Twee Getuies

9 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Getuies

Openbaring 11:1-14

Die groot vraag wat ons vanoggend vra, is of die kerk ooit staande sal kan bly wanneer die groot verdrukking kom? Iemand het die opmerking gemaak dat daar in Amerika geen kerk sal wees binne die volgende paar dekades nie. Oral rondom ons sien ons met groot ontsteltenis hoedat gemeentes krimp en wegkwyn en selfs totaal verdwyn. In die stad Durban alleen het ek die afgelope twee dekades moes toekyk hoedat groot, florerende gemeentes van die NG kerk gesterf het. Een van hulle is Durban Noord NG Gemeente, waar ek as jong man deel was van ‘n lewendige gemeente met ‘n jeugbeweging wat berge kon versit. Die kerkgebou was dikwels te klein om al die lidmate te huisves. Die gemeente het ontbind en die kerkgebou is verkoop. Dit het gebeur terwyl daar ‘n ongekende groei in die omgewing plaasgevind het. Die mense het nie minder geword nie, maar die kerk het nogtans gesterf.

Selfs reuse makrogemeentes met duisende lidmate, is besig om weg te kwyn. Is die kerk besig om uit te sterf? Dit gee my ‘n groot beklemming om die hart.

Maar daar is ook ‘n positiewe - daar is wél gemeentes wat besig is om te groei, en waar daar ‘n baie positiewe gees is. Boonop is daar klein huisgemeentes besig om oral op te skiet. Waar Ballito byvoorbeeld jare gelede slegs 4 kerke gehad het, is daar nou sowat 60 kerke!

In Johannes se visioen kry hy ‘n meetstok van riet gemaak, wat soos ‘n septer lyk. Dit is simbolies van sy koninklike optrede. Hiermee moet hy die tempel en sy mense gaan opmeet. Die tempel is simbool van die kerk van Christus, met ander woorde al God se eiendom en die vrug van Sy verlossingswerk. Die kerk sal bewaar word van vernietiging. Jy merk dat die voorhof nie gemeet word nie. Die voorhof van die tempel was destyds ook toeganklik vir heidene. Die feit dat Johannes dit nie moet opmeet nie, beteken dat ongelowige buitestaanders nie op God se bewaring kan staatmaak nie.

Die twee getuies wat Johannes in sy visioen sien, sinspeel op Moses en Elia. Ons lees in 2 Konings 1:10 en 1 Konings 17:1 dat Elia sy vyand met vuur kon tref en die hemel toesluit sodat dit nie reën nie. En in Eksodus 7 en 8 lees ons weer van die water wat in bloed verander het en die aarde wat met allerhande plae getref is op Moses se opdrag. Die Joodse verwagting was dat Moses en Elia sou terugkeer voor die voleinding van die wêreld.

Die twee getuies verpersoonlik egter die getuienis van die kerk teen die eindtyd, waar die kerk boeteprediking doen - die volke word opgeroep om hulle te bekeer. Net soos wat Moses en Elia groot bonatuurlike tekens gedoen het, sal die kerk ook tekens doen wat God se gesag sal demonstreer gedurende die tyd van vervolging.

Eers wanneer hulle getuienis heeltemal klaar gelewer is, kom die dier uit die onderaardse dieptes op om die goddeloses dood te maak. Moet ons nou aanneem dat die kerk finaal vernietig is? Nee, inderdaad nie! ‘n Parallel word gemaak met die dood en opstanding van Jesus. Die kerk se uiteinde is geborg, en dit moet dien as inspirasie om in die vervolging sterk te staan. Inderdaad wil die bose probeer wys dat die kerk waarlik dood is, deur die lyke van die twee getuies vir drie en ‘n halwe dae in die straat te laat lê sodat die hele (goddelose) wêreld hulle kan verheug in die dood van die kerk.

Maar dan gebeur die wonder, wanneer God na die drie en ‘n halwe dae weer lewe en asem gee aan die kerk, en hulle triomfantlik in ‘n wolk na die hemel opgeneem word terwyl hulle vyande dit sien. Dit herinner nogal aan Esegiël se doodsbeendere in Eseg. 37.

Direk na die groot triomf van die kerk, kom daar ‘n groot aardbewing en duisende mense sterf ‘n aaklige dood, wanneer ‘n deel van die stad inmekaar stort. Weereens is dit God se genade wat hieruit skyn, want 90% van die mense oorleef om nógeens ‘n kans te kry. Die oomblik is so groot en skrikwekkend dat die oorlewendes besef dat die dinge deur God se toedoen is, en “aan God die eer gee”, met ander woorde dat hulle tot bekering kom.

Ja, dikwels moet God ‘n mens eers baie hard ruk voordat jy tot jou sinne kom en jou tot God wend. Hoeveel keer gebeur dit nie dat ‘n misdadiger eers die verskrikking van die tronk moet ervaar voordat hy tot bekering kom, of dat jou geliefdes eers op ‘n wrede manier van jou weggeneem word voordat jy jou tot God wend?

As jy dalk hierdie dagstukkie lees, en jy het nog nie by Jesus uitgekom nie, dan wil ek jou vandag smeek om Sy geskenk van die ewige lewe te aanvaar, voordat jy dalk geskud word om tot jou sinne te kom. Of dalk baie erger, dat jy moontlik later nóóit weer die kans sal kry om die ewige lewe te kan sien nie. Die besluit is joune alleen!

Gebed:

Dankie Here, dat ek vanoggend kan weet dat U sélf U kerk in stand hou, en al lyk die prentjie vir ons soms so duister, kan ek ook weet dat U in beheer is en dat U betyds sal ingryp.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026