Toewyding

17 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Toewyding

Nehemia 13:1-14

VIDEO | OUDIO

Jy sal onthou dat Nehemia deur koning Artasasta, koning van Persië na Jerusalem gestuur was om as administrateur diens te doen nadat Nehemia verneem het van die verval van die stad. Hy was daar vir twaalf jaar voordat hy teruggekeer het na Babel.

Nadat hy ‘n tyd lank in Babel was, besluit hy dat hy wou sien hoe dinge vorder in Jerusalem, en hy vra toestemming by die koning om ‘n besoek te bring aan die stad. Met sy aankoms in Jerusalem, sien Nehemia sommer dadelik dat dinge lelik skeefgeloop het, en dat ál Esra se goeie werk in die tempel ongedaan gemaak was!

Jy sal ook onthou dat ons genoem het van Eljasib, die hoëpriester en dat sy kleinseun met ‘n dogter van hulle groot vyand, Sanballat getroud was. Sanballat was natuurlik kop in een mus met die Ammoniet Tobija. So het dit gebeur dat Eljasib die ongehoorde ding gedoen het en vir Tobija ‘n vertrek in die tempelkompleks gegee het. Ons weet natuurlik dat Ammoniete nie eers in die tempel toegelaat was nie! Dit was ‘n gruwelike skending van die Judeërs se vroeëre onderneming. Hulle het totaal afgedwaal van die handhawing van hulle godsdienssuiwerheid!

Ons kan die vraag vra, hoe diep die groot entoesiasme van die godsdienstige leiers waarvan ons gelees het, dan was? Was dit net veldiep? En as dit die leiers se sentiment was, wat was die situasie dan met die gewone mense? Jy sien gewoonlik dat wanneer daar verval is by die leiers, dan spoel dit oor na die gewone mense! Ek hoef nie hieroor uit te brei nie!

Ons sien dan ook dat dit nie slegs godsdiensreëls was wat oortree was nie, maar dat veral mense soos die Leviete en sangers geraak was deur Eljasib se korrupsie, en dat hulle nie meer die rantsoene gekry het wat moes vergoed vir hulle dienste nie. Die gevolg was dat hulle genoodsaak was om hulle dienste te staak en terug te keer na hulle grond om daar ‘n bestaan te maak. En natúúrlik het die hele tempeldiens hieronder gely omdat daar nie meer sangers was nie en die tempeldiens verwaarloos was sonder Leviete om die werk te doen!

Wanneer jou godsdienstige aksies nie waarlik uit die hart kom, en ‘n persoonlike oortuiging is nie, sal dit die een of ander tyd skipbreuk ly! Dis ‘n eeue-oue probleem dat mense toestem om iets mooi te doen sonder dat hulle werklik uit die hart oortuig is. Later, wanneer die situasie verander, vergeet hulle gerieflik van die onderneming! Om God te dien bloot omdat dit van jou verwag word, is suiwer ‘n lewensmetodiek. Die ware dien van God kom diep uit die hart.

Nehemia was verplig om drastiese stappe te neem. Tobija se goed is alles uit die tempelvertrek wat hy beset het uitgesmyt sodat daar weer plek was vir die tempeltoerusting wat oorspronklik daar geberg was. Hy het die persone wat verantwoordelik was vir die bestuur van die tempel hard oor die vingers getik oor hulle nalatigheid. “Waarom word die huis van God verwaarloos?” het hy hulle ontsteld gevra.

Hy het egter nie gaan sit en tob oor die skade wat aangerig was nie, maar hy het proaktief opgetree. Die eerste stap was om weer al die mense wat in diens van die tempel was te laat haal sodat hulle weer hulle taak kon uitvoer en die tempeldiens herstel. So ‘n tempeldiens kon egter nie geskied sonder die nodige voorraad nie, dus word die volk versoek om by te dra. Deur die hele Juda was daar tiendes ingesamel van koring, wyn en olie sodat die tempel weer behoorlik kon funksioneer.

Die volgende stap was om persone aan te stel om die tempeldiens te bestuur en toe te sien dat daar deurentyd genoeg voorrade was asook dat die Leviete en sangers hulle regmatige toelaes sou kry.

Ons kan baie leer uit die lewe van Nehemia. Sy toewyding aan die Here was werklik noemenswaardig. Toe hy verneem het van die verval van Jerusalem, het hy sy rustige en waarskynlik gemaklike lewe in die paleis laat vaar om vir twaalf jaar lank onder moeilike omstandighede Jerusalem te herbou. Selfs nadat hy weer terug is na Babel, het hy steeds nie ophou omgee nie. Hy het weereens ‘n baie lang en moeisame reis onderneem om seker te maak dat alles steeds glad verloop in Jerusalem.

Deurentyd sien ons boonop dat hy sy vertroue keer op keer slegs in die Here gestel het. Vir alles wat hy gedoen het, vra hy telkens eers God se goedkeuring. ‘n Toegewyde lewe voor God is die enigste manier waarop hervorming waarlik gaan bly staan. Ons sien nie in Nehemia die sterk man wat alles regmaak wat verkeerd is nie. Hy is totaal afhanklik van God en hy doen slegs wat die Here van hom vra. Die Here vra ook van ons totale afhanklikheid van Hom!

Gebed:

Here, ek skiet ver tekort as leier, en ek volg dikwels my eie kop sonder om eers U wil te soek. Help my asseblief om toegewyd te wees in alles wat ek vir U doen, in totale afhanklikheid van U alleen!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026