Wie is Hierdie Jesus?

3 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wie is Hierdie Jesus?

Lukas 9:7-17

Herodus Antipas, een van die vier seuns van Herodus die Grote, was ‘n man vir wie almal bang was. Joodse profete het inmekaar gekrimp by die blote aanhoor van sy naam, want vir hulle was hy ‘n verskrikking. Johannes die Doper was een van hierdie wrede man se slagoffers. Sy bebloede kop is in ‘n skottel by een van Herodus se wilde partytjies aan die gaste vertoon, nadat Herodus hom laat onthoof het om sy vrou, Herodias se grille te bevredig.

Maar Herodus het ook ‘n ander sy gehad wat hy nie graag aan die wêreld wou vertoon nie wantn baie onseker mens het agter hierdie wrede masker geskuil. Toe hy te hore kom van die wonderdade wat Jesus gedoen het, skrik hy hom spierwit. “Het Johannes uit die dood opgestaan?” Hy was vas oortuig daarvan dat Jesus Johannes se spook was! Herodus het sy bes probeer om Jesus te siene te kry, maar dit was hom nie beskore nie. Uiteindelik het hy wél vir Jesus gesien, maar dit was in tragiese omstandighede, pas voor Jesus tereggestel sou word. Daar het Herodus die ideale geleentheid gehad om met Jesus te kon praat. Hy het selfs die kans gekry om Jesus se lot te bepaal, en Hom ‘n billike kans te gee. Maar hy het alles deur sy vingers laat glip!

Wie is hierdie Man tóg?” wou Herodus weet.

Op meesterlike wyse beantwoord Lukas juis hierdie vraag in die volgende vier episodes met vier beskrywende titels vir Jesus. In Luk 9:10-17 beskryf hy Jesus as die Voorsiener. In vers 18-22 is Hy die Gesalfde van God. In vers 23-27 is Hy die Lydende Seun van die mens en in vers 28-36 die Seun van God.

Jesus het Sy bediening in Galilea afgesluit en ons tref Hom aan op pad na die dorp Betsaida, op die noord-oostelike oewer van die meer van Galilea. Hierdie was die magsgebied van Herodus Antipas se broer Filippus. Die twaalf was sekerlik doodmoeg maar baie opgewonde na hulle eerste ervaring as evangeliste en hulle het mekaar skaars kans gegee om alles vir hulle Meester te vertel van hulle wedervaringe. Jesus het gesmag na ‘n bietjie rus en stilte alleen saam met die manne, en hulle het na ‘n afgeleë plek, weg van al die mense af gestap. Rus en stilte was hulle egter nie beskore nie, want toe die mense agterkom waar hulle hulle bevind het, was daar binne ‘n ommesientjie alweer ‘n reuse skare wat om hulle saamdrom het. In plaas daarvan dat Jesus vir hulle sê: “Gaan huistoe, en laat ons in rus en vrede!” verwelkom Hy hulle eerder en gesels met hulle oor die Koninkryk van God.

Die twaalf manne het egter later bekommerd begin raak want die tyd het aangestap en die son was besig om water te trek en hierdie spul mense moes versorg word! Die naaste dorp was kilometers weg en hier hetn skare gesit wat Loftus se paviljoene goed sou volsit. Waar sou hierdie klomp op kort kennisgewing skielik kos en slaapplek kry? Hulle het begin sommetjies maak en tot die slotsom gekom dat daar maklik 5’000 mans gesit het. Dit het nog nie eers die swetterjoel vrouens en kindertjies ingesluit nie!

Jesus was egter baie rustig oor die situasie: Gee vir hulle iets om te eet.”

Dit was ‘n totaal onmoontlike opdrag aan die twaalf! Hulle het in ongeloof vir mekaar gekyk. Daar was géén manier wat hulle vir hierdie skare kos sou kon kry nie. Hulle hou voorraadopname, en slegs vyf brode en twee misrabele vissies was al wat dit opgelewer het!

Hoe verskriklik beperk is ons menslike denke en vermoëns nie! Jesus vra van die twaalf manne om die absolute onmoontlike te doen, en moedeloos probeer hulle iets saamflans terwyl hulle maar al te goed besef het dat dit puur verniet was. In skrille teenstelling daarmee was Jesus die Een wat kalm en bedaard die broodjies neem en daarvoor die seën vra, so asof dit maar net nóg ‘n doodgewone maaltyd was. Die wonder gebeur wanneer die manne die brood en vis uitdeel aan die mense, en dit het net eenvoudig nie opgeraak nie. Só oorvloedig het Jesus in die mense se behoeftes voorsien dat daar uiteindelik twaalf mandjies vol brood oorgebly het nadat die reuse skare mense hulle versadig geëet het!

Op Herodus se vraag oor wie hierdie Jesus nou eintlik is, word Jesus hier voorgestel as die Voorsiener. Alhoewel Jesus die Een was wat die wonderwerk verrig het, was dit die dissipels wat die taak gekry het om die kos voor te berei en te versprei. Hierdeur wys Jesus hulle op watter wyse Hy oorvloedig vir hulle sou voorsien wanneer hulle later sélf in die groot sendingveld moes staan. Jesus se voorsiening het egter ook nie opgehou by die twaalf nie. Deur die eeue het ons gesien hoedat daar telkemale op wonderbaarlike maniere voorsien was vir diegene wat in diens gestaan het van die Meester. Vandag is die verhale steeds legio, en wonderwerke gebeur daagliks. In my eie lewe kan ek net oor en oor getuig van God se wonderlike voorsiening op tye waar alles vir my totaal onmoontlik gelyk het!

Gebed:

Here, dankie dat ons elke dag na U kan opkyk as die Een wat ook vir ons voorsien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026