Van Witbroodjie tot Slaaf

29 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Witbroodjie tot Slaaf

Genesis 37:1-12

Na Jakob, verskuif die fokus na Josef. Hy was nou wel nooit as opvolger van Jakob gesien nie. Trouens, Juda word die stamleier na Jakob se dood. Die gesin van Jakob groei uiteindelik tot ‘n volk om mee rekening te hou. Daar word bereken dat toe die Israeliete, almal afstammelinge van Jakob, die dag deur Moses uit Egipte uitgelei is, daar meer as drie miljoen van hulle was. Dit is nogal ‘n merkwaardige groei uit slegs twaalf seuns!

In die volgende paar hoofstukke gaan ons sien wat God se betrokkenheid is, nie alleen by die klein gesinnetjie van Jakob nie, maar by wêreldgebeure. Ons sien hoe Hy betrokke bly, selfs in hulle alledaagse dinge soos familietwiste, hofintriges, haat, droogtes, menslike foute, aanstellerigheid, jaloesie ensovoorts. Die verhaal van Josef skets die mens in al sy naaktheid, en vertel van intriges van liefde en haat, wraak en vergifnis, getrouheid en ontrouheid. En dwarsdeur al hierdie dinge is God besig om Sy volk te vorm, ten spyte van al hulle swakhede.

Ons verhaal begin by ‘n verwaande, bedorwe jong seun wat deur sy pa gepamperlang en voorgetrek word. Sy familie verwerp hom, ten spyte van, of dalk juis as gevolg van sy Goddelike talent van drome droom. Hy beleef slawerny, miskenning, verleiding en uiteindelik die tronk. Maar dan word hy verhef en word hy op die einde die redder van die volk Israel.

Klink hierdie laaste gedeelte nie baie bekend nie? Het Jesus nie ook dieselfde soort dinge beleef nie? Hy was verwerp, misken, verlei, gevange geneem en veroordeel. Maar dan, wanneer Hy opstaan uit die dood, word Hy die Redder, nie net van Israel nie, maar van die ganse wêreld!

Die verhaal van Josef het alreeds sy oorsprong by Isak en Rebekka wat elkeen ‘n kind voorgetrek het, met rampspoedige gevolge. Dit het oorgespoel na Jakob. Die dinge wat hy in sy ouerhuis ervaar het, het hy oorgedra na sy eie gesin. Hy koop vir Josef mooi klere om te wys dat Josef die bevoorregte persoon in die huis is. Terwyl sy ander broers moet werk en iewers in die veld skape moes oppas, sit Josef dikwels by die huis en mooi lyk.

Jakob is egter nie die enigste wat ‘n aandeel het in die haat van Josef se broers nie. Hy het ongewild geraak deur homself te verhef bo sy broers en deur stories aan te dra. En dan was daar natuurlik die lang klere met die moue wat die jaloesie teenoor hom aangeblaas het.

Die toppunt van alles was egter dáárdie twee drome van Josef. Later sal ons sien hoe ‘n groot rol drome, en veral die uitleg van drome in die lewe van Josef gespeel het. Nou moet ons darem baie versigtig wees, en nie sommer betekenis heg aan elke droom wat ons droom nie. Daar is al baie boeke geskryf oor die betekenis en uitleg van drome. Dit is die grootste snert, en as jy jou daarmee ophou, is jy besig met die okkulte, die dinge van die duisternis. Dat die Here wél ook drome gebruik om met mense te praat, is nie uitgesluit nie, maar dit gebeur slegs by uitsondering. Dit is elke keer ‘n baie groot gebeurtenis as die Bybel vir ons beskryf waar die Here met iemand in ‘n droom gepraat het.

Josef het twee drome gehad. In die eerste sien hy hoe hy en sy broers koring sny en in gerwe bind. Skielik staan sy gerf regop, en dié van sy broers kom buig voor sy gerf. Met groot vermaak gaan vertel hy vir sy broers van die droom. Hulle is al klaar vies vir hom, maar as hy homself só bo hulle verhef, raak hulle baie warm onder die boordjie: “Jy verbeel jou dat jy gaan koning word en oor ons regeer,” jak hulle hom af. Hulle het nou net mooi genoeg gehad van hom en sy aanstellerigheid. Later droom hy dat selfs die son en maan en elf sterre voor hom kom buig. Dit was die laaste strooi. Selfs Pa Jakob is nou al keelvol vir Josef se dinge. Sien, dit was nie soseer die drome wat hulle ontstel het nie, maar die manier waarop Josef oor die drome gepraat het. Hy het homself al gesien as die groot heerser. Maar hy sou nog goed met moeder aarde kennis maak voor hierdie drome sou waar word. Inderdaad was dit God wat met hom gepraat het in sy drome, maar Josef het dit totaal verkeerd hanteer.

Daardie droom van Josef het nog vir baie lank in Jakob se gedagtes bly krap. “Weet die seun dalk iets wat ons nie weet nie?” Maar dan een dag verander Josef se droom vir die gryse ou Jakob in ‘n verskriklike nagmerrie. Maar daaroor lees ons in die volgende dagstukkie.

Ek dink dat vandag se verhaal ‘n mens wel baie deeglik oor jou eie situasie laat dink: trek ek een van my kinders voor? As dit die geval is, is ek besig om met vuur te speel. Jakob het sy vingers lélik verbrand, en voor hom sy pa, Isak. Moenie dat jou vingers ook verbrand word nie!

Daar is ook 'n tweede les uit hierdie verhaal: As die Here my aangestel het in ‘n hoë posisie, dan verwag Hy van my om my status te hanteer soos wat Jesus dit gedoen het. Hy was Koning oor die heelal, maar Hy was 'n vriend vir tollenaars, sondaars en selfs vir 'n slegte, gehate Samaritaanse vrou! Hy was nederig genoeg om selfs Sy dissipels se voete te was. Wat maak ek en jy met die posisie wat ons beklee in die samelewing? Nederigheid is wat die Here van ons vra.

Gebed:

Here, dankie vir die waardevolle lewenslesse wat ek leer uit die geskiedenis van die grotes. Help my asseblief om dit ter harte te neem.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026