Troos In Swaar Tye

6 July, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Troos In Swaar Tye

Romeine 8:18-30

Die tye waarin ons leef, plaas ‘n beklemming om jou hart. Dink maar aan die misdaadsituasie in Suid-Afrika, en dan mag jy nie die res van die wêreld weggooi nie, want in baie ander lande gaan dit maar nét so erg, of dalk nog baie erger. Ons wil wanhopig uitroep: “Waar gaan dit eindig?” Dit voel asof die owerhede magteloos staan, of selfs dat hulle lustig meewerk om die situasie te vererger. Kan dit werklik erger? Daar byna meer veroordeelde misdadigers in die polisie is as dienaars met ‘n skoon rekord! As gelowiges sug ons swaar elke keer wanneer ons nuus kyk, want dag-vir-dag hoor ons van hoë amptenare, politieke leiers selfs ministers wat in korrupsie en bedrog gedompel is. ‘n Donker prentjie? Maar dit word erger!

Finansieel het ons land goeie tye beleef, ten spyte van die feit dat daar miljoene mense in die haglikste omstandighede in plakkershutte moes leef. En toe begin die wiel draai, en ons begin swaarkry. Brandstofpryse skiet maandeliks die hoogte in, en die gevolg is dat voedselpryse ook deur die dak skiet. Ongelukkig kan die boere nie daaroor glimlag nie, want hulle insetkostes raak so hoog dat hulle nie meer kan oorleef nie. Ons word swaar getref, maar die arm mense kry nog swaarder, want daar is net eenvoudig nie geld vir die duur kos nie. Baie mense raak in ‘n ondraaglike skuldlas en armoede gedompel.

Al hierdie dinge bring ‘n verskriklike beklemming om jou hart. Maar steeds is dit nie die einde nie: die doemprofete het ‘n paar jaar gelede gewaarsku oor aardverwarming, en hulle is uitgelag. Nou is dit ‘n werklikheid - ‘n skrikwekkende werklikheid wat ons aan ons basse voel. Knellende droogtes aan die een kant en aan die ander kant die verskriklikste vloede wat ons teister. Tsunami’s, oorstromings, aardbewings, vulkaan uitbarstings soos wat die geskiedenis nooit geken het nie, tref lande regoor die wêreld en eis baie duisende lewens en laat miljoene in die grootste ellende.

Feitlik weekliks word plakkerskampe oorstroom wat duisende brandarm mense dakloos laat, dikwels in bittere koue. Intussen kyk ons met afgryse toe hoedat die pole besig is om teen ‘n duiselingwekkende vaart te smelt. Reuse ysmassas breek op en gletsers verdwyn. Die skepping sug!

Vir baie gelowiges is dit baie moeilik om in sulke harde en onseker omstandighede vrede met God te beleef. Hoe kan die God van liefde jou dan so verskriklik swaar laat kry? Paulus wil ons as gelowiges in hierdie Skrifgedeelte oortuig dat swaarkry nie jou vrede met God hoef te benadeel nie, maar dit eerder versterk.

As ons die boek Openbaring lees, sien ons immers dat hierdie dinge - aardbewings, hongersnood, afvalligheid, alles tekens is dat die einde besig is om baie vinnig nader te kom. Dit is ook so dat lyding deel is van ‘n gelowige se lewe, maar dat die heerlikheid wat daarmee saamgaan net sóveel groter is. As gelowige kan jy daarvan seker wees dat die verheerliking nie sal uitbly nie!

Daar is egter ook ‘n ander troos wat Paulus ons gee: dat die heerlikheid wat wag, soveel oorvloediger sal wees as die lyding wat jy nou hier moet deurmaak, en dat jy eendag vanuit die heerlikheid na jou huidige swaarkry sal terugkyk. Dan sal jy daaroor kan lag en sê: “Aag, dit was sommer niks!”

Maar terug by die swaarkry wat jy op hierdie oomblik beleef: dit laat jou dikwels baie swaar sug, veral as jy daaraan moet dink dat jou omstandighede as God se kind eintlik soveel heerliker kon gewees het. Die wonderlike troos is dat jy nie alléén sug nie. Die skepping, jou medegelowiges, die Heilige Gees sug saam met jou! Waak daarteen dat jy nie so versrengel raak in jou eie swaarkry, dat jy nie die dikwels baie groter swaarkry van ander raaksien nie. Hulle het jou medelye, meelewing en gebede bitter nodig.

Daar gaan ‘n universele sug op vanuit die gelowiges sowel as die skepping, maar dit beklemtoon nie alleen die vernietigende invloed van sonde nie, maar ook die lewende verwagting op grond van die oorwinning van Christus, wanneer Hy ál die gelowiges van die gebrokenheid van sterflikheid en swaarkry sal bevry. Die feit dat so ‘n groot skare jou verwagting met jou deel, dien as ‘n versterking van jou geloof. God hoor die sug en Hy verhoor dit. Die Heilige Gees bring jou sugte na die Vader toe en pleit vir jou by God. Weet dus verseker: God weet wat besig is om met jou te gebeur, en daarom moet jy Hom vertrou. Hy het iets groot in beplanning vir jou! Hierdie swaarkry is deel van ‘n groot plan, al kan jy nie nou die nut daarvan insien nie. Die grootste ding wat egter wag, en waarvan ons doodseker is, is die groot dag van ons verheerliking, en daarna sien ek met groot opgewondenheid uit.

Gebed:

Here, ek kan nie wág vir die wonderlike dag van verheerliking nie! Hou intussen asseblief my hand styf vas en troos my met U wonderlike Woord in die verskriklike swaarkry wat ek en my medegelowiges tans beleef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026