Van Skaapwagtertjie tot Koning

1 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Skaapwagtertjie tot Koning

1 Samuel 16:12-19

VIDEO | OUDIO

Samuel se woorde weerklink in Isai se ore: “Isai, is dit ál jou seuns hierdie?”

“Nee, daar is nog die ou jongetjie, klein Dawid - hy pas skape op.” Mens wonder wat deur Isai se gemoed gegaan het? Sou hy dalk gewonder het waarom dit dan so belangrik sou wees dat die klein japsnoet Dawid ook hier by die eetmaal moes wees? Ek dink Isai was te bang om uit te vra - ‘n mens het darem tog mos groot respek vir hierdie man van God!

Die slaaf moes ver hardloop om vir Dawid op te spoor by die skape: “Hulle soek jou dringend by die huis!” word hy ingelig. “Die groot profeet, Samuel is daar!”

Vlug soos ‘n ribbok draf Dawid oor die rante na Betlehem. Hy is opgewonde - hy wou nog altyd hierdie ou profeet ontmoet het! Vandag gaan hy hom sowaar te siene kry! Wanneer Dawid uitasem by die huis aankom, is die hele gesin daar bymekaar, Pa Isai en al sewe broers. “Wat is aan die gang?” wil hy nog vra, maar dan sien hy die waardige ou profeet en al die ander gedagtes waai skoon uit sy kop uit. “Shalom!” groet hy beleefd.

Wanneer hierdie gespierde jong seun voor Samuel kom staan, wéét hy onmiddellik: “Hier is Israel se volgende koning!” Sonder om ‘n woord te sê, bekyk hy die mannetjie - ‘n paar treffende, helder oë en ‘n rooi gelaatskleur. Hy het ‘n baie mooi voorkoms en goed gebou, maar beslis nie Saul se hemelbesem-lengte nie!

“Samuel,” hoor hy die Stem diep in hom, “staan op, salf hom, want dit is hý!”

Voor die verbaasde oë van Dawid se broers en al die ander teenwoordig, staan die gryse ou Samuel op, haal die horing uit en giet die olie oor Dawid se kop uit. Dawid staar in ongeloof na die waardige ou man voor hom. Dit is so stil in die vertrek dat jy ‘n speld kan hoor val. “Dawid, seun van Isai, in die Naam van die Here, God van Abraham, Isak en Jakob salf ek jou tot koning oor Israel.”

“Dit moet ‘n fout wees!” wil dit skree in Dawid, “Wat dan van koning Saul?” Maar dan verduidelik Samuel van Saul wat die Here bedroef het deur sy ongehoorsaamheid, en dat die Here vir Samuel opdrag gegee het om ‘n nuwe koning te salf - die een wat Hy hom sal wys. “Maar wat vandag hier gebeur het moet doodstil gehou word, want as Saul uitvind dan is jy en jou familie nie julle lewens seker nie!” waarsku Samuel. Dawid sal nie die koningskap oorneem voordat Saul sterf nie.

Met sy taak afgehandel, groet Samuel en vertrek terug na Rama.

Dawid se lewe het onherroeplik verander. Nee, hy was nie skielik verhewe bo die res nie, hy was steeds die jongste seun en hy moes steeds maar die skape oppas terwyl sy ouer broers hulleself geniet het met oorlog maak en allerhande ander lekker dinge. Maar een ding het met Dawid gebeur wat hulle nie beskore was nie - die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in hom gewerk. God was besig om hom nou in alle erns voor te berei vir sy koningskap!

In die paleis van koning Saul het dinge egter nie so goed gegaan nie. Saul het al verder en verder van die Here af weggedryf, tot só ‘n mate dat die Here se Gees van Saul afgewyk het. Só erg was dit dat ‘n bose gees besit geneem het van hom. Hy het snaaks begin optree en ernstige gemoedsversteurings begin kry. Saul was ‘n bitter bekommerde man: was hy besig om kranksinnig te raak?

Op ‘n dag kom een van sy amptenare met ‘n desperate voorstel na vore: Musiek! “As ons vir die koning mooi, rustige, strelende musiek speel, sal dit hom kalmeer!” Saul is ingenome met die idee - dit mag dalk nét werk! “Kry iemand om vir my op ‘n lier te kom speel!”

En só voorsien die Here weereens vir Dawid, dat hy kennis kan maak met die paleis en alles wat daar gebeur. Op ‘n dag word hy ontbied van sy skape af: “Die koning het jou nodig! Bring jou lier saam want jy gaan vir koning Saul musiek maak.”

Dawid se naam het hom vooruit geloop, want in die paleis het dit gegons oor hierdie aantreklike jong man, nog lank voor sy aankoms. “Hulle sê hy skrik vir niks! Beslis ‘n dapper man! Nee, hy was nog nooit in ‘n oorlog nie, maar hy het glo al ‘n leeu kaalhande doodgemaak!” So praat die manne oor Dawid. “En boonop is die kêreltjie glo baie wél ter tale - skryf selfs liedere en gedigte! Nou nie juis wat jy van ‘n vegter sal verwag nie!”

Wanneer die Here ‘n taak op jou skouers lê, voorsien Hy die toerusting om die taak te kan uitvoer. Ek het dit al telkemale in my eie lewe gesien, waar ek dikwels gesê het: “Here, maar ek weet nie hoe nie!” Dan begin dinge in plek val, en op wonderbaarlike wyse kom die opleiding om die taak te kan uitvoer. Al wat Hy vra is dat jy gewillig moet wees.

Gebed:

Here, dankie dat U so getrou is en dat U alles voorsien wat nodig is vir my om U taak uit te voer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026