Van Tronkvoƫl tot Heerser

5 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Tronkvoƫl tot Heerser

Genesis 41:1-57

Die Skinker het hom vergeet! Almal het van Josef vergeet - die res van sy lewe sou hy in die stinkende kerker verslyt, en dit vir ‘n daad wat hy gladnie eers gepleeg het nie. Twee jaar sleep harmansdrup-stadig verby sedert die skinker herstel is in sy pos.

Dan, een nag gebeur die ding wat God se plan in werking stel, die ding waarvoor God Josef bestem het. Alles begin met ‘n afgryslike droom wat die Farao in die middel van die nag sopnat gesweet laat regop spring in sy kooi. Hy skud sy kop om seker te maak dat dit ‘n droom was en nie die werklikheid nie. Alles was so helder en werklik! Hy kon sweer hy staan persoonlik self op die Nylrivier se walle. Farao se hart klop in sy keel. Hy sien weer die prentjie voor hom: ‘n rustige prentjie waar sewe spekvet koeie in die vleigras staan en wei. En dan gebeur die bisarre ding. Uit die Nylrivier kom daar die aakligste maer gedrogte van koeie uitgekruip - óók sewe van hulle. Waarom elke keer SEWE? Die koeie is amper onherkenbaar, geraamtes van maerte. En voor sy oë pak die maer koeie die sewe vettes en vreet hulle op! Die snaaksste is dat hulle daarna maar net so maer bly! Farao gril vir die verskriklike beeld in sy kop. Hy rol rond in die bed, die gedagtes wil hom net nie verlaat nie. Uiteindelik raak hy tóg onrustig aan die slaap.

Maar dan is dit alweer sulke tyd, en Farao droom van sewe mooi uitgeswelde, vet koringare wat op die land staan, en dan word hulle verslind deur sewe maer, uitgedorde koringare. Met ‘n asem wat jaag, skrik Farao weer wakker. Nou is sy slaap vir goed weg! Waarom elke keer die getal sewe? Wat sou die betekenis wees?

Dit is nog nie eers behoorlik lig nie, toe laat roep Farao sy raadgewers. Hulle kry ‘n bitter omgekrapte Farao waar hy op en af stap. “Ek het gedroom”, begin hy, en dan vertel hy hulle van die verskriklike drome. Die wyse manne is stomgeslaan. Hulle het hiérdie kant toe en dáárdie kant toe kleigetrap, maar hierdie droom is een te veel vir die jarelange opleiding wat hulle het in die uitleg van drome. Die groot grap is dat Farao beskou word as ‘n god, maar nou skielik is hierdie “god” bang en kan hy nie eers sy eie drome uitlê nie!

In die middel van hierdie chaos onthou die skinker skielik van Josef, en dat hy daar in die tronk hulle drome so absoluut akkuraat uitgelê het - alles het presies gebeur soos Josef voorspel het.

Josef word laat haal. Maar hy moet darem eers aanneemlik lyk vir die grote Farao se hof, dus word sy tipiese Semietiese baard afgeskeer om aan te pas by die Egiptiese voorkoms. Hy word netjies aangetrek, en dan, as hy darem naastenby soos ‘n Egiptenaar lyk, kom staan hy voor Farao. Maar al hierdie protokol en ge-opsmukkery verhoed nie vir ‘n oomblik dat Josef die Farao baie goed laat verstaan waarvandaan sy wysheid kom nie. “Nie ek nie”, deel Josef hom mee, “God is die Een wat dié goeie antwoord vir u gee” (Gen 41:16).

En dan vertel die magtigste man op aarde vir Josef van sy verskriklike nagmerrie. Sonder om eers tweekeer te dink, weet Josef wat die betekenis is. Die Heilige Gees lê die uitleg daarvan in sy gedagtes vas, en Josef vertel vir Farao dat daar sewe jaar van oorvloed gaan wees en daarna sewe jaar van die allerverskriklikste hongersnood regoor die wêreld. Farao skrik hom asvaal - “Wat gaan ons maak?”, hyg hy. Maar Josef staan al klaar gereed met ‘n antwoord: “Stel ‘n uiters bekwame man aan om betyds voorsorg te tref.

Farao is so beïndruk met die wysheid wat Josef aan die dag lê, dat hy hierdie jong man, toe maar pas dertig jaar oud, aanstel om die saak te hanteer. Dit moes iemand wees “met die verstand van ‘n god” - letterlik: “iemand in wie die Gees van God is” (v 38), en dit is duidelik dat Josef presies so ‘n persoon is. Saam met hierdie aanstelling kry Josef die magsposisie as tweede hoogste gesag in die land. Hy kry ook ‘n nuwe naam, ‘n nuwe (?) vrou en ’n splinternuwe ryding, (’n Rolls Royce?) alles dinge wat sy nuwe status bevestig.

Oor die volgende sewe jaar bewys Josef dat die Gees van God in hom is, en op briljante wyse bou hy graanskure regoor die Koninkryk en vul hulle tot oorlopens toe, sodat wanneer die sewe jaar van hongersnood die wêreld tref, Josef tevrede kon terugsit met ‘n taak wat uit die boek voltooi is.

Nou is die verhoog gereed vir die volgende toneel in die geskiedenis van Jakob en sy seuns, die wordende volk Israel.

Hierdie is ‘n verhaal vol aangrypende emosionele belewenis wat jou en my meesleur. Net wanneer ons wil vra: “Waar is God dan?” dan gebeur die mees aangrypende wonderwerk wanneer God ingryp. Dan sien ons dat Hy nog al die tyd daar was. God staan nie eensydig nie. Hy is in beheer en Hy is gedurig besig om mense se lewens te rangskik om ons voor te berei om Sy doel te bereik, ‘n baie groter doel as wat ons eenvoudige menslike verstand ooit kan bedink.

Gebed:

Here, die verhaal van Josef laat my snak na my asem. Dit laat my net weereens besef hoe groot U werklik is. Dankie dat ek ‘n Almagtige God kan aanbid - ‘n God wat omgee en altyd daar is vir my.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026