Uitgestuurdes

11 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Uitgestuurdes

Lukas 10:1-24

Ons het gesien hoedat Jesus die twaalf apostels uitgestuur het om op hulle eie die Evangelie te gaan verkondig. Vir hierdie manne was dit sékerlik 'n baie opwindende avontuur, want hulle word vertrou om die blye nuus te gaan verkondig. In vandag se perikoop sien ons egter ‘n héél ander prentjie. Jesus besluit om ‘n groot groep van die mense wat elke dag na Hom kom luister op dieselfde manier uit te stuur om prakties in die veld te gaan ervaar wat dit beteken om Jesus se opdrag uit te voer. Die blote feit dat Lukas nogal ‘n lang stuk daaroor skryf, sê vir my dat dit ‘n baie belangrike gebeurtenis was. Jy kom nou tot die besef dat dit nie net die uitgesoekte twaalf manne is wat die voorreg het om die Woord te versprei nie, maar elkeen wat gewillig is, ook die doodgewone volgelinge van Jesus.

Niemand van ons kan vandag sê dat dit net die dominee, pastoor of sendeling is wat die Woord moet verkondig nie. Dit is elke gelowige se taak en opdrag van Jesus.

Iemand vertel eenmaal vir my dat sy as jong meisie eenmaal die taak gekry het om ‘n dame wat ‘n baie groot rugoperasie gehad het te gaan versorg. Die vrou het plat op haar rug gelê, en kon nie eers haar kop beweeg nie. Sy moes gevoer word soos 'n baba. Toe die meisie die eerste keer in die vertrek instap, was die vrou se heel eerste vraag aan haar: “Ken jy vir Jesus? Is jy gered?” Dit het hierdie meisie tot in haar fondamente geskud, en haar hele lewe radikaal verander. Vandag, baie jare later, is sy sélf ‘n ywerige getuie vir Jesus. Selfs iemand wat totaal hulpeloos is, kan steeds op ‘n kragtige manier die Evangelie uitdra.

Wanneer Jesus die groep van 72 uitstuur, beklemtoon Hy dat dit beslis nie maklik sou wees nie. Hy waarsku dat hulle soos lammers tussen die wolwe ingestuur sou word. Daar sou beslis ook mense wees wat hulle sou verwerp. Hulle moes hulle klaarmaak om nés Jesus behandel te word. En Jesus is beslis nie altyd so goed behandel nie!

Jesus gee ook vir hulle ‘n spesifieke gedragskode wat hulle tydens hulle sending moes nakom. Hulle moes byvoorbeeld nie mooipraatjies maak of ginnegaap langs die pad nie, die boodskap is baie dringend! En hulle moes die vrede van God saam met hulle dra en uitstraal. Hulle moes niks geld of enige bagasie saamdra nie, sodat hulle hulle totale afhanklikheid van God kon besef tydens hierdie sending. Verder vertel Jesus vir hulle wat om te doen as hulle gasvry ontvang word. Hy weet egter ook al te goed dat hulle ‘n goeie kans staan om weggejaag te word, dus vertel Hy hulle ook wat om in só ‘n situasie te doen.

Elke persoon wat sy nek uitsteek om die Evangelie te versprei, kan verseker wees van teenstand. Ek weet, ek het dit persoonlik al dikwels ondervind, en dan voel jy seergemaak en verwerp. Jy moet dit egter in perspektief sien: dit is nie jy as persoon wat verwerp word nie, maar dit is Jesus wat verwerp word. Dan haal die persoon dit op jou uit, want hy kan nie vir Jesus bykom nie. Wanneer dit gebeur: skud letterlik die stof van jou af, en jubel oor die feit dat jy waardig geag is om vir Jesus te kon ly.

Ek het nou nie juis ooghare vir die Jehovah's Getuies nie, maar één ding kan ons almal van hulle leer: dat hulle bereid is om slae te verduur om hulle boodskap uit te dra. Jy kan hulle maar wegjaag, maar as jy weer sien is hulle net weer terug met nóg ‘n boekie of pamfletjie. Dit vra dikwels van my en jou om dikvellig te wees wanneer dit by die Evangelie kom. Laat die beledigings maar bloot afrol soos water van ‘n eend af, en moenie dit persoonlik opneem nie.

Nadat hierdie uitgestuurdes teruggekom het, was hulle baie opgewonde, want skielik het hulle besef dat dit werk! Selfs duiwels het hulle gehoorsaam as hulle net Jesus se Naam noem!

Jesus se kommentaar is dat Hy die duiwel soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het. Die feit van die duiwel se val is egter minder belangrik. Wat wél van baie groot belang is, is dat Jesus se volgelinge nou toegang tot die hemel verkry het. Hy wil die perspektief regstel: dit is die hemelse sekerheid wat die belangrikste gevolg is van die uitvoering van Jesus se opdragte, en nie die sensasionele aardse gebeure nie.

Dan sien ons hoe Jesus Sy blydskap oor die gebeure uitjubel, dat doodgewone, eenvoudige mense begin begryp het waaroor dit alles gaan. Op dieselfde manier sal Jesus en die ganse engeleskaar saam met Hom dit uitjubel wanneer ons doodgewone mense begin besef dat dit ons verantwoordelikheid en taak is om die Evangelie te versprei. Dit is nie die taak van predikante en pastore en al die hoogsgeleerdes nie, hulle gee ons slegs opleiding. Die taak lê egter vierkantig op my en jou skouers, want ons is die uitgestuurdes.

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om U Woord dag en nag te verkondig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026