Valse en Ware Koning

26 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Valse en Ware Koning

Matteus 2:13-23

VIDEO | OUDIO

Matteus gee ‘n kort beskrywing van drie gebeurtenisse kort na Jesus se geboorte. In twee van die gevalle is daar engele wat boodskappe bring en die derde keer ‘n droom met ‘n opdrag van God. Ons sien dus dat God in volle beheer is van die situasie. Daar is ‘n paar baie vreemde besluite wat geneem word, byvoorbeeld waarom Josef nou juis na Egipte vlug? En wanneer hy terugkeer na sy geboorteland, waarom gaan vestig hy hom in Nasaret van alle plekke?

Egipte het ‘n baie belangrike rol gespeel in die geskiedenis van Israel. Josef was die eerste prominente Israeliet met Egiptiese bande. Hy het sy loopbaan daar as slaaf begin en toe in die tronk beland vir ‘n paar jaar. Daarna het hy eerste minister van Egipte geword op presies die regte tyd, sodat sy familie gered kon word uit die knellende hongersnood. Dit is dan juis in Egipte waar daardie enkele gesin so voorspoedig lewe dat hulle uiteindelik ‘n volk word om mee te reken. Egipte was dus vir die Israeliete ‘n plek van toevlug in nood. Die baba, Moses word hier beskerm deur die Farao se dogter wanneer haar pa die seuntjies uitmoor. Hy kry sy opleiding in die koningshuis, waar die fondament gelê word vir sy uitsonderlike leierskap om jare later die volk na die beloofde land te lei.

Telkemale lees ons deur die verloop van die geskiedenis van persone wat na Egipte vlug wanneer die een of ander groot gevaar dreig. Dit is dus gladnie ongewoon dat Josef juis na Egipte vlug wanneer die engel hom kom waarsku nie!

Herodus die Grote was in die tyd van Jesus se geboorte koning oor Israel. Hy het toe alreeds 37 jaar lank op die troon gesit. Herodus was ‘n uiters slim en geslepe heerser, berug vir sy wreedheid. Hy het selfs sy eie seun laat teregstel! Herodus was fisies ‘n baie sterk man, en hy het die Romeine baie beïndruk met sy slinkse metodes om belastings te vorder en rykdom aan Rome te besorg. Hy het selfs Dawid se graf beroof, en sodoende die Jode die harnas ingejaag. Hy het ‘n besonderse smaak gehad in argitektuur, en sy bouwerke was baie indrukwekkend. Ongelukkig het hy allerhande uitheemse goed, soos teaters en amfiteaters gebou, wat die Griekse en Romeinse filosofieë bevorder het, en terselfdertyd die ortodokse Jode hewig ontstel het!

Maar hy het ook die tempel herbou tot ‘n manjifieke stukkie argitektuur, en daarmee die Jode se vertroue herwin. Sy lewe word gekenmerk deur wreedheid, moord, jaloesie en magsug. Een van die laaste wreedhede is die kindermoord waarvan Matteus skryf. Hy sterf in die jaar 4vC. Hieruit kan ons natuurlik die afleiding maak dat Jesus nie in die jaar 1nC gebore is nie, maar waarskynlik in 5vC, aangesien Herodus nog geleef het tydens Jesus se geboorte.

Na die nuus van Herodus se dood besluit Josef om terug te keer na Israel, maar eers nadat ‘n engel hom weereens die opdrag gee om so te maak. Herodus die Grote word egter opgevolg deur sy oudste seun, Herodus Argelaos, ‘n man wat mooi by sy wrede pa geleer het, en ‘n verskriklike humeur gehad het. Tydens ‘n Joodse opstand was hy eenmaal verantwoordelik vir 3000 Jode se dood, en so het hy weereens die Jode die harnas ingejaag. G’n wonder dat Josef besluit het om eerder in Nasaret in Galilea te gaan woon. Daar was hy ten minste nie onder Herodus se heerskappy nie! Dit het egter weereens gebeur na ‘n droom met ‘n opdrag van God. Nasaret het algemeen bekend gestaan as die plek van die nie-Jode, oftewel die heidene. Dit is ook interessant dat die Christene in Sirië, waar Matteus se gemeente moontlik was, die bynaam gehad het van Nasareners.

Die verskriklike teenstelling wat ons sien in die geskiedenis tussen die destydse aardse konings en die ware hemelse Koning, is opmerklik. Wreedheid, jaloesie, hebsug, diefstal, moord en magsug was kenmerklik van die Herodus-familie. Hulle was só behep met hulle eie dinge dat hulle selfs mekaar uitgemoor het!

Dit staan in skrille kontras met Jesus, die ware Koning, wat nederig was en wie se lewe gekenmerk was deur liefde, onselfsugtige self-opoffering, mededeelsaamheid, genesing en selfs opwekking uit die dood. Van magsug was daar géén sprake nie. Hy het nie in manjifieke paleise gebly soos die Herodusse nie. Hy het in Sy laaste drie jaar nie eers ‘n huis gehad om in te bly nie, en Hy het waarskynlik die meeste van die tyd in die veld moes oornag saam met Sy dissipels. Volgens Mat. 4:13 het Hy Hom egter wel in Kapernaum gevestig, en volgens Mat. 8 blyk dit dat Hy in Petrus se huis in Kapernaum tuisgegaan het.

Met Sy lewe het Hy ook ‘n voorbeeld gestel vir elkeen van ons. Hoe volg ons Jesus se voorbeeld na? Nee, dit is sekerlik nie nodig vir ‘n hedendaagse gelowige om te leef soos Jesus geleef het nie. Maar Hy het vir ons deur middel van gelykenisse en preke, soos byvoorbeeld die asemrowende bergpreek verduidelik watter beginsels in jou lewe belangrik is. Nie om slaafs die wet na te volg nie, maar om te kyk wat die ware betekenis van die wet is. Die een groot beginsel wat Jesus uitgespel het is liefde. Daarvan was daar by die Herodusse absoluut niks, buiten vir hulleself. Liefde vir God in die eerste plek en liefde vir jou medemens. Hierdie begrip is alles-omvattend!

Gebed:

Here, dankie dat U die ware Koning gestuur het om ons, nie alleen te red van sonde nie, maar ook om ons te leer hoe om waarlik te lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026