Vasgevang

1 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vasgevang

Kolossense 2:8-19

VIDEO * OUDIO

Ons lewens word vandag oorheers deur soveel onnodige dinge, die skeppinge van ons eie hebsug. Kyk nou maar net byvoorbeeld hoe oorheers 'n TV stel ons lewens! Dikwels raak ons só verknog aan sepies dat ons nooit ‘n enkele episode misloop nie! Ander belangrike dinge bly dan dikwels in die slag, net omdat die sepie eerste kom!

Ons het jare gelede ‘n Dominee in ons gemeente gehad wat só verknog was aan Dallas. Dikwels het hy sy huisbesoeke onderbreek om eers by my aan huis Dallas te kom kyk. By een geleentheid het hy ‘n vergadering onderbreek en al die ouderlinge moes eers saam met hom Dallas kyk. Eers daarna kon ons die vergadering hervat!

Die dag toe die internet 'n werklikheid geword het, het dit 'n hele nuwe wêreld vir ons oopgemaak, veral toe Oom Google die dag sy buiging maak, 35 jaar gelede. Om deur die wonderwêreld van die wêreldwye web te kan reis, laat jou dikwels snak na jou asem. Maar dit hou terselfdertyd sy gevare in. Jy kan so meegevoer raak deur die wondere van die web, dat dit al jou kosbare tyd in beslag neem. Boonop kan jy verstrengel raak in die gevaarlike dinge soos pornografie!

Dan is daar ons daaglikse kommunikasiestelsel. Die telefoon was al erg genoeg en het jou dikwels tot raserny gedryf. Maar toe kom die selfoon! Aanvanklik was dit net jou telefoon wat jy saam kan dra net waarheen jy ookal gaan.

Toe maak die slimfoon sy verskyning en bring nog 'n groter euwel met hom saam: die sosiale media! Elke selfoon is gerat om WhatsApp, Internet, Facebook en 'n duisend ander toeps te kan hanteer. Jy kan deesdae skaars ‘n sinvolle gesprek êrens in ‘n stil kafeetjie met iemand voer, want die een of ander tyd gaan ‘n selfoon die gesprek onderbreek, dikwels vir iets wat kon gewag het. Hulle oorheers ons lewens!

Dan is daar nog ons moderne winkelsentrums met al sy haarsalonne en winkeltjies wat jou vir ure kan besig hou. Dit is veral die Evasgeslag wat totaal betower word deur die wonderwêreld van ‘n winkelkompleks, dikwels tot ‘n arme man se bittere frustrasie!

Die lewe was soveel eenvoudiger toe ek jonk was. Daar was nie TV’s, selfone, internet of winkelkomplekse nie. Die plaastelefoon het net een of twee keer ‘n dag gelui, en die enigste “sepie” was die Du Plooys van Soetmelksvlei op die radio. Kindwees was lekker en propvol avontuur want ons kon kaal swem in die plaasdam, kleilat-oorlog maak, jag met ‘n kettie, verjaar in die vrugteboord, klei-osse maak en sommer net kind wees!

My grootste hunkering vandag is om maar net iewers heen te kan ontsnap waar ek, sonder al hierdie goed wat lawaai om ‘n kampvuurtjie kan sit en naby my God kan wees. My hart smag na die stilte!

Jou geestelike lewe is dikwels óók so vol foefies dat jy vergeet van die heel basiese dinge. Dit was juis Paulus se groot kommer oor die baie foefies wat die Christene in Kolosse in hulle geloofslewe wou saamdra. Geloof in Jesus was vir hulle nie genoeg vir hulle saligheid nie. Daar was allerhande wettiese godsdienstige reëls wat hulle eers móés nakom. Paulus het hulle gewaarsku teen misleidende teorieë en argumente wat gedreig het om hulle totaal weg te voer, soos filosofieë oor die sogenaamde “kuns van die lewe”. Dikwels moes hulle eers “geestelike magte” tevrede stel voor hulle by God kon uitkom. Baie mense het bly vasklou aan allerhande reëls soos wat jy mag eet en drink. Daar was allerhande heilige dae soos die nuwemaanfees en die sabbat. Party mense het selfs engele en visioene vereer om te wys hoe nederig en godsdienstig hulle was!

Vandag is dit nie veel anders nie. In die kerklewe raak ons soms so vasgevang in allerhande kommissies en dikwels onbenullighede, dat ons totaal by Jesus verby lewe. ‘n Geestelike werker se lewe is dikwels so volgeprop met allerhande verpligtinge en organisasies, dat hy nie by die basiese dinge uitkom nie. Ongelukkig kom gemeentewerk gewoonlik op die skouers neer van slegs ‘n paar gewillige gemeentelede. Die gevaar kom dan ook dat hierdie gewilliges so vasgevang raak in hulle pligte, dat Jesus verlore raak. Dikwels word hulle gedwing om dinge te doen, bloot omdat niemand anders bereid is om te help nie. Ek het sélf al verskeie kere in sulke situasies beland en ek is baie dankbaar vir die barmhartige Samaritane wat bereid was om my uiteindelik te kom red. Die gevaar van só ‘n lewe is dat jy so besig kan raak met die Dinge van God, dat jy nie meer uitkom by die God van die Dinge nie!

Daar moet ‘n baie fyn balans in ‘n gelowige se lewe wees. Héél bo aan die lys is Jesus. Hy is die Spil waarom alles draai. Hy alléén gee vir jou die saligheid. Al die ander dinge wat jy byvoeg, mag slegs één rede hê: om dankie te sê vir Jesus se groot geskenk. As jy dán feesvier, vas of werk in jou gemeente uit dankbaarheid aan Jesus - dan maak dit sin!

Gebed:

Here, bevry my asseblief van al die onnodige bagasie in my lewe en bring my weer terug na Jesus, die enigste Bron van die ware lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026