Uitgevang op die Sabbat

11 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Uitgevang op die Sabbat

Lukas 6:1-11  

Oudio

Dit was ‘n rustige Sabbatsoggend: Terwyl Jesus met sy dissipels deur die veld stap, kom hulle op ‘n wuiwende groen koringland af. Die manne kwyl, want dis harde werk om saam met Jesus te wees, en die werk betaal maar ‘n hongerloon! Boonop gee die skares wat so om hulle saamdrom hulle nie juis tyd om aan kos te dink nie. Nou lyk die vet koringare darem al te aanloklik. “Mag ons maar?” vra een vir Jesus, en Hy knik instemmend. Deut 23:25 is baie duidelik hieroor, dat as jy deur iemand se koringland stap, dan mag jy maar ‘n paar are pluk, dis nie diefstal nie.

Maar hulle word fyn dopgehou deur iemand wat net gesoek het vir ‘n enkele misstap: “Ha! Het julle!” ‘n Groepie Fariseërs storm op Jesus en sy manne af. Onmiddellik word die arme verbouereerde manne gekonfronteer met die feit dat hulle gewerk het op die Sabbat!

“Watse werk?” Hulle trek die skouers op.

“Julle het ge-oes! En dit op die Sabbat!”

Fariseërs het ‘n baie diep studie van die Skrif gedoen. Ongelukkig het hulle so hard gekonsentreer op kennis van die wet dat hulle nooit die ware gees van die Skrif gesnap het nie. Dit het vir hulle gegaan om die wet tot in sy fynste besonderhede te onderhou, en dat absoluut niks hulle een enkele stukkie van die wet sou laat oortree nie. Hierdie filosofie het hulle op die samelewing probeer afdwing. Alles klink baie edel! Oor die jare het die Fariseërs egter begin besef dat dit nie so maklik is om wette te onderhou nie. Een rede is dat daar soveel skuiwergate is. As die wet byvoorbeeld sê dat jy nie mag doodslaan nie, sou dit dan teen die wet wees as jy iemand doodwurg? En so het hulle begin om wette rondom die wette te formuleer sodat iemand nie dalk per ongeluk ‘n wet sou oortree nie! Seker die moeilikste wet was die een oor die Sabbat, want daar is soveel skuiwergate. Wanneer is werk dan nou eintlik werk? Almal het geweet dat om te oes, werk is, en totaal taboe is. Maklik! Een ou Fariseër het waarskynlik een dag vir sy kollegas gesê: “Gisteroggend sien ek my ou vrou op die Sabbat haar ooghare staan en pluk voor die spieël, en toe dink ek mos by myself: maar dis mos dieselfde as om te oes! Nou vra ek julle, moet ons nie ‘n wet maak dat vrouens nie hulle ooghare op die Sabbat mag uitpluk nie?” 

“Kyk”, sê een van die ander ringkoppe, “As sy in die eerste plek nie in die spieel gekyk het nie, sou sy nie haar ooghare eers raakgesien het nie!” Een van die Fariseërs se wette lees dus dat ‘n vrou nie op die Sabbat in ‘n spieël mag kyk nie, want dit kan lei tot werk. ‘n Ander wet lui dat jy nie ‘n stoel onder ‘n tafel mag uittrek nie, want dit maak voortjies in die stof, wat presies dieselfde is as om te ploeg en wat natuurlik werk is. En so kan ons aangaan. Daar was uiteindelik 39 wette rondom die Sabbatswet alleen geweef. En die Fariseërs het hulleself gesien as die bewakers van die Wet.

Toe die dissipels dus uitgevang word dat hulle op ‘n Sabbat “werk”, was daar groot moeilikheid! Jesus probeer vir hulle verduidelik dat ‘n mens nie so onwrikbaar moet wees nie, en dat selfs Dawid die wet “oortree” het toe daar nood was. Daar moet ‘n balans wees in jou lewe, en boonop het hulle eintlik hier te doen met die Skepper van die Sabbat. Maar dit sou hulle gladnie verstaan nie, want hulle het net een ding op die brein gehad!

Nie lank na hierdie insident nie, sit Jesus een Sabbat in die sinagoge, besig om te preek. Natuurlik was daar weer ‘n paar Fariseërs wat nie noodwendig na Jesus se preek kom luister het nie, maar slegs daarop uit was om Hom uit te vang. En toe gebeur dit ook! ‘n Man met ‘n gebreklike regterhand sit tussen die mense, en die Fariseërs sê vir mekaar: “Ha! Hier kom ‘n ding!” Jesus het egter hulle gedagtes gelees, en die man nader geroep. “Mag ‘n mens goed doen op ‘n Sabbat?” Hy kyk die Fariseërs in die oë. En toe maak hy die man gesond, en gee hom só ‘n nuwe kans in die lewe om te kan werk en sy gesin te onderhou. Ons lees dat die spul wetsmanne woedend was omdat hulle uitoorlê is!

Het Jesus die Wet as onbelangrik beskou en die Sabbat summier verwerp? Nee, dit is beslis nie die geval nie! Jesus wil egter  vir die Fariseërs wys waaroor die wet werklik gaan. Later het Hy dit pragtig opgesom as liefde vir God en liefde vir jou medemens. Na Jesus se soenverdienste aan die kruis, het daar nog ‘n dimensie bygekom: dankbaarheid. Omdat Jesus ons skuld betaal het en ons verlossing gegee het, is ons dankbaar en daarom leef ons hierdie liefde waarvan Jesus gepraat het uit. Dit gaan nou nie meer vir ons soos die Fariseërs om die wet te onderhou ter wille van die wet nie, of om ons saligheid te verdien nie, maar bloot omdat ons God liefhet, en daarom Sy wil probeer doen.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware liefde in my hart - liefde gebore uit dankbaarheid vir U groot verlossingsdaad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026