Twee Paaie

4 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Paaie

Matteus 7:13-14

Baie jare gelede, in die omgewing van 1959, pak die groot avontuurlus vir Pa en hy koop vir hom ‘n Landrover. Hierdie Meneer (met ‘n hoofletter M!) moes toe mos darem behoorlik ingewy en uitgetraai word, en so vertrek ons na Mosambiek vir ‘n vakansie. Ons ry Lourenço Marques heeltemal verby, want dit is darem mos hééltemal te beskaaf vir ons bos-motor. Ons ry na Xai-Xai, ‘n plek wat tóé al ‘n ou bekende bestemming vir ons Nelle was.

Sylvestra, ons gereelde hengel-gids, word vir die week gehuur. Hy ken daardie wêreld soos die palm van sy hand en hy is al amper soos familie. Wanneer Sylvestra ons splinternuwe Landrover sien, kom daar sommer so ‘n ekstra vonkel in sy oë, want hierdie ding kan mos nou plekke ry waar jy nie aldag kan kom nie, en sommer dadelik vertel hy van ‘n eksotiese hengelparadys waar die visse sommer so na die kaal hoek toe aangeswem kom en in toue staan om gevang te word. “Die pad is ‘n bietjie rof”, verduidelik hy, “maar ons het mos nou ‘n Landrover, en daai ding loop mos enige plek….

En so vertrek ons pikdonker een oggend na ‘n onbekende bestemming. Ek en my maat, Fanie, is borrelend van opgewondenheid: AVONTUUR! Die eerste klompie kilometer is op ‘n teerpad deur die Limpopo moerasse, maar net verby die dorpie Chidinguela beduie Sylvestra na ‘n klein tweespoor sandpaadjie waar ons moet afdraai, niks meer as net twee vae, feitlik onsigbare spore wat in digte bosse verdwyn. Dit is ‘n idilliese landskap, en ons ry op die randjie van ‘n donker meer. Reuse krokodille skarrel uit ons pad en verdwyn in die dieptes. Ons ploeg deur digte wolke muskiete!

Skielik eindig die tweespoorpaadjie. Voor ons doem ‘n ondeurdringbare oerwoud op. “Hier moet ons deur,” beduie Sylvestra in sy Portugese Engels. Nou raak dit éérs opwindend! ‘n Omgevalle boom versper ons pad, en dié moet eers afgekap word. Tree vir tree sukkel ons deur die woud. Keer op keer val ons vas in die los sand. Dan is dit uitgrawe en stoot! Uiteindelik ‘n oopte, en anderkant dit, die digte, lowergroen strook kuswoud. Dáár moet ons eers deur voordat ons by die strand kan kom!

Wanneer ons deur die laaste honderd meter van die ruie woud is, troon ‘n spierwit sandduin hier voor ons. En as die oorverhitte Landrover oor die duin kreun, snak ek na my asem! Die asemrowende skoonheid van die prentjie wat hier voor my ontvoudit kan maar net DIE PARADYS wees! Ongeskonde, ongerepte, idilliese, wonderskone paradys! Ons is die heel eerste Suid Afrikaners wat óóit hier ons voete op die strand sit. Alles was deur-en-deur die moeite werd! Al die swaarkry en bosse oopkap, die muskiete en krokodille! Die eindbestemming is asemrowend mooi! En boonop is daar nog vis ook! Die teerpad het gelei na ‘n doodgewone vervelige ou kusdorpie. Ons moeilike bospad het uitgeloop op iets onvergeetlik!

In menige huis het daar in my kinderjare ‘n geraamde prent gehang van “De Smalle en De Breede Weg”. In hierdie prent word die wêreldse pad van genot en vermaak voorgestel as ‘n pragtige hoofweg, en aan die ander kant ‘n gevaarlike, nou kronkelpaadjie met verskriklike afgronde wat na die hemel lei. Daar is maar net hier en daar iemand wat op hierdie paadjie loop, teenoor die massas op die hoofweg. Die prent is geteken na aanleiding van Jesus se uitspraak in die Bergpreek (Matt. 7:13-14).

Inderdaad is dit nie ‘n maklike pad om te loop as jy waarlik vir Jesus wil volg nie. Elke mens het ‘n keuse watter pad hy wil volg. Aanvanklik lyk die pad wat Jesus aandui nie te moeilik nie, maar soos wat jy op jou lewenspaadjie vorder, raak dinge al hoe moeiliker. Daar is sekere goed wat jy moet prysgee as jy ernstig is om die pad voluJy kan nou die naweek se Gesinsnuus lees by bit.ly/balnuusit te loop, moontlik ‘n vriendekring wat onverskillig deur die lewe gaan. Gaandeweg sien jy dat sekere dinge wat jy altyd geniet het om te doen, eintlik sonde is, en jy moet dit prysgee. Dalk vra die Here van jou om jou vakansie op te offer om deel te neem aan ‘n sending-uitreik van harde klippe kou. Dalk word jy uitgenooi na ‘n groot gholftoernooi op ‘n Sondagoggend in kerktyd, en jy moet ‘n baie moeilike keuse maak. Dan is daar die kwessie van liefde - dat jy liefde moet uitdeel aan mense wat dit nie waardeer nie. En om die ander wang te draai as daar klappe uitgedeel word……...

As jy voor sulke keuses in jou lewe kom, mag daar net een gedagte in jou kop wees: DIE EINDBESTEMMING! Terwyl ons deur die ondeurdringbare bosse van Mosambiek geworstel het, was daardie paradys wat aan die anderkant vir ons gewink het ons dryfveer. Ons kon egter nooit droom hoe mooi dit werklik was nie! Elkeen wat die moeilike pad van die geloof stap, gaan eendag in verwondering uitroep: “Ek het nooit kon droom hoe wonderlik dit werklik is nie!” Al vandag se swaarkry sal dan deur-en-deur die moeite werd wees.

Gebed:

Here, dit gaan soms baie moeilik om op die regte pad te bly. Herinner my asseblief dikwels aan die eindbestemming en die paradys wat daar op my wag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026