Lukas 6:12-19
Gebed is ‘n baie belangrike deel van enige gelowige se lewe, veral as hy ernstig is oor sy geloof. Prakties sien ons in Jesus se lewe op aarde hoedat Hy ook hierdie stelling uitgeleef het. As dit vir Hom belangrik was, hoeveel te meer nie vir jou en my nie! Telkemale sien ons dat Jesus lang tye in gebed deurgebring het, veral voor groot gebeurtenisse. Ons is so geneig om groot besluite vooraf te gaan met ‘n ou skietgebedjie. Kom ons kyk ‘n bietjie wat Jesus gedoen het.
Jesus se volgelinge het groot aangegroei en reuse skares het Hom elke dag gevolg. Alles het begin toe Jesus daardie drie vissermanne by hulle skuite gekry het, en hulle gevra het om saam te kom met die belofte dat hulle vissers van mense sou word. Van daardie dag af het die gevolg net al groter geword.
Nou het die tyd aangebreek dat daar ‘n paar spesiale manne aangewys moes word om intensiewe opleiding te kry. Hulle moes leiding neem, veral nadat Jesus se taak afgehandel was. Daar sou dus later ‘n reuse taak op hulle skouers lê. Vir Jesus was dit tweede natuur om eers te gaan bid oor die groot besluit van die regte keuse van manne. Lukas vertel dat Hy die hele nag in gebed deurgebring het. Hy het die eensaamheid van ‘n berg uitgesoek en met God geworstel oor daardie belangrike besluit.
Deurnag gebedsgeleenthede is dikwels heilige oomblikke, en elkeen wat al aan so ‘n geleentheid deelgeneem het, kan alleen getuig van die heerlike geestelike verkwikking wat dit bring. Om op so ‘n ernstige wyse te bid, verheerlik jy nie alleen die Here nie, maar jy word gevoed met geestelike krag waaraan daar géén einde is nie. Elke groot besluit in jou lewe hoef nou nie juis voorafgegaan te word met ‘n deurnagsessie nie, maar jy moet veral wanneer groot besluite op hande is tyd maak om met die Here deur te bring en Hom te vra vir wysheid. Moenie toelaat dat jou besige program in jou pad staan om die Here se aangesig op te soek nie. Ek het eenmaal iemand hoor sê dat hy gans te besig is om NIE te bid nie. As dit die geval is, dan moet jy eintlik baie meer tyd aan gebed spandeer as dinge onmoontlik besig begin raak. Dit mag dalk van jou “kosbare” tyd opneem, maar die resultaat is astronomies!
Toe die dag breek, kom Jesus van die berg af en daar kry Hy sy klomp volgelinge. Twaalf van hulle kies Hy uit om “Apostels” te word. Die Griekse woord Apostolous is afgelei van die werkwoord wat beteken “om met opdrag uit te stuur”. Ons kan hulle dus gevolmagtigde afgevaardigdes noem.
Vandag het ons ook “gewone” gelowiges en gelowiges met ‘n spesifieke opdrag. Dit beteken nie dat die een belangriker as die ander is, of dat die een ‘n groter werk moet doen in die Koninkryk as die ander nie. In die geval van die apostels was hulle die manne wat verantwoordelik sou wees om leiding te neem, mense te leer wat Jesus húlle geleer het, en die kerk te organiseer. Die “gewone” gelowiges was die mense wat later verantwoordelik was om die Woord uit te dra en die Evangelie deur die hele wêreld te versprei. Dit is ook my en jou taak vandag om ons dankbaarheid só uit te leef, nie alleen met wat ons vir ander sê nie, maar deur ons ganse lewe, sodat daar ‘n honger sal ontstaan vir die Evangelie by almal met wie ons in aanraking kom.
Op die vlakte het daar ‘n groot skare mense vir Jesus gewag. Nie alleen was daar Jode nie, maar Lukas noem ook dat daar mense was uit die kusgebied van Tirus en Sidon, ‘n nie-Joodse landstreek. Jesus se eerste taak was om Sy bediening toe te spits op Israel omdat hulle uiteraard die volk van God was. Daarom was die uitkies van die twaalf manne ook sterk simbolies van die herstel van die twaalf stamme van Israel. God se genade is egter ook vir almal daar buite, selfs ook die heidene. Mense het van heinde en verre gekom met hulle siekes vir genesing. Jesus het hulle nie teleurgestel nie maar nou het daar ‘n nuwe dimensie in Sy bediening aangebreek, naamlik om mense te leer. Eintlik was dit hoofsaaklik gerig op die twaalf manne, maar elkeen wat teenwoordig was kon ook luister na hierdie wonderlike preke van Jesus.
Die sogenaamde “Bergpreek” waarna ons DV. môre gaan kyk, het hierna gevolg, en die mense het behoorlik aan Jesus se lippe gehang. Selfs vandag, 2000 jaar later, is hierdie preek steeds vars en nuut, en kan elkeen van ons dit maar oor en oor gaan lees, want elke keer as jy dit lees sien jy iets nuut daarin raak. Ek nooi jou dus uit om saam met my Jesus se preek ons eie te maak, en nie alleen deur dit te lees nie, maar dit ons lewenswyse te maak.
Gebed:
Here, dankie vir die wete dat U my uitgekies het om ‘n gelowige in U Koninkryk te wees. Leer my om my Christenskap op elke terrein uit te leef!