Twee Misdadigers - Een Belofte

13 December, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Misdadigers - Een Belofte

Lukas 23:39-43

VIDEO OUDIO

Woensdag sal die laaste dagstukkie vir die jaar wees en dan begin ons weer DV 3 Januarie.

Regdeur Jesus se bediening sien ons dat die slim manne met ‘n grondige kennis van die Woord, Jesus verwerp het. Dis nie oor hulle kennis dat hulle Hom verwerp het nie, maar omdat hulle verwagting van die Christus iets héél anders was as wat hulle gekry het. Hulle het in die Messias ‘n groot, sterk leier gesoek, maar die Messias wat hulle hier te siene gekry het was ‘n Dienskneg en ‘n Vriend van sondaars! Hulle kon dit nie verwerk nie! Hulle het hééltemal te hoog probeer dink! Dikwels was dit dan ook die eenvoudige mense wat eg kinderlik vir Jesus as Messias herken en geglo het.

Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het al die geleerde manne al spottende daar gestaan. Ek dink dat hulle vir mekaar gesê het “Ja, ek het jou mos gesê! Nou wys hierdie sogenaamde Messias Sy ware kleure! Al Sy wonderwerke was net oëverblindery!”

Weerskante van Jesus het veroordeelde misdadigers gehang. Die een het in sy laaste sterwensuur saam met die geleerde manne gespot: “Toe, Jy is mos die Christus - red Jouself en dan kan Jy ons twee ook sommer red!”

n Mens staan egter stom van verbasing as jy die geweldige insig sien van die ander misdadiger, ‘n man wat swaar gesondig het en besig was om te boet vir sy dade. Hy het egter besef dat dit wat hy gedoen het verkeerd was: “Is jy nie bang vir God nie?” het hy sy mede-veroordeelde berispe. Hy het sy verlorenheid besef en gewéét dat hy op pad was na die ewige verdoemenis. Hy het ruiterlik erken, daar waar hy gehang het dat hy verkeerd was en dat hy sy straf verdien het. Maar dan sien ons sy verstommende insig oor Jesus: “Hierdie Man het niks verkeerds gedoen nie!” Ek dink nie dat hy werklik die omvang van hierdie opmerking ten volle besef het nie, want Jesus was die enigste Mens wat dit óóit kon regkry om totaal sondeloos te lewe. Selfs die mees heiliges onder ons sondig daagliks!

En dan kom sy versoek - een wat waarskynlik die geleerde manne daar onder tot in hulle fondamente geskud het: “Jesus, dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom.”

Hierdie man het gesien hoe sy lewenssappe stadig besig was om te dreineer en die dood besig was om grynslaggend vir hom te wink. Langs hom het Jesus gehang en ook vir Hóm het die poorte van die doderyk reeds wawyd oopgestaan. Tóg het hierdie rower nie die dood, of ten minste Jesus se dood as die einde gesien nie, maar eerder as die poort na ‘n lewe van heerlikheid en heerskappy. Jesus was op pad na Sy Koninkryk! So eenvoudig soos dit!

Maar dit is nie al nie: in sy eenvoud het hy geredeneer dat as (nee, wanneer!) Jesus dan in Sy Koninkryk sou kom, dan sou dit nog steeds nie te laat vir hom, die misdadiger wees nie, want Jesus kan hom mos nog steeds red van die verderf! “Jesus, dink aan my....” was sy versugting, sy enigste hoop.

Jy sal natuurlik onthou dat Paulus later gesê het: “die hoop beskaam nie!” (Rom. 5:5). En ook hier het die arme man se hoop nie beskaam nie, want Jesus se antwoord aan hom was dat hy verseker kon wees daarvan dat hy nog dieselfde dag saam met Jesus in die paradys sou wees. Dit was ‘n boodskap van lewe - PARADYS lewe - wat Jesus vir die man gegee het in die aangesig van die dood!

Ons lewe in ‘n tyd waar baie mense alle hoop verloor het. Die dood is die einde van die pad. Die Sadduseërs, die kerkleiers wat daar by die kruis vir Jesus staan en spot het, het alreeds geglo dat die dood die einde van die pad is en dat daar géén lewe na die dood is nie. Vandag is daar steeds talle skeptiese mense wat so glo. Waarvoor lewe ‘n mens dan as daar geen toekoms is nie? Wat is die doel van alles? Daarom is hierdie wonderlike trooswoorde van Jesus aan die veroordeelde aan die kruis, ook vandag vir my en jou soos die heerlikste reukolie!

En let wel: Jesus het nie vir hom gesê dat hy eendag (in die toekoms) daar sou uitkom nie, maar “vandag”, hier en nou. In Joh 3:36 staan dit baie duidelik: “Wie in die Seun glo, HET die ewige lewe”. ‘n Gelowige het ALREEDS die ewige lewe! Hy sal dit nie eendag in die toekoms eers kry nie, maar het dit reeds gekry op die dag van sy wedergeboorte. Ja, hier is dit nog onvolmaak, maar die oomblik wanneer ons deur die poorte van die dood stap word dit ‘n volmaakte lewe - oombliklik getransformeer. Hoe presies dit gebeur en hoe ons lyk wanneer dit gebeur, weet ons nie. Maar Jesus se beskrywing van ‘n “paradys” skilder alreeds vir ons ‘n prentjie van absolute volmaaktheid, soos die paradys waar Adam en Eva gewoon het. Die verskil is dat die duiwel in hulle paradys ingesluip het, maar die nuwe paradys is sonder die teenwoordigheid van die verleier. O, ek kan nie wag vir daardie dag nie!

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike beloftes wat U vir ons gee, en dat U selfs aan die kruis nie opgehou het om liefde en genade en beloftes uit te deel nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026