Vasbyt!

7 September, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vasbyt!

Habakuk 2:4-8

Net waar Habakuk ookal kyk uit sy uitkyktoring, sien hy moeilikheid. Hier onder hom leef die volk in sonde en op die horison sien hy die goddelose Galdeërs wat genadeloos nader kom. Watter troosboodskap kan hy neerskryf te midde van al die probleme? Die klein handjievol regverdige mense is uitgelewer aan ‘n oormag van onheil. Is daar vir hulle ooit ‘n uitkoms? Watter trooswoord kan jy vir ‘n kind van God gee in sulke omstandighede, sodat dit nie maar net ‘n hol dop is met ‘n bietjie suiker om nie?

Vers 4 en 5 is eintlik die hart van die boek. Die onregverdige sal wél sy verdiende loon kry, maar intussen stoom hy voort! Nogtans sien ons, amper weggesteek, dat die regverdige sal lewe mits hy getrou bly.

Die Here ontmoet Sélf vir Habakuk by die keerpunt in sy worstelstryd. Hy wil by Habakuk dit tuisbring dat hy nie reg in eie hande moet neem en hooghartig optree, asof God nie meer bestaan nie. Volhard tot die einde toe! Hardloop op God se pad. Bly wag op Hom, ten spyte van al die terugslae wat die lewe jou gee. Bly deur alles getrou, en jy sal lewe. Dit is baie eenvoudig. Maar maklik? Baie beslis nie! Dit is nie jou eie maklike uitweg wat jou die lewe bring nie, maar God se pad, die swaarkrypad.

Die Here se perspektief is baie anders as ons s’n. Hy sien tot by die eindbestemming. Ons staar ons egter gewoonlik blind teen die probleme reg by ons. Teenspoed en swaarkry is deel van die lewenswedloop wat ons hardloop. Dalk kan ons dit op ‘n manier met die Comrades-marathon vergelyk: ‘n Integrale deel van die wedloop is die pyn wat jy beleef, die krampe, dors, moegheid, seer voete. As jy halfpad sou besluit dat jy eerder in ‘n motor gaan klim en ry tot by die eindstreep, sal jy beslis gediskwalifiseer word. Jou eie maklike uitweg bring jou niks in die sak nie!

Habakuk het daar van sy uitkyktoring af die vloedgolf van onheil sien aanrol. Omring deur die golwe het hy daar gestaan. Maar dan kom die Here se trooswoord, dat daar ook ‘n einde sal kom aan al die goddeloosheid. Hulle vernietigingstog sal beslis nie vir altyd so voortgaan nie. Op daardie stadium was alles steeds só oorweldigend vir Habakuk: die magshonger; die onversadigbare drang na rykdom; die gulsige, onversadigbare aptyt van die hoogmoedige goddeloses. Angswekkend!

Maar die Here laat Habakuk die prentjie sien met ander oë. As jy jou geloofsbril opsit en met geloofsoë na die wêreld rondom jou kyk, sien jy ‘n totaal ander prentjie. Die vloedgolf van die goddelose lyk onstuitbaar. Ons vergeet egter so maklik dat God almagtig is, en dat Hy daardie vloedgolf met een enkele woord uit Sy mond kan stuit.

Die wiel is besig om te draai - God se wiel. Skielik sien ons dat dieselfde mense wat deur hierdie oormag van goddeloses weggevoer is, spotliedjies sing oor hulle ontvoerders. Wat het dan gebeur? Hulle sing selfs ‘n begrafnislied oor hom! Wat gaan aan? Dit is die wiel wat draai!

'n Groot kenmerk van die goddelose, is dat alles net in homself sentreer. Ten koste van ander mense, verryk hy homself. Hy slurp rykdom en mag op, dinge wat nie aan hom behoort nie. Hy stroop ander van alles wat hulle het om sy eie onversadigbare lus te bevredig. Bloedvergieting en geweld, is deel van sy taktiek om meer en meer te kry.

Ellende wag op hom,” sing al die regverdiges, “Ellende wag op hom!” Die tyd kom nader dat die rolle totaal omgekeer gaan wees, en dat hierdie selfde gulsige goddeloses kaalgestroop sal staan. Nou sal dit hý wees wat geplunder word, en dit sal hý wees wat die knie moet buig voor die skuldeisers.

Is dit nie absoluut asemrowend hoe tydloos die Bybel kan wees nie? Habakuk kon net sowel in die jaar 2018 geskryf gewees het, want 2600 jaar het soos ‘n oogwink verbygevlieg, en ons sien ons moderne samelewing presies soos wat Habakuk dit beskryf. As gelowige raak ons vandag moedeloos as ons die vloedgolf rondom ons sien. Presies dieselfde honger na mag en rykdom is vandag die norm van die samelewing. Die klein handjievol gelowiges wat die regte pad probeer loop, dié pad wat God aandui, is ver in die minderheid. Dit voel asof ons totaal verdruk en onderdruk word deur die goddelose massas. Geweld en bloedvergieting is aan die orde van die dag, en dit voel asof daar geen uitkoms is nie. “Hoe lank sal dit nog voortduur?” huil ons saam met Habakuk.

Maar dan moet ons verseker weet dat God se wiel steeds draai, net soos in die tyd van Habakuk. Ons moet net vasbyt: die uitkoms is daar! Ons moenie moed opgee nie - God is steeds nét so magtig soos in Habakuk se tyd, en Hy is stééds in beheer. Die goddelose se dag sal kom, en dan sal dit óns wees wat in glorie kan toekyk hoe reg geskied. Nog net ‘n kort tydjie! Die dag van die Here is naby!

Gebed:

Here, dit is nie maklik om in U wedloop te hardloop nie. Gee my asseblief die vasbyt en deursettingsvermoë om deur te druk tot die einde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026