Uiteindelik Koning!

15 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Uiteindelik Koning!

2 Samuel 4 - 5:8

VIDEO | OUDIO

Dit is die warmste deel van die dag, en almal wat dit kan bekostig, gaan neem eers ‘n middagslapie. So ook die Koning van Israel, Is-Boset. Dit word egter sy héél laaste middagslapie, want daar is twee manne wat nie só rustig is nie. Onder die dekmantel dat hulle koring kom aflewer, sluip die twee sluipmoordenaars die koning se huis binne. Hulle sluip tot rég in Is-Boset se slaapkamer sonder dat iemand onraad vermoed. Hulle pluk ‘n vlymskerp mes uit en steek hom in die maag. Voordat die koning tot verhaal kan kom, sny hulle sy kop af, prop dit in ’n sak en vlug ongesiens met hulle grusame pakkie by die paleis uit. Die twee manne is hoogs in hulle skik met wat hulle bereik het - hierdie bloederige sak gaan vir hulle baie roem bring en sékerlik ‘n gróót beloning as hulle dit vir Dawid wys.

Dwarsdeur die nag stap hulle die moordende ent pad tot by Hebron om vroeg die oggend baie trots vir Dawid te wys wat hulle gedoen het. “Vandag het die Here vir die koning wraak geneem!” Hulle is baie ingenome met hulleself as hulle vir Dawid elke grusame detail vertel van hoe hulle Is-Boset, die seun van Saul vermoor het.

Dis só tragies dat jy in die vergeelde blaaie van die geskiedenisboeke lees hoedat daar telkemale afskuwelike dade gepleeg word onder die dekmantel van Godsdiens! Die kruistogte was maar een voorbeeld hiervan. Duisende mense is om die lewe gebring omdat hulle nie dadelik die Christelike godsdiens wou aanvaar nie. As jy mooi daaroor dink, is dit eintlik Godslasterlik om voor te gee dat jou eie selfsugtige dade gepleeg word in die Naam van die Here!

Met hierdie twee manne was dit ook niks anders nie. Hulle dink dat hulle ryklik beloon sou word hiervoor. Maar dalk het hulle nie gehoor wat met die Amalakiet gebeur het wat Saul met sy selfdood die ewigheid in gehelp het nie. Dawid het deernis gehad met Saul ten spyte van die feit dat Saul hom wou doodmaak. Dawid het steeds nét soveel deernis met Saul se familie, al beteken dit dan ook dat hulle hom van sy regmatige troon afhou. Soos met die Amalakiet, word die twee sluipmoordenaars doodgemaak en hulle liggame word geskend om te wys hoeveel afsku hy het met dit wat hulle gedoen het. Is-Boset se liggaam word egter met deernis saam met dié van Abner in Hebron begrawe.

Nou is die finale struikelblok uit die weg geruim vir Dawid om koning te word, sonder dat hy ‘n vinger gelig het om dit te bewerkstellig. Alles het gebeur as gevolg van mense wat gewedywer het om die mag in hulle besit te kry en in hulle pogings hulle eie einde tot gevolg gehad het!

Dawid se koningskap is die absolute hoogtepunt in die geskiedenis van Israel. Dit lei inderdaad ‘n “goue tydperk” in vir Israel. Abner het voor sy ontydige dood die noordelike stamme deeglik voorberei. Wanneer Is-Boset dus sterf, is dit ‘n natuurlike reaksie van hulle kant dat Dawid die aangewese persoon is om die koningskap oor te neem. Hulle het lank reeds groot respek vir hom as strateeg, en boonop het die Here mos Persoonlik bepaal dat Dawid koning sou word. Al die leiers kom bymekaar en dan word die man wat eers ‘n eenvoudige skaapwagter was, gekroon as herder vir die volk!

Daar is egter nou ‘n probleempie - die volk het nie ‘n sentrale hoofstad nie. Dawid het sy oog op ‘n vesting wat soos ‘n rots staan, ‘n vesting waarvoor niemand kans sien nie – Jerusalem! Dit is byna onmoontlik om hierdie stad te oorwin. Die inwoners van hierdie stad was houtgerus, want dit sit beslis nie binne Dawid se mag om hulle te verower nie. En selfs al word hierdie stad beleër, beskik hulle van ondergrondse watertonnels wat hulle vir jare kan laat oorleef. Die inwoners spot selfs dat “blindes en kreupeles” die stad kan beskerm teen enige inval!

Dawid stuur nie die leërmagte van Israel om die stad te verower nie, maar sy eie persoonlike weermag. Dit is waarskynlik juis deur hierdie strategiese watertonnel (vandag bekend as Warren se Skag) wat Dawid se troepe toegang kry tot die stad, en almal totaal onverhoeds betrap. Die stad staan later dan ook bekend as die Dawidstad. Nou is Dawid behóórlik gevestig op ‘n uiters strategiese plek, reg op die grens tussen Juda en Israel. En hy word ten volle aanvaar deur beide groepe.

Dawid is uiters voorspoedig omdat die Here met hom is. Maar Dawid weet baie goed waar sy seën vandaan kom. Iemand anders sou dit dalk kon toeskryf aan sy eie voortreflikhede - Dawid het immers alle rede gehad om dit so te sien. Maar hy doen nie en ons leer Dawid ken as iemand wat baie naby aan die Here leef.

Wanneer iemand só naby aan God leef soos Dawid, dan kry alles in die lewe ‘n nuwe betekenis. Jou teenspoed is draaglik, want jy besef dat God Sy doel ten spyte daarvan kan bereik. Dit maak jou terselfdertyd ook dééglik bewus van God se krag en almag. Boonop is jou voorspoed net sovéél heerliker omdat jy die hand van die Here daarin sien, en jy besef hoe groot God se genade werklik oor jou is!

Gebed:

Here, ek kan nie ophou nie om U te loof en dank vir die feit dat U my God is. Dankie, dankie vir U groot genade oor my!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026