Van Slaaf tot Baas

31 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Slaaf tot Baas

Genesis 39:1-6

Die verhaal van Josef is al oor en oor en oor vertel. As kinders het ons dit by herhaling gehoor, en daar is al selfs ‘n uiters suksesvolle toneelstuk daaroor geskryf wat elke keer gepakte sale trek. Waarom? Omdat dit so ‘n mooi storie is? Nee, omdat dit so menslik is en omdat dit tot jou en my eie ondervindinge in die lewe spreek. Daardie verhaal kon net sowel vandag hier afgespeel het. Om die waarheid te sê, speel Josef se verhaal elke dag iewers af, en soms beland dit selfs in die koerante.

Maar wat maak Josef se verhaal so anders en besonders?

Josef, die bedorwe tiener, word in die put gesmyt om daar dood te gaan van honger en dors. "Toevallig" kom die Midianietiese handelaars op daardie tydstip daar verby, en hy word aan hulle verkoop. Gestroop van sy mooi klere, en waarskynlik in kettings om te sorg dat hy nie miskien verdwyn nie, moet Josef agter die kamele aanloop Egipte toe, waar die Midianiete hulle ware gaan verkwansel. Dit is ‘n lang, stowwerige pad deur die woestyn.

Uiteindelik, na ‘n uitmergelende tog, kom hulle in Egipte aan. Op die markplein word Josef uitgestal soos ‘n stuk negosieware. Hoe vernederend! Hy, die lieflingseun van die beroemde Jakob, nou minder as niks! Mense kom voel aan hom om te sien of hy darem murg in sy pype het. Dan kom daar ‘n baie belangrike man aan en almal maak plek vir hom. Vrees op hulle gesigte wys dat hierdie man groot mag het. “Dáárdie seun, ek wil hom hê!” Hy beduie na Josef.

Gou verneem Josef dat hy nou die eiendom is van Potifar, die hoof van die koninklike lyfwag - ‘n baie belangrike en gevaarlike man. “Hier sal ek moet uithaal en wys,” besef Josef, “anders word ek vir die Nylkrokodille gevoer!”

En dit is presies wat Josef doen. Vir die eerste keer in sy lewe werk hy, en hy doen dit baie goed. Die waardering wat hy kry van sy nuwe baas, en veral dié se vrou, spoor hom aan om net harder te werk. Waar hy die krag en ywer vandaan kry om te doen wat hy doen, weet Josef nie mooi nie, maar dit gaan sommer maklik, en baie gou word hy bevorder tot Potifar se persoonlike slaaf. Saam daarmee kom nogal baie voordele, en Josef begin voel dat dit ná alles tog nie so sleg is om ‘n slaaf te wees nie. Van sy broers wat hom so verpes het, het hy al lankal vergeet, en Josef doen sy werk met groot passie.

Op ‘n dag word Josef ingeroep deur Meneer Potifar: “Josef, ek het groot waardering vir jou ywer. My hele huishouding het verander vandat jy hier ingestap het. Alles het sommer voorspoedig geraak. Ek wil jou nou aanstel oor my hele huishouding en al my eiendom.”

Jy kon Josef met ‘n veertjie omslaan. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?”

Wat Josef nie besef nie, is dat dit nie is wat hý gedoen het nie, maar dat dit is wat die Hére gedoen het. God is die Een wat alles wat in Josef se sorg was voorspoedig gemaak het. “Die Here was met Josef”, lees ons telkemale, en “Die seën van die Here het gerus op Potifar se besittings” (Gen 39:5).

Ons wil dalk vra: “Maar waar was die Here dan toe Josef se broers hom gegryp het en die mooi klere wat pa Jakob spesiaal vir hom laat maak van sy lyf afgeskeur het? En waar was Hy toe hulle hom wou doodmaak, en hom in die put gesmyt het?” Dalk wil ons weet: “Waar was God toe sy broers hom as slaaf verkoop het? Was God toe afwesig? Waarom is Hy nou skielik weer by Josef?”

God was nooit weg nie! Terwyl Josef loop en stories aandra het, was Hy daar langs Josef, en dit het Hom seergemaak, want Hy het geweet dat Hy vir Josef sou moes vorm om die redder van sy volk te word. Toe Josef gevang is deur sy broers, en hulle hom daar in die veld wou keelafsny, was God teenwoordig, en dit is Hy wat die simpatie in Ruben verwek het om te keer dat Josef doodgemaak word. Ja, Hy was elke oomblik daar saam met Josef in die donker put, en dit is Hy wat beskik het dat die karavaan met handelaars presies op die regte oomblik daar verbykom om Josef na Egipte te neem. Hy het vir Josef daar in Egipte ‘n baie besonderse taak gehad, maar eers moes Josef gevorm word van ‘n bedorwe tiener na ‘n baie verantwoordelike man.

Waar was God toe ek en jy bittere swaarkry beleef het in die lewe? Waar was Hy toe ons die dood in die oë gestaar het? Hy was hier reg langs ons, besig om ons hand styf vas te hou, want Hy was besig met vormingswerk in ons lewe. Wees bly as jy die dag swaarkry beleef, want dan weet jy dat die Here jou waardig geag het om gevorm te word na Sy hand, soos klei in ‘n pottebakker se bekwame hande.

Josef se verhaal het ‘n baie groot kinkel in die kabel, maar soos in ‘n goeie vervolgverhaal, sal ons DV volgende keer verder lees. Hou jou asem op want hier kom gróót drama! (Word Vervolg....)

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag kan wéét dat U elke oomblik van die dag by my is, en dat selfs die swaarkry in my lewe vormingswerk is. Gee my asseblief die krag en ywer om dit te verwerk soos U wil hê dat ek dit moet doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026