme vergifnis soos wat die Here óns vergewe het - dít is wat Hy van ons vra. Só ‘n vergifnis beteken dat ek ook my verhouding met daardie persoon sal normaliseer en hom sal liefhê asof hy my nooit enigiets kwaad aangedoen het nie.

In die slot van hierdie treffende brief van Paulus, vergeet hy van die dinge wat sy teenstanders hom aangedoen het, en hy maak geloofsuitsprake oor sy vertroue op God. Wat hulle betref, laat hy dit in die Here se hande. Wraak en vergelding kom hom immers nie toe nie. Sy vertroue stel hy op die Here, want van Hom alléén kry hy sy krag. Selfs wanneer sy prediking deur mense benadeel word, kom dit steeds tot volle reg omdat God hom hierin bystaan.

Gebed:

Here, gee my asseblief krag en wysheid om die wedloop wat Paulus en Timoteus gehardloop het te voltooi. Ek wéét dat die oorwinnaarskroon vir my wag! Gee my ook asseblief liefde in my hart, ook vir diegene wat die lewe vir my moeilik maak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026