Twee Dramas

12 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Dramas

Lukas 8:40-56

Skaars is Jesus en die manne saam met Hom terug van Gadara af, of ‘n groot skare mense drom alweer om Hom saam. Lukas vertel dat die mense Jesus verwelkom het, en dat hulle vir Hom gewag het om terug te kom. En dan speel daar twee dramas af wat inmekaar geweef is. Twee wonderwerke speel af, en hulle skep 'n spannende en baie dramatiese toneel.

Die verhaal begin waar ons vir Jaïrus sien aangehardloop kom en voor Jesus se voete neerval. Jaïrus was een van die kerkleiers, ‘n raadslid van die sinagoge, en een van slegs enkele geestelike leiers wat goedgesind was teenoor Jesus. Jaïrus se nood is baie groot, want sy dogter lê op sterwe, en hy smeek Jesus om saam met hom te kom.

Dadelik stem Jesus in, en hy gaan saam met die bekommerde man. Oppad na die man se huis word die verhaal egter skielik wreed onderbreek tot almal se ontsteltenis, wanneer Jesus gaan stil staan en omdraai. “Wie het aan My geraak?” wil Hy weet.

As leser van die verhaal wil ek en jy vir Jesus sê: “Here, daar is nie nou tyd om te wil weet wie aan U geraak het nie, die meisiekind is besig om dood te gaan!” Petrus raak sélf ongeduldig met Jesus wat nou nie Sy loop kan kry nie. Daar is ‘n reuse skare mense wat hulle die hele tyd verdruk: almal stamp en stoot, en Jesus het sélf ook talle mense wat teen Hom stamp. Wat is dan nou verkeerd met sy Meester?

Agter Jesus krimp ‘n vrou ineen van vrees. Sy sit met ‘n geweldige groot nood: Sy ly aan ‘n volgehoue menstruele vloeiing, iets wat in vandag se terme alreeds ‘n baie ongemaklike situasie is. Wat dit egter vir haar vererger, is die feit dat sy volgens die Joodse kultus permanent onrein is, en dus met niemand direk in aanraking mag kom nie. Vir twaalf jaar al leef sy in hierdie onhoudbare situasie, en sy kan dit net nie meer verduur nie, Jesus is haar laaste en enigste hoop. Volgens Joodse wette, soos dit in Lev. 15:19-30 duidelik beskryf word, durf sy nie aan Jesus raak nie, want dan sou dit Hom sélf vir sewe dae lank onrein maak. Dus raak sy net aan die verste punt van Sy klere se soom. Petrus por vir Jesus aan om asseblieftog voort te gaan na Jaïrus se huis. Maar Jesus bly staan: Hy wil weet wie dit is wat aan Sy klere geraak het.

Die spanning bou op, want die tyd loop uit vir die sterwende dogtertjie. Maar vir Jesus is die drama wat hier afspeel belangrik. As die vrou besef dat Jesus weet dat dit sy was, kom val sy bewend van angs voor Hom neer en erken haar daad. Sy vertel van haar verskriklike dilemma, en die wonderlikste is dat sy gevoel het hoedat haar liggaam genees is die oomblik toe sy aan Jesus raak.

Liefdevol spreek Jesus haar aan as “dogter”, en dan is die twaalf jaar waarin sy deur die ganse samelewing verwerp en verstoot is skielik verby. Sy weet dat sy vir die eerste keer in jare nou weer deel van die volk en van haar eie familie is. Jesus weier om Sy verlossingswerk te laat beperk deur enige sosiale of politieke grense!

Nou keer die verhaal weer terug na Jaïrus se twaalfjarige dogter. Van die huis af kom die berig dat dit te laat is: sy het reeds gesterf. “Here, hoe kón U?” wil ons vra. “Die vrou kon mos maar ‘n bietjie gewag het?” Menslik gesproke is enige verdere optrede van Jesus sinneloos. Maar Jesus troos vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” Skokkende woorde! “Maar sy is dan dood Here!” wil ons vir Jesus sê. “Here, moet asseblieftog nie die man se lyding nóg erger maak nie!”

Die vrou wie se verskriklike siekte eensklaps genees is, se geloof is wonderbaarlik beloon! Sal Jaïrus se geloof óók so beloon kan word?

By Jaïrus se huis wag daar ‘n troostelose prentjie van mense wat kermend huil oor ‘n kind wat gesterf het. Hulle verwag van Jesus niks verder nie, want alle hoop is verby! Dit is verstaanbaar dat hulle so reageer. En as Jesus vir hulle sê dat die kind net slaap, dan lag hulle Hom uit. Hulle het immers sélf gesien dat sy dood is, en dit is finaal! Jesus se eenvoudige reaksie is om bloot die meisie se hand te vat en haar te beveel om op te staan. Haar ouers kan hulle oë nie glo as sy onmiddellik reageer nie. Dit word net weereens beklemtoon dat Jesus alle mag het, selfs oor die dood!

Inderdaad weet ons vandag dat die dood vir ‘n gelowige gladnie meer finaal is nie. Jesus het nie alleen gewys dat Hy heerser oor die dood is met hierdie kind se genesing nie, maar enkele jare later het Hy die dood finaal oorwin, toe Hy die volle prys van verlossing betaal het aan die kruis, en weer opgestaan het uit die dood. Ek en jy het ook deel hieraan, as ons slegs glo in Hom. Jesus se woorde aan Jaïrus: “Glo net en sy sal gered word,” kry later soveel groter betekenis wanneer Paulus in Hand. 16:31 sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word,” of as Johannes in Joh. 3:16 skryf: “Die wat in Hom glo .... sal die ewige lewe hê”.

Die vraag is: glo jy?

Gebed:

Here, dankie dat U my ook gered het, en dat die dood nou geen houvas meer op my het nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026