Filippense 3:1-9
Die Bybel is asemrowend! Jy kan 'n paar dae agtermekaar presies dieselfde gedeelte lees, en elke keer kry jy 'n totaal ander boodskap! Maar dis omdat dit 'n Lewende Woord is en die Heilige Gees met jou daardeur praat. Oorspronkilik is die Bybel geskryf deur doodgewone mense, vissermanne en plaasboere. As ons egter gewillig is om ons geestesoë oop te maak vir die Gees, dan lees ons daarin ‘n boodskap wat Hy vir ons wil gee. In kort, dieselfde Skrifgedeelte as gister gee vir ons deur 'n ander bril vandag ‘n totale ander boodskap.
Vanoggend se onderwerp mag 'n paar mense dalk ongemaklik laat voel. Dit gaan oor tradisies wat al só ingewortel is, dat dit eintlik ‘n integrale deel van jou geloof geword het. Dikwels lê die oorsprong van hierdie tradisies juis in die Bybel, maar ons verstaan nie die agtergrond waarteen dit oorspronklik geskryf is nie. Gevolglik heg ons 'n verkeerde interpretasie daaraan.
Dikwels neem ons iets wat simbolies bedoel is letterlik op. ‘n Voorbeeld hiervan is dat die Woord sê dat die wet op jou voorkop gedra moet word. Dit beteken letterlik dat jy altyd daaraan moet dink. Sommige ortodokse Jode maak egter ‘n afskrif van die Wet en bind dit in ‘n houertjie om die voorkop vas. Lagwekkend! Maar ons doen dikwels dieselfde!
In die NG Kerk was dit vir baie jare tradisie dat ‘n vrou nie in die kerk durf instap as sy nie ‘n hoed opgehad het nie. Hierdie tradisie is dikwels skreeusnaaks nagevolg, met die mees absurde skeppings wat die uitsig van die arme persoon agter belemmer het. Waarom? Paulus het gesê dat ‘n vrou se hoof bedek moet word. Die eenvoudige rede was dat al die vrouens destyds so geklee was, en dat as Christenvroue anders sou aantrek, hulle die sosiale gebruike sou omvergooi, en ongelukkigheid veroorsaak, en dit wou hy voorkom.
Ons kom nie daarby verby, dat uiterlike dinge in jou Godsdiens ‘n baie belangrike rol speel nie. Solank hierdie dinge gebeur, is jy dolgelukkig en ervaar jy groot geloofsvreugde. Wanneer hierdie dinge egter ophou, dan heers daar ontsteltenis. Dikwels gebeur dit dat jou geloofsekerheid juis aan hierdie uiterlike dinge gekoppel word, en wanneer hulle die dag verdwyn, begin jou geloof ernstig te wankel. Ek dink byvoorbeeld hoe baie mense se geloof gewankel het die dag toe die eerste vrou sonder haar hoed op die kerk binnegestap het. Die feit is dat dit baie gevaarlik is om jou geloof aan uiterlike dinge of handelinge te koppel.
Paulus het juis so ‘n groot probleem opgetel in die nuutgestigte gemeentes. Die Joodse gelowiges wou steeds bly vasklou aan die tradisie van die besnydenis, wat vir hulle die teken was van die verbond wat God met Abraham gesluit het. Hulle wou hê dat die ander gelowiges ook aan daardie tradisie gehoorsaam moes wees, en dat dit ‘n voorwaarde vir ware geloof sou wees. Daarmee saam het natuurlik ook baie van die ander ou rituele wette gegaan. Vandag is daar steeds kerke wat al hierdie tradisies slaafs navolg. Ons sien dit veral in die Afrika kultuur. In vers 2 sê Paulus dat dit betekenisloos of vals is. “Betekenislose besnydenis” kan ook vertaal word met “verminking” of “totale afsnyding.” Dit sou beteken dat hierdie besnydenis totaal uit verband geruk word, en daar baie meer as net die voorhuid afgesny word.
Paulus gaan voort deur te sê dat hy ook op ‘n tyd ál die tradisies getrou onderhou het, maar dat dit nou vir hom totaal waardeloos, selfs verwerplik is. Daar is net één ding in sy lewe wat waarlik waarde het: “want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”
Dit het tyd geword dat ons ‘n bietjie gaan herbesin oor ons godsdienstige tradisies. ‘n Mens kan byvoorbeeld hééltemal te veel klem laat val op jou eie Godsdienstige pogings, en begin vergeet van jou persoonlike vertrouensverhouding met God. Dit gaan nie in die eerste plek dat ek nie rook of drink nie en nie grimering gebruik nie, of wát ookal ek as belangrik ag. Dit gaan egter oor ‘n hartsgesindheid vir God. Dít is wat belangrik is! Nee, dit is nie verkeerd om ‘n skoon en rein lewe te leef nie, dit is prysenswaardig! Ons durf ook nie ander gelowiges wat so probeer leef veroordeel nie. Ons moet egter besef dat al hierdie dinge totaal waardeloos is as jy jou nie op Jesus Christus beroem nie.
Ons moet besef dat alles, absoluut álles slegs suiwer genade is, en dat my héél beste pogings ‘n mors van tyd is. As ons die dag hierdie gedagte begin begryp, kan ons begin om as vrygekoopte gelowiges te lewe tot eer van God. Dan sal die dinge wat ons uiterlik doen nie meer wees om ‘n beter plekkie in die hemel te koop of om God te probeer beïndruk nie, maar suiwer uit dankbaarheid vir Sy genade.
Gebed:
Here, help my asseblief om my uiterlike geloofshandelinge in perspektief en in die regte lig te sien.