1 Tessalonisense 1:2-10
Gister het ons na drie vrae gekyk wat handel oor die uitverkiesing. Op die eerste vraag, oor wat die uitverkiesing beteken, het ons gesê dat dit God se soewereine keuse is om ‘n persoon te kies om Sy eiendom te word. Die tweede vraag was of dit regverdig van God is om sekere mense uit te kies en ander nie? En dan sien ons duidelik dat daar niks onregverdig aan God se keuse is nie. Die derde vraag was, hoe ek weet of ek uitverkies is? Ons het geleer dat God nie wil hê dat enigeen verlore gaan nie, maar dat mense ‘n keuse het om God te volg of nie.
Vanoggend kom ons dan by die vierde vraag: “Wat moet ek doen as ek uitverkies is?” Wanneer ek die dag God se roepstem herken en “Ja” daarop antwoord, dan beteken dit nie dat ek nou maar kan gaan terugsit en God se genade oor my laat spoel nie. Dit beteken dat ek my moet gereed maak vir die ewige lewe, want dit is ‘n lewe wat ’n ewigheid duur saam met God.
Ons weet dat God absoluut heilig is, en daarom sal dit bitter onvanpas wees om vuil en totaal besmet saam met Hom te wil leef. As ek byvoorbeeld sou besluit om baie barmhartig te wees, en ek gaan haal ‘n vuil boemelaar en bied aan dat hy by my kan kom intrek en die huis met my deel, dan gaan daar sekere implikasies wees. In die eerste plek is die man vuil, dalk nog vol luise! Hy het maande laas sy lyf in water gehad, en hy weet nie eers wat die doel van ‘n koekie seep is nie. Tandepasta is beslis nie op sy inkopielys nie. Ek gaan dit nie lank met so ‘n “geurige” man in die huis uithou nie. Die eenvoudige antwoord is dat hy skoon kom en van sy vrot asem ontslae raak. En slegs een keer se skoon raak, is nie die antwoord nie. hy moet elke dag skoon kom, anders is daar netnou weer ‘n klankie!
Om presies dieselfde rede is dit niks minder as reg nie, vir die gelowige om te probeer skoon kom van sonde en om op hierdie manier jouself 'n bietjie meer aanneemlik vir God te maak. As ek in God se teenwoordigheid wil leef, moet die vuil van my sonde dus weggespoel word. Maar presies nes die geval met die boemelaar, is dit nie ’n eenmalige ding nie. Dit is ’n deurlopende proses, waar ek elke dag my lewe in die spieël van God se Woord bekyk, en skoonmaak wat vuil is. Die wonderlike is dat Hy my ál die hulp daarmee gee wat ek nodig het. Die Heilige Gees is altyd daar om my te lei. As ek bereid is om my geloofs-ore vir die Gees oop te maak en my hart ontvanklik te maak vir wat Hy vir my sê deur die Woord en deur mede-gelowiges, dan sal Hy my rig op ‘n pad waar ek ‘n lewe kan lei wat aanneemlik is vir God.
Paulus sê dat ‘n mens iemand wat uitverkies is kan uitken in die dinge wat hy doen, die leiding van die Heilige Gees maak jou anders. Dit word klaar duidelik in die feit dat jy die Evangelie aanvaar het. As jy Jesus aangeneem het, is jy uitverkies!
Maar dan moet jou geloof in aksie oorgaan. Jou geloof word inderdaad sigbaar in die dinge wat jy doen. Kortliks beteken dit dat jy aktief Jesus se liefde uitleef, nie alleen met woorde nie, maar ook met jou dade. Natuurlik leef jy jou liefde uit op twee vlakke, horisontaal na jou medemens, maar nóg belangriker, op 'n vertikale vlak na God.
Die feit is, dat hoe harder jy werk op die liefdesveld, hoe sterker word jou geloof. Jou liefde word dan as’t ware die bewys dat God jou uitverkies het. Let wel, jy hoef nie te werk om uitverkies te word nie, dit gee God gratis. Jy werk wél OMDAT jy alreeds uitverkies is, uit dankbaarheid vir hierdie genade wat God ALREEDS aan jou bewys het.
Onthou, dat hierdie uitleef van liefde en die mooi dade en alles wat daarmee gepaard gaan, nie om jou eie ontwil is nie. Alles gaan oor God alleen. En deel daarvan is om terselfdertyd ook tot voorbeeld te dien vir ander mense, om hulle ook te inspireer tot geloof en om God te dien. Paulus skryf vir die gemeente in Tessalonika: “So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje.” (1 Tess. 1:7) Hulle lewe was só ‘n inspirasie vir die mense van Masedonië en Agaje, dat Paulus nie eers nodig gehad het om daar te gaan preek nie.
Die derde faset wat Paulus noem is “volharding van julle hoop”. Om op die Here te hoop, beteken dat jy wéét Hy sál waar maak wat Hy belowe het. Jy volhard in hierdie hoop as jy met jou lewe wys dat jy God op sy Woord neem.
Laastens: Ek het al gehoor hoedat iemand vir ‘n weerbarstige ongelowige sê: “Man, jy is beslis nie uitverkies nie!” Onthou die moordenaar langs Jesus aan die kruis! Wie is ek of jy om te oordeel? Behandel elke mens, hoe onverskillig hy ookal mag wees, asof hy uitverkies is. As God my kon kies, dan kan Hy enigeen uitkies!
Gebed:
Dankie Here, dat ek vandag verséker kan weet dat ek uitgekies is. Leer my om ‘n heilige lewe te leef tot U eer, en sodat ek daarmee ook ander mense kan inspireer om Ja te sê vir Jesus.