Uitverkies

6 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Uitverkies

Amos 3:1-8

Video - Oudio

Elke ding wat gebeur, het ‘n oorsaak. Niks gebeur mos sommer so vanself nie, al wil dit soms vir ons lyk asof dinge soms sonder enige oorsaak gebeur. As my motor sommer so vir geen rede op aarde skielik gaan staan, dan moet daar ‘n logiese oorsaak wees - het ek dalk vergeet om brandstof in te gooi?

Gister het ons gesien hoedat Amos ‘n wye draai preek en dan skielik die vinger wys vir die volk Israel. Hulle het in sonde verval, en daarom gaan die Here hulle straf. Maar waarom is die Here dan so streng met Israel? Baie ander volke kom weg met moord, maar Israel is die een wat elke keer uitgesonder word en gestraf word. Waarom? 

Die antwoord lê opgesluit in die woordjie “uitgekies”. Ja, die Here het hierdie volk uitgekies as Sy volk. Die oorspronklike betekenis van hierdie woord sê iets van ‘n intieme verhouding wat hiermee gepaard gaan. Die woord “uitverkies” beskryf ‘n kosbare en duursame verhouding wat alreeds baie ver terug in die verlede tot stand gekom het, en steeds voortduur. Dieselfde woord in Hebreeus word ook gebruik om die mees intieme verhouding in ‘n huwelik uit te druk.

As ek my huweliksmaat sou verkul, en ‘n skelm verhouding het, sal sy nie maar net sê: “Mans is nou eenmaal mans!”, en die hele affêre aflag as ‘n bietjie manne-pret nie. Vir séker gaan sy bitter omgekrap wees, en die gevolge kan dalk bitter tragies wees. Waarom? Juis omdat daar so ‘n intieme verhouding in ons huwelik is. Sy het baie opgeoffer om hierdie verhouding te laat werk, dit het nie sommer so vanself gekom nie. En as ek daardie verhouding skaad, maak dit bitter seer.

Die Here het Israel uitgekies as Sy spesiale volk. Dieselfde intieme verhouding kom tot stand tussen Hom en Israel. Hy het baie opgeoffer in hierdie verhouding om dit te laat werk en om die liefdesbande te bind, soos byvoorbeeld om hulle te verlos uit Egipte. Die Here se geduld met hierdie volk was baie, baie lank. Hulle is skaars deur die Rietsee, toe bou hulle al ‘n goue kalf en flenter agter ander gode aan. As ons deur die geskiedenisboeke van Israel blaai, sien ons hoedat die Here Sy kant van die liefdesverhouding volkome nakom en uitleef. God se liefde loop soos ‘n goue draad regdeur die ganse Ou Testament. Dikwels was daar selfs groot wonderdade om die volk te bewaar. Maar dan sien ons ook parallel hiermee hoedat die sonde van die volk soos ‘n pikswart, smerige tou deur die blaaie van die Ou Testament  weef.

God se geduld moes opraak (met permissie gesê). En daarom kondig Amos aan dat die Here se straf op hulle wag. Die Here straf nie sommer maar net vir ‘n kleinigheid nie, en Hy sal selfs Sy straf terugtrek as daar berou is. Gaan lees gerus maar die boek Jona, en kyk hoe die Here die stad Nineve veroordeel het, en toe later die oordeel terug getrek het toe die mense berou gehad het.

Soos reeds gesien, gebruik Amos beelde uit die natuur en die alledaagse lewe om te verduidelik dat wanneer iets gebeur, daar ‘n oorsaak is. As jy ‘n leeu hoor brul, dan weet jy hy het dalk iets gevang, want hy brul nie sonder rede nie. En wanneer hy brul, vul dit jou met groot ontsag. Wanneer hy in ‘n pikdonker nag só naby brul dat die vensters ratel, dan bibber jy van angs! “Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie?” vra Amos. Hy wil die stem van die Here vergelyk met die ontsagwekkende brul van ‘n leeu. En dan voeg hy by, dat as hy die stem van God hoor, dan durf hy as profeet nie daaroor stilbly nie. 

Maar hierin lê ook ‘n ander waarheid opgesluit: voordat ‘n profeet kan praat, oftewel profeteer, moet hy eers luister na wat die Here sê. Amos het nie maar op sy eie hierdie dinge aan die volk oorgedra nie. Hy moes eers luister, en dan die boodskap oordra. 

Dit is baie maklik om mense te veroordeel, ons doen dit elke dag, dikwels as ‘n bespotting. Die moeilike deel is egter om te luister na wat die Here sê. Om te luister, beteken dat ek eers my eie vooroordele uit my kop sal kry, en dat ek eerlik en met ‘n oop gemoed na die Here sal gaan. Dit beteken dat ek met ‘n biddende hart die Woord van die Here sal lees. Dit beteken ook dat ek my geloofs-ore sal oopmaak om die stem van die Heilige Gees te kan hoor. Dit beteken ook dat ek die muur van sonde wat keer dat ek Sy stem kan hoor, sal afbreek, sodat daar geen skeiding is tussen my en Hom nie.

En wanneer ek gehoor het - wat doen ek dan? Jona was bitter onwillig om die Here se opdrag uit te voer. Amos was gehoorsaam, en hy het gedoen wat hy moes, al het dit dalk beteken dat die volk niks gehou het van sy boodskap nie. Hulle wou hoor hoe hulle vyande in die stof byt! Amos het egter oor Israel se sonde gepreek, soos die Here hom beveel het. Ek dink nie Amos was baie gewild nie, maar dit het hom min gepla, solank hy net kon sê wat God hom voorgesê het.

Gebed:

Here, leer my om te luister, en maak my bereid om te praat wanneer ek U stem hoor.Uitverkies

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026