Romeine 1:10-17
“Is dit verkeerd om aan te hou en aan te hou om vir dieselfde ding te bid?” Hierdie knellende vraag vra iemand my ‘n ruk gelede. En toe voeg sy by: “Is dit nie dalk sonde om God te pla nie?” Paulus het ‘n brandende begeerte in sy hart gehad: Hy wou só graag na Rome toe gaan om daar die Evangelie te verkondig. Terselfdertyd wou hy ook die Christene in Rome gaan besoek. Dag-vir-dag bid hy die Here om hom asseblieftog daardie geleentheid te gee. Was dit sonde van Paulus om so by die Here te neul?
Volgens Rom. 8:10 is dit beslis nie verkeerd om knaend oor ‘n saak te bid nie, al dink jy ook dat God dalk “verveeld” kan raak met jou gebed. Ons moet egter ons gebed in perspektief sien: Om te bid vir ‘n bloedrooi Ferrari sou beslis ‘n baie selfsugtige gebed wees, want dit het net met jou en jou wêreldse begeertes te doene. Natuurlik is dit nie verkeerd om vir jou eie behoeftes te bid nie. Paulus het ook aan homself gedink toe hy die Here gevra het om die “doring in sy vlees” weg te neem. Hy het driekeer daaroor gebid, maar toe hy besef dat dit nie God se wil is dat daardie “doring” uitgetrek word nie, hou hy op! Maar oor die Rome-storie wou hy net nie ophou bid nie want dit het oor véél meer gegaan as oor sy eie begeertes en behoeftes. Dit het gegaan oor die uitbreiding van God se Koninkryk en oor mense wat besig was om verlore te gaan in hulle ongeloof. Dít is waarop Paulus se gebed toegespits was.
Die Here het dan uiteindelik Paulus se gebed verhoor op Sy eie tyd én op ‘n manier wat Paulus dalk nie rêrag wou hê nie! Paulus het uiteindelik nie uit eie, vrye wil na Rome gegaan nie maar as gevangene. Maar die resultate van sy besoek was baie groter as wat hy óóit sou kon droom! In die tronk was hy geforseer om te skryf en daardie briewe het nie alleen die paar gemeentes rondom die Middellandse See bereik nie, maar het miljarde mense regoor die wêreld bereik oor die volgende tweeduisend jaar. Paulus se knaende gebed het vrugte afgewerp, tonne en tonne daarvan! Ja, jy mag ook maar knaend bid vir ‘n saak en wees verséker dat God na jou dringende gebed luister!
Wat is dit dan wat Paulus so dringend in Rome wou gaan doen? In die eerste plek natuurlik om die Evangelie daar te gaan verkondig. Onthou: anders as die ander gemeentes aan wie hy briewe geskryf het, het Paulus nooit voorheen hierdie gemeente besoek nie en hier lê dus vir hom ‘n braakland oop.
Dit was egter nie die enigste rede vir sy besoek nie. Hy wou ook by die gelowiges uitkom wat alreeds in Rome was. Paulus wou met hulle gaan gesels en met hulle die ryk geestelike kennis wat hy oor die jare opgedoen het gaan deel. Hy wou hiermee hulle geloof gaan versterk.
Daar was ook ‘n ander rede. Gelowiges kan baie maklik moedeloos raak wanneer hulle in die middel van soveel Goddeloosheid lewe en daarom wou Paulus hulle gaan bemoedig. Maar hierdie was ‘n tweesnydende swaard want in die proses sou dit homself ook terselfdertyd bemoedig. Ja, inderdaad het elke gelowige, selfs iemand soos die groot reus in die geloof, Paulus dikwels bemoediging nodig!
Ons vergeet maklik dat die evangeliebedienaars, dominees, sendelinge, pastore, professore ook maar doodgewone mense is nes ek en jy en hulle het geestelike bemoediging dalk nog tienkeer so veel nodig as ek en jy. Hulle staan dikwels in beroepe wat baie meer stres behels as enige ander beroep. Vir ‘n evangeliebedienaar is dit só maklik om moedeloos te raak, want hy kry dag-vir-dag te doene met allerhande negatiewe dinge. Siekte, sterwensbegeleiding, vertroosting van mense wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het en om mense in nood geestelik by te staan. Hierdie is maar deel van sy alledaagse werk.
Omdat hy in die kollig is wanneer hy Sondae op die kansel staan, is kritiek teen hom soveel groter as op enigiemand anders. Hy moet so verskriklik versigtig wees oor wat hy sê of doen, want daar is altyd iemand wat net wag vir een ou skewe treetjie om hom te verdoem. Boonop is sy werklas dikwels meer as wat hy kan dra. Hospitaalbesoek, oumense vertroos, Bybelstudies lei. En dan is daar boonop al die kommissies, vergaderings ensovoorts en dan word hy gekapittel oordat hy nie genoeg huisbesoek doen nie. Boonop het sy gesin hom ook nodig, iets wat dikwels deur leraars afgeskeep word, bloot omdat die gemeente elke druppel krag en tyd uit hom wurg.
Paulus het geweet waardeur ‘n evangeliebedienaar gaan - hy was immers sélf een. Daarom sien hy daarna uit om ook deur gemeentelede versterk en bemoedig te word. Jou dominee/pastoor het jou bemoediging bitter nodig. Gaan kuier vir hom en praat hom moed in. Laat hom verstaan dat hy nie alleen staan in sy bediening nie, maar dat daar van sy gemeente is wat waarlik vir hom omgee.
Lees gerus Die Dagboek van Dominee X by bit.ly/bbDagboek
Gebed:
Here, vanoggend wil ek die leraar van my Gemeente aan U opdra in gebed. Maar ek wil ook elkeen wat die Woord van God bedien aan U voete neerlê!