Uitgestuur

21 September, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Uitgestuur

Matteus 28:16-20

VIDEO | OUDIO

Meer as ’n honderd oordenkinge gelede het ons begin met Matteus. Dit het presies vyf maande geneem om deur hierdie kosbare Bybelboek te werk, en persoonlik het ek baie verryk anderkant uitgekom. Die Here was vir my goed, en alle lof en dank aan Hom alleen, wat dag-vir-dag vir my die dagstukkies gegee het om te skryf. Nou het ons aan die einde gekom van hierdie uiters inspirerende Boek en ek wil ook vanoggend vir jou baie dankie sê dat jy my die geleentheid gegee het om dit met jou te deel. Dankie ook vir elkeen wat dit weer verder versprei!

In die laaste paar verse van Matteus se inspirerende boek, verkeer ons saam met die elf dissipels op ‘n berg by Galilea. Jesus het hulle daarheen gestuur en hulle kan sommer aanvoel dat hier iets baie groot gaan gebeur. Dan is Jesus skielik daar, en dadelik aanbid hulle Hom as die Opgestane Here. Alhoewel Jesus alreeds etlike kere aan hulle verskyn het, kan hulle maar net nie aan die gedagte gewoond raak dat Jesus waarlik opgestaan het nie! Hulle is egter deeglik bewus dat Jesus inderdaad die Seun van God is en dat hierdie waarlik ‘n wonderlike Godsverskyning is, daarom aanbid hulle Hom! Kleingeloof is ‘n wesenlike gevaar vir hierdie groepie, en alhoewel hulle vir Jesus sien, glo nie almal volkome nie. Sien is nie noodwendig glo nie! Moontlik is dit eerder net mooi andersom: gló is sien en doen!

Jesus het vir oulaas ‘n laaste aankondiging vir die elftal: ‘n volmagsaankondiging, ‘n opdrag asook ‘n belofte. Ons het alreeds oor die afgelope vyf maande verskeie kere gesien dat Jesus volmag het van die Vader. Hier kom bevestig Jesus dit maar net weer ‘n slag as Hy vir Sy volgelinge sê dat álle mag in die hemel en op aarde aan Hom gegee is! Dit is dus met volle outoriteit dat Hy hulle nou ‘n opdrag gee! Sy opdrag behels vier dinge, naamlik om te gáán; om dissipels te maak; om te doop en om te leer. In kort, die sendingopdrag.

Die opdrag is dus eerstens om die wye wêreld in te gaan en wêreldwyd die evangelie van Jesus Christus te vestig. Terselfdertyd moet hulle die sakrament van die doop bedien aan die nuwe gelowiges. Hulle moet hierdie nuwe gelowiges dan opleiding gee sodat hulle weer dieselfde kan doen, maar ook om alles te doen wat Jesus hulle geleer het. Wanneer Jesus sê: “maak dissipels”, is die bedoeling nie alleen om mense na Jesus te lei nie. Dit is egter baie belangrik dat hierdie bekeerlinge só opgelei moet word dat hulle ware dissipels sal word wat op húlle beurt weer sal uitgaan om dissipels, oftewel werkers vir die Koninkryk te werf en op te lei.

Dan gee Jesus vir hulle boonop ‘n wonderlike belofte, dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die wêreld!

Vandag, tweeduisend jaar later, het die Kerk reeds baie aanslae beleef. Islam probeer baie hard om die kerk te verswelg; Hindoeïsme verkondig dat dit nie saakmaak watter God jy dien nie en dat Jesus maar saam met al die ander aanbid kan word. Boeddhisme beweer dat jy gladnie eers ‘n God hoef te hê nie, solank jy net goed leef. En so kan ons aangaan. Daar is meer as ‘n duisend verskillende godsdienste wêreldwyd. Ten spyte van al hierdie teenslae het Jesus Christus se kerk gegroei tot die heel grootste van al die godsdienste.

Alles het begin by ‘n klein handjievol volgelinge wat gewillig was ten spyte van hulle ongeloof en onbekwaamheid. Jesus het vir hulle die nodige geloof gegee en die Heilige Gees het hulle bekwaam gemaak. Die groot geheim was dat hulle bekeerlinge nie maar net saam kom aanbid het nie maar daardie opdrag met groot ywer verder geneem het, toegerus deur dieselfde Heilige Gees. Meeste Christene het vandag “lui” geword en sit maar net soos ‘n spons en absorbeer al die mooi dinge wat na hulle kant toe kom. Jesus se opdrag om uitgestuurdes te wees, geld egter vir elke gelowige. Ek en jy het vandag presies dieselfde taak as die elf dissipels daar op die berg, om die evangelie uit te dra na die wêreld en nóg dissipels te maak. Omstandighede het natuurlik geweldig verander, maar vandag het ons die wonderlikste middele om die blye boodskap te kan uitdra, internet, radio en nog baie meer. Daar is organisasies soos Geopende Deure wat Bybels in plekke insmokkel waar die Woord verbode is. Jesus se opdrag aan jou vanoggend is om betrokke te raak.

Maar hoe? Hoe kan ek ook ‘n “uitgestuurde” word?

Stuur hierdie dagstukkies aan ander, of as dit moeilik is, stuur vir my die adresse, en ek sal dit namens jou aanstuur. Baie dankie vir elkeen wat gereeld vir my adresse stuur van nuwe intekenare op die dagstukkies. Raak betrokke by ‘n sendingorganisasie soos Geopende Deure, die Masedonië Projek, die Christelike Seemansorganisasie of waar die Gees jou ookal lei. Leef Jesus se liefde uit in jou daaglikse lewe. Raak betrokke in jou eie gemeente. Spoor jou gemeente aan om betrokke te raak by sendingwerk indien hulle nie reeds is nie. Wees kreatief! As jy gewillig is, sal die geleenthede en deure vir jou oopgaan.

Gebed:

Here Jesus, ek stel myself vandag tot U beskikking. Wys my asseblief waarheen U my wil stuur of waar U my wil gebruik. Dankie vir daardie wonderlike belofte dat U by my is vir ewig en altyd!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026